Twee voormalige Transnet-bestuurders wat afgedank is nadat hulle in ’n dissiplinêre verhoor skuldig bevind is aan die beweerde samewerking met verskaffers om die entiteit na bewering tydens die COVID-19-pandemie in 2020 te bedrieg, is verbied om hul pensioenfondse te onttrek.
Die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) sê hulle pensioenfondse sal gevries bly, hangende ’n afhandeling van ’n ondersoek wat teen hulle ingestel is.
SIU and Transnet granted order to interdict pension benefits of former executives worth R8.9 million pic.twitter.com/lma35lXpK5
— Special Investigating Unit (SIU) (@RSASIU) November 8, 2023
Die voormalige uitvoerende bestuurder, Lerato Mary Theresa Makenete, verantwoordelik vir groepsakekontinuïteit en rampbestuur, en die voormalige uitvoerende bestuurder vir veiligheid, Landela Hawkins Madubane, word ondersoek in verband met beweerde vrugtelose en verkwistende uitgawes ter waarde van R33,5 miljoen.
Die SOE en Transnet het verlede maand opdrag ontvang van die Spesiale Tribunaal om die twee voormalige werknemers se pensioene te bevries weens hulle beweerde betrokkenheid by die ongerymdhede. Dit beteken dat hulle nie hul pensioenvoordele by Transnet Aftreefonds kan onttrek nie.
Makenete en Madubane het na bewering met verskaffers saamgespan om Transnet te bedrieg deur die prys van asemtoetsstrooitjies van 29 sent per strooitjie tot R29,99 per strooitjie op te blaas, wat ’n totale betaling van R33 834 698,40 tot gevolg gehad het.
Kaizer Kganyago, woordvoerder van die SOE, het in ’n verklaring gesê die pensioenfondse van die twee voormalige bestuurders bedra R8,9 miljoen en sal gevries bly hangende die afhandeling van die ondersoek teen hulle.
“Transnet het die stap geïnisieer en ’n beroep op die ondersteuning van die SOE gedoen om hierdie saak te ondersoek en die ondersoeke uit te brei en te voltooi. ’n Ondersoek deur die SOE na die sake van Transnet het aan die lig gebring dat Makenete en Madubane na bewering met drie diensverskaffers saamgespan het om Transnet se noodverkrygingsproses tydens COVID-19 te misbruik,” het Kganyago gesê.
Tydens die noodverkrygingsproses, teen die hoogtepunt van die pandemie in April 2020, het Transnet Ramoyadi Air Conditioning, Ndzalo2 Trading en Eagles Ropes gekontrakteer om meer as ’n miljoen weggooibare strooitjies te lewer.
Die SOE en Transnet het siviele stappe in die Spesiale Tribunaal ingestel om die kontrakte te hersien en tersyde te stel en finansiële verliese te verhaal wat Transnet gely het weens die beweerde oorbetaling van ongeveer R33,5 miljoen.
Na afloop van die ondersoek het die SOE dissiplinêre stappe teen Makenete en Madubane aanbeveel. Transnet het die nodige stappe gedoen om die twee werknemers dissiplinêr te verhoor, maar nie hulle het nie opgedaag vir die verhore nie. Die verrigtinge het voortgegaan in hul afwesigheid. Die twee is skuldig bevind en ontslaan.
Die DA sê intussen in ’n verklaring hulle neem met kommer kennis dat bedryfsgebreke binne Eskom en Transnet Suid-Afrika se ekonomie hierdie boekjaar ’n verlies van R200 miljard veroorsaak het, soos bevestig deur die SAID-kommissaris, Edward Kieswetter.
Transnet dring aan op dieselfde skuldverligtingskema as Eskom, waar ’n yslike R254 miljard op die nasionale balansstaat geabsorbeer sal moet word.
Die DA se skaduminister van finansies, Dion George, sê die DA het vooraf gewaarsku dat Eskom se skuldoorname ’n gevaarlike fiskale presedent sal skep, aangesien ook ander SOE’s wat nie lewensvatbaar is nie, op dié manier belastinggefinansierde verligting sal wil hê.
Hy sê die DA bly gekant teen die oorname van Eskom se skuld deur die regering, aangesien dit belastingbetalers roekeloos aan die finansiële gevolge van regeringswanbestuur blootstel. Dieselfde geld vir Transnet en elke ander wanfunksionele SOE.
Versuim om stiptelik by betekenisvolle privatisering betrokke te raak en die mark vir private beleggings oop te stel, sal Suid-Afrika volgens die DA tot ’n ewigdurende laegroei-siklus verdoem.
Traagheid om te privatiseer bedreig volgens George enige vooruitsig om ekonomiese stabiliteit te bereik en plaas die las vierkantig op die skouers van toekomstige geslagte.
Hy sê die regering moet nóú optree om die verskuiwing weg van die onvolhoubare model van staatsafhanklike SOE’s na ’n robuuste, geprivatiseerde en mededingingsgedrewe infrastruktuurlandskap te begin.