Vergelegen: ’n skat van erfenis, natuurskoon en wêreldgehalte-wyn

  • 0
“Vergelegen spog met ’n geskiedenis wat oor meer as 300 jaar strek
en dateer terug tot 1685 toe dit as ’n militêre buitepos gestig is en toe in
Februarie 1700 aan die goewerneur van die Kaap, Willem Adriaan
van der Stel, toegewys ​​is.”

Lang uitgestrekte grasperke, hemelhoë bome met blare wat saggies ritsel in die briesie, eekhorings wat rats van die een boom na die ander spring, insekte wat zoem-zoem en die reuk van die eerste September-bloeisels. Dis ’n salige, luilekker somersmiddag – die tipe hitte wat saggies jou vel streel. Die lowergroen gras is sag onder ’n mens se voete en daarom kan jy nie anders as om skelm jou skoene uit te skop, die koel gras onder jou voete te voel, en net eenvoudig die oomblik in te neem nie.

Die herehuis oftewel “boerehuis”

Die historiese Vergelegen-landgoed in Somerset-Wes, sowat ’n uur se ry vanaf Kaapstad, is ’n sprokiesagtige landskap en dit is maklik om vir ure en ure in die indrukwekkende tuine rond te dwaal. Vergelegen is ’n gewilde bestemming vir besoekers, en volgens die landgoed se webtuiste verwelkom hul jaarliks gemiddeld 100 000 besoekers, van wie sowat die helfte buitelanders is.

Die Stables-bistro en die wynproelokaal

’n Deel van die kruietuin

Vergelegen is bekend vir sy indrukwekkende tuine

Vergelegen is ryk aan geskiedenis en weerspieël ’n outentieke uitbeelding van Kaapse kultuurerfenis. Bekend vir hul bekroonde wyn, en natuurlik die uitgebreide tuine, is die landgoed veral nou, in die warmer maande, heerlik om te besoek.

Dié gesogte landgoed haal ook gereeld die nuus, en onlangs was dit weer die geval toe Vergelegen benoem is as die topwynlandgoed in Afrika. Vergelegen het ook die 34ste plek op die lys van top 50 wynplase wêreldwyd behaal. Dít is volgens die World’s Best Vineyards-kompetisie, waar ’n globale paneel beoordelaars sowat 1 500 wynplase van 17 lande ontleed het.

Oral pryk interessante bome wat sorg vir die mooiste prentjie

In ’n vroeër onderhoud met LitNet sê Don Tooth, besturende direkteur van Vergelegen, dat hulle verheug is oor dié toekenning.

Op pad na die herehuis

“Die Vergelegen-span is daartoe verbind om Suid-Afrika se reputasie as ’n produsent van wêreldgehalte-wyne gestand te doen, en hierdie oorwinning is erkenning vir ons harde werk.”

Tooth meen toerisme is ’n belangrike deel van die ekonomie van Suid-Afrika, daarom is dié nie net vir Vergelegen ’n trotse oomblik nie, maar ook vir die Suid-Afrikaanse wyn- en toerismesektor in sy geheel.

Die herehuis se tuin

’n Aansig van die herehuis

“Dit is Vergelegen se missie om wêreldwye erkenning vir Suid-Afrika as produsent van puik wyne te verwerf.” Vergelegen produseer klassieke wynvariëteite, en hul produkportefeulje bestaan uit vier kenmerke: Flagship Range (3 wyne), Vineyard Range (3 wyne), Reserve Range (9 wyne) en Premium Range (4 wyne). Vergelegen “V” is die hoof van die vlagskipreeks en is die bekragtiging van Vergelegen se strewe om ’n wyn te produseer wat op gelyke voet met die gesogste wyne ter wêreld kan staan.

Vergelegen is nou in die warmer maande heerlik om te besoek

Dit is ook volgens Tooth ’n bydrae tot die verwesenliking van die stigter van die landgoed, Willem Adriaan van der Stel, se baanbrekersvisie vir Vergelegen as ’n wêreldklas landgoed aan die begin van die 18de eeu.

Deel van die tuin by die herehuis

Pragtige bloeisels oral te sien

Vergelegen spog met ’n geskiedenis wat oor meer as 300 jaar strek en dateer terug tot 1685 toe dit as ’n militêre buitepos gestig is en toe in Februarie 1700 aan die goewerneur van die Kaap, Willem Adriaan van der Stel, toegewys ​​is.

’n Kykie na die geskiedenis van die landgoed verklap dat Van der Stel toe die hulpbronne van die Nederlandse Oos-Indiese Kompanjie gebruik het om die landgoed uit te brei, en dit het daartoe gelei dat ’n aantal vryburgers aan die Kaap in 1706 ’n memorandum opgestel het waarin hulle kla oor die onwettige aktiwiteite van Van der Stel. Hy en ander amptenare is as gevolg van die klagtes afgedank en na Nederland herroep, en ’n groot deel van die landgoed is verkoop.

Die verskeie blomme sorg vir ’n kleurvolle prentjie

Tooth bevestig dat die landgoed daarna, in 1798, aan die Theunissen-familie verkoop is, wat begin het om wingerde te verbou en op die produksie van druiwe gekonsentreer het totdat filloksera in die laat 19de eeu die grootste deel van die druifproduksie uitgewis het.

’n Lang uitgestrekte grasperk by die herehuis

In die skaduwee van die ou geskiedkundige bome

In 1917 is Vergelegen deur die miljoenêr-mynmagnaat sir Lionel Phillips gekoop as geskenk vir sy vrou Florence. Sy het die herehuis op die landgoed opgeknap en die tuine waarvoor Vergelegen vandag bekend is, aangelê. Sy het egter die paar oorblywende hektaar wat aan druiwe gewy was, verwyder.

Die Barlow-familie het later die landgoed by hulle gekoop, en Charles Barlow het weer ’n beperkte hoeveelheid druiwe begin aanplant. Anglo American het in 1987 die eiendom van Barlow se seun gekoop en weer begin konsentreer op die produksie van wyn. Die eerste oesjaar onder die bestuur van die maatskappy is in 1992 geoes.

’n Syaansig van die herehuis

Tooth verduidelik dat toe Anglo American die eiendom gekoop het, wingerdbou op die landgoed herstel is, en daar is ook belê in die herstel van die historiese kern van die landgoed. Van die projekte wat Anglo American op die landgoed onderneem het, was ’n uitgebreide program vir die uitroei van indringerplante, grondrehabilitasie en grondherstel.

Die wingerde is weer ná intensiewe klimaats- en grondtoetse gevestig. ’n Gedetailleerde plan is opgestel vir die ontwikkeling van die plaas, waarna dit later aan die publiek oopgestel is.

By die tuin van refleksie

Vandag is dit juis Vergelegen se geskiedenis en erfenis wat bydra tot sy gewildheid as toeristebestemming, en jare later word hierdie landgoed steeds mooi bewaar met werknemers wat deurlopend noukeurig in die tuin werk, en personeel wat jou vriendelik by ontvangs groet om jou meer oor die landgoed te vertel.

Een ding is seker: daar word seker gemaak Vergelegen sit sy beste voetjie voor vir besoekers, en juis hierom is dit nie te moeilik om te glo dat die landgoed kan getuig van besoeke van staatshoofde en ander beroemde persone van oor die hele wêreld nie.

’n Klok naby die herehuis

Vergelegen het al gasheer gespeel vir baie van die koninklike families in Europa, waaronder koningin Elizabeth II in Maart 1995, asook talle plaaslike en internasionale staatsleiers. Dit was ook die plek wat president Mandela gekies het vir die eerste besoek van ’n Amerikaanse president, Bill Clinton, in Suid-Afrika in Maart 1998.

Die Camphors Restaurant

Vergelegen se Kaaps-Hollandse herehuis, tuine en wynmakery is daagliks oop vir besoekers. Die erfeniskern van die landgoed bestaan uit die herehuis (ook genoem die “boerehuis” volgens geskiedkundige dokumente), die biblioteek, meulruïnes, slawekwartiere en die omliggende tuine.

Die herehuis se kamers is outentiek ingerig om die geskiedenis te weerspieël en bied ’n kykie op hoe lewe gedurende daardie jare moontlik kon gewees het. 

Die meulruïnes

Die herehuis bevat ook ’n uitstalling wat bestaan uit ’n reeks beeldpanele wat die verskillende tydperke van die geskiedenis en belangrike besoekers aan die landgoed bevat.

Besoekers kan ook die biblioteek besoek wat oorspronklik ’n kelder was en wat in 1816 gedurende die Phillips-era gebou is. In die biblioteek word ’n versameling boeke van sir Lionel Phillips bewaar, onder andere oor geskiedkundige gebeure, en verskeie ander boeke soos reisjoernale.

Die hangbrug oor die rivier

Die Lourensrivier wat deur die landgoed loop

Uniek aan Vergelegen, en beslis die moeite werd om te sien as ’n mens Vergelegen besoek, is van die oudste bome in die land. Hierdie bome sluit in vyf historiese kamferbome, wat vermoedelik in 1700 deur van der Stel geplant is en in 1942 tot Nasionale Monumente verklaar is.

Die ander kamferbome op die landgoed is almal saailinge uit die vyf bome. Verder is daar ook ’n ou Engelse eikehoutboom wat meer as 300 jaar oud is en vermoedelik die oudste oorlewende eikeboom in Afrika is.

Omring deur bome

’n Witbessie (“white mulberry”) op die landgoed dateer uit 1700 en is die enigste oorlewende oorblyfsel van Van der Stel se poging om ’n sybedryf in die Kaap te begin. Verder is daar die Royal Oak-eikeboom wat in 1928 geplant is uit ’n akker van die laaste van koning Alfred se eikebome in die Blenheim-paleis in Oxfordshire.

Die biblioteek

Die syaansig van die biblioteek

Van die minder-bekende geskiedkundige gebeure van Vergelegen, vertel Tooth, is dat in die eerste vergadering van die koukus van die ANC, met onder andere Nelson Mandela en Thabo Mbeki, in 1990 hier plaasgevind het voordat Vergelegen vir die publiek oopgestel is.

Talle paadjies kronkel deur die landgoed

Oral ’n verskeidenheid plante en blomme

Behalwe Vergelegen se ryk geskiedenis, en pragtige tuine – soos die roostuin, kruietuin en doolhof – waardeur besoekers regdeur die jaar kan wandel, kan besoekers ook iets te ete en drinke geniet by die Stables-bistro of die meer formele Camphors Restaurant.

Besoekers kan ook wyn proe by die wynproelokaal of ’n keldertoer doen om meer oor die wyne te leer. Besoekers kan selfs ’n geliefde met ’n heerlike piekniek bederf.

Prag om elke hoek en draai

Vergelegen is beslis die besoek werd, en Tooth beklemtoon dat die landgoed voorwaar besonders is.

Vergelegen ding vandag mee met die top 100 wyne van die wêreld en posisioneer homself onder die voorste bewaarders van Kaapse kultuurerfenis.

Die Royal Oak-eikeboom wat in 1928 geplant is

“Met sy wêreldbekende handgemaakte wyne, geskiedenis wat strek oor 300 jaar, erfenis, pragtige tuine en verfynde kombuis, is Vergelegen steeds die keuse vir die kieskeurige besoeker wat ’n totale sensoriese ervaring wil hê.”

  • Foto’s: Marli van Eeden, tensy anders aangedui
Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top