Terugslag vir verdraagsaamheid
Nederland is wêreldwyd bekend as ’n land van verdraagsaamheid. Hierdie beeld het egter die afgelope week in aanloop tot die Gay Pride-week ’n terugslag beleef toe die 14-jarige Frédérique in die spogstadsgebied van Amstelveen deur vyf minderjarige seuns van tussen 11 en 15 jaar aangeval is. Frédérique was saam met vriendinne in ’n parkie toe een van die seuns haar vra of sy ’n seun of ’n meisie is. Frédérique het toe geantwoord: “Het maakt toch niet uit. Ik ben wie ik ben, en jij mag zijn wie je wil zijn.” Die seun was kennelik nie tevrede met die antwoord nie, waarna hy en van sy makkers Frédérique verskeie kere in die gesig geslaan het. Volgens Frédérique se pa, Paul Brink, het sy ’n gebreekte neus en kneusplekke aan haar kaak opgedoen. Sommige van haar tande is uitgeslaan en sy het ernstige beserings aan haar gesig opgedoen.
Brink sê hy is ongelooflik trots op Frédérique omdat sy wil wees wie sy is. “Jongen of meisje, hetero, gay of biseksueel, het maakt haar (en ons allemaal) niet uit.” Brink het aan die nuusdiens NH Nieuws gesê: “Mijn kind Frédérique is niet transgender, maar zegt gewoon dat ze is wie ze is.”
Die NOS berig dat die aanvaller ’n dag ná die voorval in hegtenis geneem is. Sy aanhouding is ná sy hofverskyning met nog twee weke verleng.
Aandag vir gayregte wêreldwyd
Intussen het ’n gedempte Pride-week in Amsterdam afgeskop (sien ook foto bo). Soos verlede jaar sal daar weens die COVID-19-pandemie vanjaar ook geen vlotte op die Prinsengracht wees nie. Daar word egter ander geleenthede gereël om die aandag op gayregte te vestig.
’n Sentrale tema vanjaar is die Zero Flags-projek, waar die aandag gevestig word op 71 lande waar homoseksualiteit nog ’n kriminele oortreding is. Hiervoor word die vlae van die lande vanjaar in die middestad van Amsterdam – van die Munttoring tot op Damrak langs die straat – gehys met inligting oor die betrokke land en die straf vir homoseksualiteit.
Afgelope Sondag is die onderwerp ook tydens kerkdienste, waaronder die Oude Kerk in Amsterdam, belig.
Waterskade in België beloop miljarde
VRT NWS berig dat die dodetal in die watersnoodramp in België tot minstens 41 gestyg het. Die Waalse premier, Elio Di Rupo, het tydens ’n nuuskonferensie gesê ’n spesiale kommissariaat is op die been gebring om die skade te bepaal. Die presiese omvang is nog nie bekend nie, maar sal volgens Di Rupo “erg veel geld” wees. Die Waalse regering het minstens €2 miljard opsygesit om die skade te herstel. Di Rupo het bekend gemaak dat verskeie munisipaliteite binne die volgende weke geldelike steun sal ontvang om die noodsaaklikste probleme te verlig.
Intussen berig VRT NWS ook dat die Belgiese Rooi Kruis minstens €30 miljoen ingesamel het vir slagoffers van die oorstromings in België. “Dat hebben we nog nooit gezien,” sê die uitvoerende hoof van die Rooi Kruis in Vlaandere, Philippe Vandekerckhove. Hy sê die bedrag is veel hoër as tydens die tsoenami in 2004, toe die Rooi Kruis maar €4 miljoen kon insamel. Met die omvang van die ramp en gebrekkige koördinasie met die regering was hulpverlening aanvanklik traag om aan die gang te kom, maar volgens Vandekerckhove verloop sake beter met duisende vrywilligers wat gereedstaan om te help. Die Rooi Kruis het mense intussen afgeraai om nog goedere af te lewer, maar sê nog vrywilligers en donasies is altyd welkom.
Intussen het die bergafval in Luik ná die ramp al groter word. Meer as 100 000 ton afval van onder meer stukkende meubels en elektroniese toerusting is weggevoer. Dit sal na verwagting nog maande duur om al die afval te verwerk. Totdat dit gebeur, word al die afval in ’n nywerheidsgebied in Wandre naby Luik gestort.
Prinses Elisabeth is klaar met haar militêre opleiding
Prinses Elisabeth se opleiding die afgelope jaar in sosiale en militêre wetenskappe aan die Koninklike Militêre Skool het pas tot ’n einde gekom. Die kroonprinses moes vir haar laaste opdrag ’n driedaagse opleidingsessie in Marche-les-Dame voltooi. Dit is ook die plek waar koning Alberg I, ’n oupagrootjie van Elisabeth, dood aangetref is onder ’n rots in die gebied. Die oorsaak van sy dood is nooit vasgestel nie, berig De Morgen.
🇧🇪 Prinses Elisabeth (19) heeft haar één jaar durende opleiding aan de Koninklijke Militaire School deze week afgerond. Van maandag tot en met woensdag deed ze mee aan een driedaagse stage in Marche-les-Dames. Ze zwaaide af als een van de primussen van haar lichting. pic.twitter.com/zxdLevr0JA
— [Wim Dehandschutter] (@WDehandschutter) July 30, 2021
Versigtig met versoepeling
Die Nederlandse regering het ná die rampspoedige versoepelinge ’n paar weke gelede besluit om voortaan ’n meer omsigtige benadering te volg. Kort nadat die Nederlandse demissionêre minister van volksgesondheid, Hugo de Jonge, op 23 Julie sy nou bekende woorde “dansen met Janssen” uitgespreek het, het die besmettingsyfers in Nederland die hoogte ingeskiet. De Jonge het met sy uitspraak nie in ag geneem dat ’n mens selfs met die Janssen-entstof, waarvan ’n mens slegs een toediening nodig het, minstens twee weke moet wag totdat die entstof volledig sy werk doen nie. Nadat talle jongmense siek geword het en selfs in die hospitaal beland het, moes die kabinet opnuut ingryp en is alle meerdaagse groot byeenkomste verbied. Dit het wel gewerk, maar met die jongste aankondiging was die kabinet glad nie so toegeeflik soos die vorige keer nie. NOS berig klein eendaagse feeste mag wel voortaan gehou word, maar daar mag nie meer as 750 besoekers sonder ’n vaste sitplek wees nie. Die feeste moet buite gehou word of in ’n tent wat aan alle kante oop is. Alle besoekers moet ingeënt wees of ’n negatiewe toets toon wat nie ouer as 24 uur is nie. Besoekers wat die afgelope ses maande COVID-19 gehad het, word ook toegelaat.
- Fotografie en teks: Milton Webber