Verskille in RNE se buitelandse beleid kom by Brics na vore

  • 0

Die Brics Engagement- en Brics Plus-platforms is ’n geleentheid vir lande om groter en dieper bande vir ontwikkeling te smee.

So het president Cyril Ramaphosa Donderdag tydens die Brics/Plus-lande se eerste sessie in Kazan, Rusland, gesê.

Die leiers van Brasilië, Rusland, Indië, China, Suid-Afrika, Egipte, Ethiopië, Iran en die Verenigde Arabiese Emirate vergader vir die eerste keer sedert nuwe lede tydens die Johannesburgse Brics-beraad van 23 Augustus 2023 genooi is om by Brics aan te sluit.

Ramaphosa het gepraat tydens die Brics-beraaduitreik / Brics Plus-sessie wat gehou word onder die tema “Brics en die Globale Suide: Bou saam aan ’n beter wêreld”. Die doel van die dialoog is om Brics-bande met toonaangewende ontwikkelende ekonomieë te versterk.

Hy sê Brics speel ’n belangrike rol in ’n multipolêre wêreld wat multilateralisme, wedersyds voordelige samewerking en volhoubare ontwikkeling voorstaan.

Ramaphosa het hom vroeër die week met sy aankoms in Rusland die gramskap op die hals gehaal van die DA, wat sy grootste vennoot in die RNE is, toe hy gesê het dat “Rusland ’n waardevolle bondgenoot en vriend” van Suid-Afrika is.

Die DA het hom by monde van sy leier, John Steenhuisen, van Ramaphosa se uitlating gedistansieer.

Steenhuisen het in ’n verklaring gesê die DA beskou Rusland, of Wladimir Poetin, nie as ’n bondgenoot van Suid-Afrika nie.

“Ons kan en sal nie saamstem dat Suid-Afrika ’n outoritêre regime wat tans die internasionale reg oortree deur ’n imperialistiese oorlog van aggressie teen ’n soewereine staat te voer, as ’n bondgenoot beskou nie.”

Dit het tot ’n politieke herrie onder sommige partye in die RNE gelei.

Ramaphosa se woordvoerder, Vincent Magwenya, het gesê hoewel die DA sy eie buitelandse beleid mag handhaaf, kan hy nie sy standpunt in die RNE op die President afdwing nie.

“Hul verklaring is ’n poging om die President te mikrobestuur, wat nie toegelaat sal word nie, ondanks die belangrikheid en respek wat die President aan die RNE heg,” het Magwenya gesê.

Gayton McKenzie, die PA-leier, het gesê Steenhuisen was bitter omdat hy nie genooi is om saam met Ramaphosa Rusland toe te gaan nie.

Hy het op X gesê die President het ’n groot fout gemaak deur Steenhuisen nie saam te neem Rusland toe nie. “Hy moes jou saamgeneem het en jy sou saam met president Poetin geglimlag en gelag het net soos jy met president Xi gedoen het. Jy praat nie namens die regering nie, die President doen dit; gaan nou terug werk toe, Minister,” was sy boodskap aan die DA-leier.

Steenhuisen sê egter in ’n tyd waarin Suid-Afrika hernude optimisme ervaar met die eerste werklike vooruitsigte van ekonomiese groei in byna twee dekades, kan die  regering eenvoudig nie bekostig om stellings te maak wat internasionale betrekkinge en handelsgeleenthede in gevaar kan stel wat deurslaggewend is vir die verwesenliking van ons sleuteldoelwitte van groei en werkskepping nie.

Ramaphosa het Donderdag in sy toespraak by Brics opnuut die inisiatiewe deur Rusland verwelkom wat daarop gemik is om ander Brics-lande te ontwikkel.

“Ons verwelkom die Russiese inisiatiewe wat daarop gemik is om ’n aantal Brics-lande te versterk deur die verskillende netwerke wat daarop gemik is om die toekoms van Brics-lande se vervoernetwerke en konnektiwiteit te verbeter onder die tema ‘Innovasie en digitalisering van vervoer’.

“Dit sal ons help om maniere te vind om ons onderlinge verbondenheid op nuwe en verbeeldingryke maniere te integreer en te verdiep,” het hy gesê.

Die President het gevra vir die oplossing van konflikte wat nie net in die Midde-Ooste nie, maar ook op die Afrika-vasteland eskaleer.

“Ons moet blywende oplossings vir al hierdie konflikte vind.

“Ons moet verbind bly tot die vreedsame oplossing van alle geskille deur onderhandeling en inklusiewe dialoog. Ons moet die vermoë van state beskerm om onafhanklike buitelandse beleid te volg.

“Ons moet die multilaterale stelsel beskerm omdat dit die hoeksteen van internasionale betrekkinge is, en ’n omgewing van vrede en ontwikkeling bevorder,” het hy gesê.

Hy het beklemtoon dat konflik nie toegelaat kan word om “voortdurend voort te duur nie”.

“Ons moet ’n weg na vrede vind. In ons soeke na ’n meer onderling gekoppelde, regverdige en welvarende wêreld het ons die vermoë om ’n omgewing van vrede te bevorder deur op volhoubare ontwikkeling te fokus.

“Ons moet voortgaan om nasies en volke te ondersteun wat poog om die siklus van konflik te beëindig en die pad van vrede te kies,” het Ramaphosa gesê.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top