Vervalle hospitaal in Gauteng gons op sosiale media

  • 0

’n Video wat deur ’n pasiënt by die Helen Joseph-hospitaal in Gauteng geneem is en die beweerde nalatige behandeling van siek individue by die fasiliteit onthul, het die land aan die gons.

Die voormalige omroeper Tom London beweer in die video wat hy op sosiale media gedeel het, dat hy in die hospitaal verwaarloos is en dat van die personeel en dokters onbeskof is.

Hy het ook die hospitaal se badkamers in die video afgeneem wat toon hoe verwaarloos en vuil dit is. Van die krane werk glad nie en ook nie die muurproppe in van die sale nie.

London het die dokters en verpleegsters daarvan beskuldig dat hulle nie empatie en deernis in hul sorg vir pasiënte toon nie.

Die Gautengse Departement van Gesondheid sê hulle is in die proses om ’n program in te stel vir die opknapping van alle staatshospitale in die provinsie. Die departement het op London se video gereageer.

’n Woordvoerder van die departement, Motalatale Modiba, sê hulle ondersoek dié bewerings. Hy sê volgens ’n verslag wat hy ontvang het, is alle nodige stappe gedoen om voldoende behandeling vir London tydens sy verblyf in die hospitaal te verseker. Hy gee egter toe dat die fasiliteit wel infrastruktuurprobleme het.

Hy sê ’n nuwe ongevalle-eenheid is drie maande gelede daar geopen en dat herstel- en opknappingswerk ook by ander sale in die hospitaal gedoen sal word.

Times Live het egter Maandag berig dat die Gautengse LUR vir gesondheid, Nomantu Nkomo-Ralehoko, die hospitaalpersoneel verdedig het nadat die pasiënt, wat vir twee weke in die hospitaal was, gekla het oor “onversorgende” personeel en gesê het hy het vir ’n dag in sy “ontlasting” by die staatshospitaal gelê.

 “Welkom by die Helen Joseph-sirkushospitaal,” het hy gesê voordat hy die swak badkamer- en toiletinfrastruktuur gewys het. Een van die twee toilette het ook nie toiletpapier vir pasiënte gehad nie. 

“Ek is op die 25ste [Augustus] hierheen gehaas omdat ek longontsteking gehad het. Ek het drie dae lank in die ongevalle-afdeling geslaap. Ek het geen kussing of kombers gehad nie. Die tweede aand het ’n verpleegster vir my ’n kombers gebring. Ek het beheer oor my ingewande verloor. Daar was geen badkamergeriewe nie, dus het ek ’n dag lank in my ontlasting gelê terwyl ek aanhou vra het om geskuif te word.” 

In die video het London ook gekla oor die “onbesorgde” houding van dokters wanneer hulle na pasiënte omsien. 

“Twee dae gelede het ’n span jong dokters ’n lumbale punksie op [’n pasiënt in ’n bed naby my] kom doen. Terwyl hulle besig was om naalde in hom te steek, en hy soos ’n dier geskree het, het hulle hul bonusse en karre bespreek. Die dokters wat hier rondhardloop, behandel die pasiënte soos kakkerlakke.” 

Joe Phaahla, adjunkminister van gesondheid, het Maandag gesê die Gautengse Gesondheidsdepartement het belowe om ’n instandhoudingsprogram uit te voer om die hospitaal reg te maak. Hy het belowe om by die LUR vas te stel hoe die program vorder.

London het later in ’n afsonderlike plasing op Facebook gesê hy wag vir die Gautengse premier wat probeer om van Tshwane na die hospitaal te gaan voordat besoekure eindig. “Ek het vanmiddag drie ure saam met sy protokolbeampte deurgebring. As die premier dit vanaand maak, sal ek julle môreoggend op datum bring,” het London op Facebook geskryf .

Hy is later met die hulp van skenkings van die publiek na die Morningside-kliniek oorgeplaas vir verdere behandeling. Hy het byna die R120 000 se skenkings ontvang wat hy nodig het om vir die private sorg te betaal, het hy gesê.

Hy sê sy klagtes gaan nie net oor hom nie. “Almal wat al deur Helen Joseph is, het dieselfde klagtes as ek. Dit is dus nie my stem waarmee ek praat nie. Eerder die stemme van duisende ongelukkige Suid-Afrikaners.”

Suid-Afrikaners het met afgryse op die video reageer. Verskeie mense het gesê dit wys opnuut dat die regering se voorgenome nasionale gesondheidsversekering (NGV) onhaalbaar is.

“Dit is afgryslik! Gaan hierdie NGV regtig volhoubaar wees? Hierdie video moet ernstig opgeneem word om die betreurenswaardige toestand van sommige van die regering se mediese fasiliteite in die land te wys. Sommige dokters moet tot orde geroep word. Dit is ’n skande,” het van die deelnemers aan die gesprek die situasie opgesom.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top