LitNet-argief: Vertaalkompetisie: Vryheid, Jean Lombard

  • 0

Vertaling van "Vrijheid" deur Marion Bloem

Vryheid

As vrywees is: hou jy jou mond
want ek het iets te sê

As vrywees is: jy agter tralies, want 
dan hoef ons nie bang te wees 
vir al jou andersheid en anderster doen en 
late nie

As vrywees is: om die dag van môre
strak te bepaal deur vandag se dag
iets minder dag te laat wees

As vrywees is: die deure sluit
en op die beeldskerm vryelik kyk na
wat veilig uit die buurt moet wees

As vrywees is: steeds rustig slaap
omdat ander se tong hul kwaadwillig 
ontneem is

As vrywees is: eet wat en wanneer jy wil
maar die skille laat val in koerante
waar die honger verswyg word

As vrywees is: nie hoef te weet wat my
vrygemaak het, my vry hou, my
in vryheid elke dag gevange neem nie

As vryheid is: wag tot die ander
my bevry van angste waarop ek
heilig vertrou

As vryheid my gedagtes pleister 
As vryheid om my heen oral rondom 
en in my waai,
maar deur jou nie gevang kan word nie

As vryheid my beskerm 
teen jou idees wat vir my te 
anders is

As vryheid vir my vandag so 
vanselfsprekend lyk, en jy nie
weet wat dít beteken nie

Dan is vryheid munt vir my 
en kopaf vir jou
Dan is vryheid lug en willekeurig

Maar staan dit my miskien wel vry
om iets van my pragtige vryheid – met 
wedersydse instemming natuurlik – 
tydelik of op langer duur 
af te staan om jou
van my verstikkende vryheid
te bevry

 

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top