Verstekelinge, vlugtelinge, verraaiers, voëlgriep en vokale protes

  • 0
Verstekeling oorleef vlug van Suid-Afrika na Nederland

Die Koninklijke Marechaussee of grenspolisie het bekend gemaak dat ’n verstekeling Sondag in die neuswiel van ’n vragvliegtuig van Suid-Afrika op Schiphol aangetref is. Die NOS berig die man het die vlug van 11 ure lank oorleef en is in ’n stabiele toestand. Sy liggaamstemperatuur is op die toneel verhoog, sê ’n woordvoerder van die grenspolisie. Hy is vir verdere behandeling in die hospitaal opgeneem. Volgens die Amerikaanse lugvaartowerheid, die FAA, oorleef 78 persent van persone nie so ’n vlug nie. Die grenspolisie berig verder dat die 22-jarige uit Nairobi in Kenia kom, waar die vlug ook geland het. Hy het intussen om asiel gevra. Die grenspolisie ondersoek die saak om te kyk of daar sprake van mensesmokkelary is.

Omstredenheid oor The voice of Holland kring verder uit

Nog ’n vrou het ’n klag gelê teen die voormalige musiekleier van The voice of Holland, Jeroen Rietbergen. Die vrou, wat anoniem wou bly, was nie ’n deelnemer aan die sangkompetisie nie, maar beweer dat sy Rietbergen “via de muziekwereld” ken. Ná al die omstredenheid met beskuldigings van seksuele wangedrag verlede week het sy ook besluit om na vore te kom. Die vrou beweer sy het boodskappe en foto’s van ’n seksuele aard van Rietbergen ontvang. Die program BOOS het verlede Donderdag ’n video aanlyn beskikbaar gestel wat oor seksuele teistering by The voice of Holland handel. In die program beskuldig 19 vroue, onder wie voormalige deelnemers aan die kompetisie, Rietbergen en ander van seksuele wangedrag. Kort voor die uitsending het Rietbergen die aantygings beken en sy bedanking ingedien. Die uitsaaier RTL het onmiddellik die kompetisie vir ’n onbepaalde tyd van die lug gehaal. Nog 15 vroue het aanklagte van seksuele wangedrag, waaronder verkragting, teen die regisseur van die kompetisie, Ali B, gemaak. Teen ’n voormalige afrigter en sanger, Marco Borsato, is ook aanklagte ingedien.

Intussen is Rietbergen verlede week op Schiphol deur gebruikers van sosiale media opgemerk. Aanvanklike berigte wou dit hê dat hy na Suid-Afrika gevlug het, maar toe word sy vlugbesonderhede ook op sosiale media gedeel, waaruit dit blyk dat hy na Atlanta in die VSA gevlieg het. Die lugdiens KLM het ’n verklaring uitgereik waarin hy sê: “We nemen dit beveiligingsincident zeer serious.” Die lugdiens sê hy gaan ’n ondersoek van stapel stuur na die uitlek van passasiersreisbesonderhede.

Hewige kritiek na bevindings oor beweerde Anne Frank-verraaier

Die Switserse Anne Frank-fonds, wat onafhanklik is van die Anne Frank-stigting in Amsterdam, het die bevindings van die ondersoekspan oor die beweerde verraaier van Anne Frank en haar gesin skerp gekritiseer. Voertaal het verlede week berig dat ’n ondersoekspan ná ses jaar met ’n hoë mate van sekerheid die moontlike verraaier as die Joodse notaris Arnold van den Bergh geïdentifiseer het. Kort ná die nuus is ook ’n boek oor die ondersoek bekend gestel. NOS berig die ondersoekspan het van die begin af met die stigting en die fonds kontak opgeneem, maar die fonds wou nie saamwerk nie. Nadat die bevindings van die ondersoekspan bekend geword het, het die voorsitter van die fonds, John D Goldsmith, die bevindings as onsinnig afgemaak. Hy sê bewysmateriaal ontbreek, en as die ondersoeker, ’n oud-FBI-agent, by sy voormalige werkgewer sulke werk gelewer het, hy nie daarmee sou weggekom het nie. “De manier waarop er 'onderzoek' is gedaan, viel ons tegen,” sê Goldsmith. Volgens hom word die ondersoekspan as ’n kommersiële projek getipeer en was daar geen kenners op die gebied van Jodevervolging by betrokke nie. “We hadden dit gebrek aan deze expertise snel door en dat wordt nu duidelijk.” Goldsmith sê verder die teorie dat ’n Joodse notaris die Agterhuis verraai het, olie op die vuur vir anti-Semitisme is. “Het grenst aan een complottheorie om een bewering te doen die als feit wordt opgepakt. En complottheorieën blijven lang hangen, weten we.”

Betoging in Brussel eindig in geweld

’n Grootskaalse betoging teen die huidige inperkingsmaatreëls in Brussel, wat aanvanklik vreedsaam begin het, het later gewelddadig geword. VRT NWS berig 15 mense is beseer, onder wie drie polisiebeamptes, en sowat 70 mense is in hegtenis geneem. Nog voordat die betoging begin het, is minstens ses mense aangekeer vir die besit van verbode of gevaarlike wapens. Volgens die polisie het sommige betogers bewustelik konfrontasie met die polisie gesoek deur beamptes met voorwerpe te bestook.

Eiendom is ook aan die brand gesteek of beskadig en betogers het probeer om ’n gebou van die Europese Unie binne te dring.

Die polisie moes traangas en waterkanonne inspan om die betogers uiteen te jaag. Volgens Vlaamse mediaberigte was daar veral mense van ander nasionaliteite van onder meer Nederland, Duitsland en Frankryk by die betoging. Die betogers het slagspreuke soos “Vrijheid, geen dictatuur”, “De maatregelen moeten stoppen” en “Stop de coronadictatuur” op baniere ten toon gestel.

Betogers het ook verlede maand met die polisie skoor gesoek. Tydens dié betoging is minstens 20 mense aangekeer en ses mense is beseer, onder wie vier betogers en twee polisiebeamptes.

Het Nieuwsblad haal een van die organiseerders van die betoging, Tom Meert, aan met: “Er waren heel veel mensen. Dat stemt me tevreden, maar anderzijds ook droevig. Want al die mensen waren hier vandaag, omdat ze zich niet gehoord voelen. Een groot deel van de bevolking wordt niet gehoord. Onze hoofdeis vandaag was een open debat. Laat alle stemmen aan bod komen. Dat is volgens ons de enige manier om de maatschappij te helen.”

’n Stille waak vir klein Dean

Die Belgiese nuusdiens VRT berig dat daar Sondag ’n stille waak gehou is vir die kleuter Dean Verberckmoes wat verlede week dood aangetref is terwyl hy in die sorg van ’n huisvriend Dave de Kock was. Die geleentheid het by die Monument vir Verongelukte, Vermoorde en Vermiste Kinders by die Sint-Romboutstoring in Mechelen plaasgevind. Teddiebere en kranse is tydens die geleentheid gelê. Die waarnemende burgemeester, Alexander Vandersmissen, het gesê: “De stad wil met deze wake uiting geven aan de collectieve verontwaardiging en vooral ook namens alle Mechelaars haar steun betuigen aan de naasten van de jonge Dean.” De Kock en sy Nederlandse vriendin bly in aanhouding.

Voëlgriep maai onder Nederlandse pluimvee

Meer as 200 000 pluimvee is van kant gemaak nadat gevalle van voëlgriep op twee plase in Willemstad in die provinsie Noord-Brabant en in Grootschermer in Noord-Holland bevestig is. Die Departement van Landbou vermoed dat dit hier om ’n baie besmetlike variant van voëlgriep gaan. Die diere moes van kant gemaak word om verdere verspreiding van die virus te keer.

Europa het met een van die swaarste voëlgriepuitbrake tot nog toe te make. Sedert einde Oktober verlede jaar moet alle pluimvee landwyd op hok bly. Ondanks die ophokbevel is voëlgriep al by 20 plase vasgestel.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top