Die effense verligting wat Suid-Afrikaners die afgelope week of wat ten opsigte van beurtkrag ervaar het, was van korte duur.
Eskom het Dinsdag ’n beroep op die publiek gedoen om te help om die vraag na elektrisiteit te verminder nadat die kragvoorsiener die instelling van fase 4-beurtkrag onverwags vervroeg het van 16:00 na 14:00.
Eskom sê in ’n verklaring die verminderde opwekkingskapasiteit, sowel as die hoë volgehoue vraag na elektrisiteit (sowat 33 000 MW), het die uitgebreide gebruik van oopsiklusgasturbines (OSGT's) en pompopgaaropwekking in die voorafgaande 36 uur vereis.
Stage 4 loadshedding will continue to be implemented from 14:00 today until 05:00 on Wednesday. Thereafter, Stage 3 and 4 loadshedding will be implemented until further notice. pic.twitter.com/RRmYUlDL3F
— Eskom Hld SOC Ltd (@Eskom_SA) July 11, 2023
Om die noodreserwes te bewaar, moes fase 4-beurtkrag van Dinsdag 14:00 tot vanoggend (Woensdag) 05:00 geïmplementeer word. Daarna sal fase 3-beurtkrag van 05:00 tot 14:00 geïmplementeer word, gevolg deur fase 4-beurtkrag van 14:00 tot 05:00 op Donderdag.
Hierdie patroon sal daagliks geïmplementeer word tot verdere kennisgewing. Eskom sê hulle sal nog ’n bygewerkte skedule publiseer indien enige beduidende veranderinge plaasvind.
Pushed to Stage 4 ⚡️ Next up, Stage 3 tomorrow at 05:00
Get the ESP app for real time updates https://t.co/GnyUrozM6I
— EskomSePush (ESP) (@EskomSePush) July 11, 2023
Die DA beskuldig die minister van elektrisiteit, Kgosientsho Ramakgopa, daarvan dat hy die land in die duister hou oor kragvoorsiening.
Die DA se skaduminister van elektrisiteit, Samantha Graham-Maré, sê Ramakgopa se bewering van geen toename in beurtkrag nie is as vals bewys, aangesien die land kort ná die verklaring teruggekeer het na fase 4-kragonderbrekings.
“Skaars een dag nadat die minister van elektrisiteit verklaar het dat hy verwag dat daar geen toename in beurtkrag sal wees nie, keer ons terug na fase 4.”
Die DA sê in ’n verklaring hulle is uiters bekommerd dat hoewel Ramokgopa blykbaar daarin geslaag het om beurtkrag in die afgelope weke te verminder, die realiteit is dat nie een van sy planne langtermynoplossings bied nie.
“In plaas daarvan vereis die medium- tot langtermyn-oplossings wat voorgestel word, aansienlike finansiële uitgawes, tot ver in die miljarde, in ’n land met ’n krimpende ekonomie wat deur die energiekrisis versmoor word.”
Die DA sê hulle sal voortgaan om die werklike inligting wat deur Eskom verskaf word teenoor dié van die minister van elektrisiteit in sy weeklikse inligtingsessies te monitor om te verseker dat Suid-Afrikaners weet wat die ware status van die land se energiekrisis is en nie ’n ANC-gesuiwerde weergawe wat daarop gemik is om stemme te koop vir die verkiesing volgende jaar nie.
“Valse syfers sal nie ons krisis oplos nie. Ons het die onverbloemde waarheid nodig as ons ware, langtermyn- en volhoubare oplossings wil vind.”
Graham-Maré sê dit was beslis ’n welkome verligting om die afgelope maand beperkte beurtkrag te hê, maar dit blyk dat die redes daarvoor, sowel as die kragvoorsiener se vermoë om dit in stand te hou, twyfelagtig is.
“In die eerste instansie is ons in kennis gestel dat die rede vir laer beurtkragfases die gevolg was van ’n 12%-verhoging in die elektrisiteitsbeskikbaarheidsfaktor (EBV), wat dit op 70% te staan bring. Sowel die minister as die kabinet het dit bevestig. Hulle het egter duidelik nie met Eskom gekonsulteer voordat hulle hierdie syfer bekendgemaak het nie, aangesien die EBV volgens Eskom se eie verslae om en by sowat 58% draai.”
Suid-Afrikaners is ook in kennis gestel dat die laer beurtkragfase te danke is aan ’n laer as voorspelde elektrisiteitsaanvraag. Dit is toegeskryf aan verskeie faktore, insluitend toenames in private elektrisiteitsopwekking, sowel as inkorting deur groot verbruikers van elektrisiteit.
By die eerste teken van werklike wintertemperature het ’n hoë vraag beurtkrag egter in ’n hoër rat ingeskop.
Wat verder ontstellend is oor die waargenome verbetering in Eskom se vermoë om die energiekrisis te hanteer, is volgens Graham-Maré die feit dat miljarde rande letterlik verbrand word in ’n poging om die beurtkragfases laag te hou, aangesien OSKT’s massiewe hoeveelhede diesel verbruik om die land van krag te voorsien.
Sy sê dit is finansieel en tegnies onvolhoubaar, afgesien daarvan dat dit ’n ietwat oneerlike poging is om die kritieke toestand van ons energie-infrastruktuur weg te steek.