Verpligte dra van maskers se dae is dalk getel

  • 0

Die verpligte dra van gesigsmaskers in binnenshuise openbare plekke mag dalk eersdaags iets van die verlede wees in Suid-Afrika.

Die minister van gesondheid, Joe Phaala, is volgens mediaberigte ten gunste daarvan dat die koronavirusregulasies wat vereis dat maskers binnenshuis gedra moet word en dat die grootte van byeenkomste beperk word, geskrap word.

Hierdie laaste oorblywende regulasies word deur onder andere die toerisme- en ontspanningsektor hewig gekritiseer weens die negatiewe ​​uitwerking op besighede wat sukkel om op hulle voete te kom na meer as twee jaar van beperkings.

In ’n uitgelekte memo aan LUR'e vir gesondheid, gedateer 20 Junie, sê die minister Suid-Afrika is nou oor die hond se stert wat betref die vyfde golf van die virus. Hy beveel aan dat die laaste oorblywende regulasieslaat vaar word.

’n Besluit daaroor sal na verwagting nog dié week geneem word.

Shabir Madhi, professor in entstofkunde aan die Universiteit van die Witwatersrand, het in reaksie hierop op Twitter gesê die realiteit is uiteindelik besig om te seëvier. Hy sê dit voorspel ’n effektiewe einde aan die Covid-beperkings. Madhi sê dit is nou tyd om te werk aan die kollaterale ekonomiese en ander skade wat toegedien is as gevolg van hardkoppigheid om nie die wetenskap te volg nie.

Die ACDP het ook die moontlike opheffing van die maatreëls verwelkom. Die party het ’n beroep op alle LUR'e, die nasionale kabinet en president Ramaphosa gedoen om Phaahla se aanbevelings te ondersteun.

“Na maande van wat gelyk het soos om met ’n baksteenmuur te praat, het die nasionale minister van gesondheid uiteindelik geluister na eerwaarde Meshoe se pleidooi om die dra van maskers te beëindig en die beperkings op bywoning van byeenkomste te laat vaar,” het die ACDP Dinsdag getwiet.

Die vakbond Solidariteit het vroeër die week ’n skrywe aan minister Phaahla gestuur waarin geëis word dat die omstrede gesondheidsregulasies teruggetrek word. Indien die minister dit nie terugtrek nie, gaan Solidariteit vra vir ’n bestraffende kostebevel.

Solidariteit se aansoek waarin gevra word dat die regulasies ongeldig verklaar word, word op 25–27 Julie in die hof geargumenteer. Solidariteit eis dat die regulasies voor daardie datum teruggetrek moet word. Organisasies soos AfriForum se aansoek word op dieselfde dag aangehoor.

Volgens Dirk Hermann, bestuurshoof van Solidariteit, is die regulasies duidelik substantief en prosedureel onregmatig. Hy sê om die omstrede regulasies in die hof te gaan verdedig, gaan belastingbetalers se geld en die hof se tyd mors.

Volgens Solidariteit het die minister sy eie adviesraad geïgnoreer wat aangedui het dat die dra van maskers in die buitelug nie wetenskaplik verantwoord kan word nie, en dat die onvoorwaardelike dra van maskers binnenshuis ook nie die regstoets sal slaag nie.

“Hierdie regulasies gaan nie oor maskers nie, maar oor mag en beheer. Die minister wil deur hierdie regulasies die tydelike COVID-19-beheermaatreëls in permanente beheermaatreëls omskep,” sê Hermann.

Volgens die ministeriële adviesraad was die maatreëls onvoldoende om verspreiding van die virus te keer, maar dieselfde maatreëls word nou weer in nuwe regulasies afgekondig.

Die substantiewe immuniteit van die bevolking deur inentings en infeksies word volgens Solidariteit ook nie in die regulasies in ag geneem nie. “Dit lyk of ou regulasies net gekopieer en geplak is sonder om nuwe omstandighede in ag te neem. Die minister het die ministeriële adviesraad se aanbevelings net eenvoudig geïgnoreer.”

Solidariteit sê die rekords van die regering wys ook dat kommentare wat gelewer is, nie behoorlik in ag geneem is nie. Duisende kommentare was glo nog nie eens geprosesseer toe die regulasies gepubliseer is nie. Die minister het ook die verpligte kommentaartyd van drie maande geïgnoreer. Hy het ook nie met die Nasionale Gesondheidsowerheid gekonsulteer soos vereis nie, sê Solidariteit in hulle verklaring.

Klik hier om Solidariteit se skrywe aan die minister te lees.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top