Vertoon-tennis in SA gryp internasionale verbeelding aan

  • 0

Die internasionale tennisheld, Roger Federer, kan nie uitgepraat raak oor Suid-Afrikaners en Kaapstad se oorweldigende steun vir sy Match in Africa-wedstryd die afgelope naweek nie.

Federer en die ewe gewilde tennisster, Rafael Nadal, het rekords laat spat op Suid-Afrikaanse bodem. Die wedstryd het nie net die grootste skare ooit in die wêreld na ’n tenniswedstryd gelok nie, maar dit het ook die meeste geld vir die Roger Federel-stigting ingesamel. ’n Rekordskare van 51 954 mense het die Kaapstad-stadion volgepak en meer as R45 000 000 is met die tenniswedstryd ten bate van onderwys vir kinders in Afrika ingesamel.

Bill Gates (Foto: Masaru Kamikura [CC BY 2.0], via Wikimedia Commons) en Roger Federer (Foto: Tatiana [CC BY-SA 2.0], via Wikimedia Commons)

Vir gewone Suid-Afrikaners was die naweek se tennis weer een van daardie goedvoel oomblikke soortgelyk aan wat die land verlede jaar tydens die Rugbywêreldbeker beleef het.

Die wedstryd is regstreeks deur verskeie TV-kanale uitgesaai en ook op die internet gestroom.

“Wat ’n onvergeetlike aand,” het Federer ná afloop van die wedstryd op Facebook geskryf. “Ons het 3,5 miljoen VSA-doller vir agtergeblewe kinders in die streek ingesamel en daarin geslaag om ’n rekordgetal van meer as 51 000 toeskouers na ’n tenniswedstryd te lok en het soveel pret gehad.”

Federer, wat die aand as ’n baie emosionele oomblik beskryf het, se grootste woorde van dank het aan Suid-Afrika en Kaapstad gegaan. “Meeste van alles, dankie Suid-Afrika, dankie Kaapstad vir julle oorweldigende steun en die verskil wat dit vir diegene in nood maak.”

Vir ’n rukkie kon Suid-Afrikaners van alle rasse, klasse en politieke oortuigings vergeet van beurtkrag, staatskaping, misdaad en die politici se vele vals beloftes. Daar is selfs op sosiale media gespot dat die aand se sukses toegeskryf kan word aan die ooglopende afwesigheid van die politici by so ’n groot geleentheid.

Trevor Noah (Foto: Hayden Schiff [CC BY 2.0], via Wikimedia Commons) en Rafael Nadal (Foto: Tatiana [CC BY-SA 2.0], via Wikimedia Commons)

Dit was ook nie net Suid-Afrikaners wat beïndruk was nie. Mense van reg oor die wêreld het op sosiale media geskryf hoe hulle dit geniet het en was vol lof vir die land. Tom Grant van Oklahoma in Amerika het op Federer se Facebookblad geskyf dit was ’n ongelooflike “venue”. “Ek het die Afrika-musiek geniet en almal wat na die tyd so saam met die kinders gedans het was vir my ’n baie mooi oomblik. Veels geluk aan almal vir ’n wonderlike geleentheid.”

Suid-Afrika se Springbok-rugbykaptein, Siya Kolisi, het Federer voor die wedstryd onder luide applous van die skare met ’n nommer 8-Springboktrui verras. Nommer 8 is Federer se gelukkige nommer.

Kolisi het op Twitter geskryf Federer en Nadal wy nie net hulle lewe daaraan om die beste sportmanne te wees wat hulle kan nie, maar die verskil wat hulle agter die skerms maak om aan die gemeenskap terug te ploeg is eenvoudig ongelooflik.

Die sanger, Karen Zoid, het op haar beurt aan Federer se Suid-Afrikaanse ma, Lynette Federer, hulde gebring. Zoid het op Facebook geskryf: “Kan ons net ’n oomblik neem en praat oor Lynette Federer. ’n Afrikaanse meisie van die land aan die punt van die kontinent Afrika wat nooit haar herkoms vergeet het nie, al het sy haar jare gelede ver weg in die Alpe saam met haar Switserse man gaan vestig. Sy het uit die aard van die saak die grootste invloed op haar seun se liefde vir Afrika gehad. Sy is volgens my die persoon verantwoordelik vir gisteraand se ongelooflike byeenkoms in Kaapstad. Dankie Lynette vir die mens wat jy is!! Dankie vir Roger en dankie vir die bystand in kinders se lewens in Afrika.”

Die komediant, Trevor Noah, wat voor die groot wedstryd saam met die miljardêr, Bill Gates, aan ’n dubbelspel saam met Federel en Nadal deelgeneem het, het ná afloop van die wedstryd op sosiale media geskryf hy het ’n duisend drome in een aand beleef.

Noah het die skare met sy humor laat skater toe hy na die skeidsregter stap en a la McEnroe die skeidsregter aantree: “Out!? Out? What you mean out? Where is hawk eye? If this was not my only racket, I’d break it!”

Federer het na die tyd meeste Suid-Afrikaners se gevoel opgesom toe hy gesê het dit is goed om goeie stories te hê in ’n wêreld wat moeilik en wreed kan wees.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top