Een van die mees gemarginaliseerde tale in die wêreld gaan vir die eerste keer hulle eie Bybelvertaling in hulle eie Khoisantaal kry. !Xhun is een van Afrika se oudste tale maar sprekers van die taal kon nog nooit die volledige Bybel in hulle eie taal lees nie.
Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika het besluit om die Bybel in samewerking met die Bybelgenootskappe van Namibië en Botswana asook ander Bybelvertalingsagentskappe wat werksaam is in dele waar die San woonagtig is, te help om die Bybel in !Xhun te vertaal.
!Xhun is een van die inheemse Khoisantale wat veg om oorlewing. Die taal is deur die inwoners van die Noord-Kaap gepraat lank voordat die Christelike geloof in Afrika bekend geword het.
Dit sal ongeveer tien jaar duur om al 32 000 verse en sowat 900 000 woorde in die Bybel te vertaal.
Volgens die hoof van vertaling by die Bybelgenootskap van Suid-Afrika, Masenyani Baloyi, is daar die afgelope Maandag met die vertaalwerk begin. Die mikpunt is om dit teen 2026 te voltooi.
Daar is drie vertalers geïdentifiseer wat elke week van Maandag tot Vrydag besig sal wees om die Bybel in !Xhun te vertaal. ʼn Hersieningskomitee van vyftien mense sal minstens vier keer elke jaar vergader om die vordering te evalueer en die vertaalwerk na te sien.
Daar is op drie vertalers besluit sodat enige meningsverskil oor ʼn spesifieke teksvers deur middel van ʼn beslissende stem opgelos kan word as daaroor gestem moet word.
Die vertaling sal met behulp van die oorspronklike Hebreeuse skrif vertaal word, asook verskeie ander vertalings.
Die huidige !Xhun-sprekers in Suid-Afrika is hoofsaaklik uit Angola afkomstig en woon reeds langer as 20 jaar in Suid-Afrika. Daar is slegs sowat 4 000 van die taal se sprekers in die land oor en ʼn verdere 10 000 tot 15 000 van hulle in Angola en Namibië.
Die !Xhun-gemeenskap in Platfontein naby Kimberley beskik oor ʼn skool, ʼn kerk en ʼn radiostasie. Daar is ook ʼn ontwikkelingsentrum vir vroeë-kinderontwikkeling vir die !Xhun maar hulle kan nie die volledige Bybel in hulle eie taal lees nie. Skriflesing word uit een van Angola se inheemse tale, Luchazi, en Afrikaans gedoen. Die kinders verstaan egter nie meer Luchazi nie. Sedert 2009 is daar reeds ʼn aantal korter Bybelverhale in !Xhun beskikbaar.
Baloyi sê die vertalers sien net so daarna uit om die volledige Bybel in !Xhun te vertaal as in 2009 toe die eerste Skrifgedeeltes in !Xhun beskikbaar gestel is.
Hy sê dit is ʼn baie ingewikkelde taak om die Bybel te vertaal, aangesien die vertalers seker moet wees dat alles op die grondteks gegrond is.
Die 1983- en 1953-vertaling van die Afrikaanse Bybel verskil byvoorbeeld wesenlik van mekaar omdat dit op twee verskillende vertalingsteorieë gegrond is.
Die 1983-vertaling is meer dinamies, terwyl die 1953-vertaling ʼn baie meer letterlike vertaling is.
Buro: NB