Verkiesingskoors loop hoog

  • 0

Miljoene Suid-Afrikaners sal môre (Woensdag) deelneem aan wat allerweë beskou word as die belangrikste verkiesing in die land sedert die eerste demokratiese verkiesing in 1994.

Suid-Afrikaners wat in die buiteland kon stem, het reeds hulle stemme uitgebring. Diegene in die land wat vir spesiale stemme aansoek gedoen het, kon Maandag en vandag (Dinsdag) stem.

Altesaam 1 668 076 Suid-Afrikaners se aansoeke vir spesiale stemme is goedgekeur. Die sperdatum was 3 Mei. Hiervan sal altesaam 624 593 kiesers deur opgeleide verkiesingsbeamptes by hul huise of inrigtings besoek word. Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) sê hulle is bemoedig deur die aantal spesiale stemme wat ontvang is en dit dui daarop dat Suid-Afrikaners entoesiasties is vir hierdie verkiesing.

Die meeste aansoeke vir spesiale stemme het uit Gauteng gekom, naamlik 335 480, gevolg deur KwaZulu-Natal (320 010), Oos-Kaap (286 059), Limpopo (159 800), Wes-Kaap (137 558), Noordwes (132 627), Mpumalanga (126 112), Vrystaat (86 908) en Noord-Kaap (83 504).

Die OVK het ’n beroep op Suid-Afrikaners gedoen om in groot getalle te gaan stem en hul demokratiese reg om te stem uit te oefen.

Kiesers word daaraan herinner om hul identiteitsdokumente as ’n vereiste vir deelname te hê. Nadat ’n spesiale stem uitgebring is, sal die stembriewe in ’n ongemerkte koevert geplaas word wat op sy beurt in ’n tweede koevert met besonderhede van die kieser geplaas sal word.

Slegs kiesers wat vir spesiale stemme goedgekeur is, kon of kan op 27 en 28 Mei stem, van 09h00 tot 17h00..

Die OVK het in ’n verklaring beklemtoon dat kiesers Woensdag moet stem waar hul name op die kieserslys verskyn. Alhoewel kiesers in vorige algemene verkiesings by enige stemlokaal kon stem en steeds vir die nasionale stembrief kon kwalifiseer as hulle buite hul geregistreerde provinsie stem, is dit nie meer die geval nie. Daar sal slegs gestem kan word in die stemdistrikte waar hulle geregistreer is.

Daar is vanjaar ook vir die eerste keer drie stembriewe.

Die Nasionale Stembrief word gebruik om vir politieke partye te stem. Daar is 52 partye wat op hierdie blou stembrief sal wees, en die stembrief is ’n dubbelkolom. Altesaam 200 van die 400 parlementslede word op hierdie manier gekies.

Op die oranje Nasionale Streeksetel-stembrief sal politieke partye en onafhanklike kandidate se name verskyn wat meeding vir die oorblywende 200 setels in die Nasionale Vergadering.

Die stembriewe vir die Provinsiale Wetgewers is pers en bevat die name van partye en onafhanklike kandidate wat meeding om setels in elke onderskeie provinsiale wetgewer. Hierdie stembrief sal kiesers in staat stel om óf ’n politieke party óf ’n onafhanklike kandidaat te kies om hulle in provinsiale wetgewers te verteenwoordig.

Die OVK het intussen gesê hulle neem met groot kommer kennis van voorvalle wat die afgelope naweek op 25 Mei 2024 by die eThekwini-munisipaliteit in KwaZulu-Natal plaasgevind het. Die OVK het Saterdag gesê ’n groep MK-party-ondersteuners het ongemagtigde toegang tot een van sy pakhuisfasiliteite in Durban verkry en die polisie en personeel gedreig.

Die OVK sê hulle neem ook kennis van nog ’n voorval in eThekwini waar ’n voorsittende beampte in die middel van die nag by die huis wakker gemaak is oor grootmaatmateriaal wat by die Baptistekerk-stemstasie in Chesterville gestoor is. Grootmaatmateriaal is stemhokkies, stemlokaaltekens/-baniere en nuwe oopgevoude stembusse. Hierdie materiaal is na die Cato Manor-polisiestasie in eThekwini geneem.

Volgens die OVK is dit deel van die logistieke plan vir die kommissie om grootmaatmateriaal voor die verkiesingsdag by stemlokale af te lewer. Dit is om te verseker dat stemlokale betyds oopmaak, aangesien slegs sekuriteitsmateriaal soos stembriewe op die dag van stemming afgelewer sal word.

Die OVK sê bykomende maatreëls is geïmplementeer om hierdie verskillende bergingsplekke regoor die land te beveilig. Die kommissie sê hulle oorweeg maatreëls teen die party en betrokke individue wat by die voorvalle betrokke was, aangesien belemmering van verkiesingsaktiwiteite nie geduld sal word nie. Hierdie gedrag oortree die verkiesingsgedragskode en ander verkiesingsvoorskrifte.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top