Suid-Afrikaners is opnuut in die war oor COVID-19-inentings. Dit volg nadat dit aan die lig gekom het dat een van die entstowwe, die AstraZeneca-entstof, waarskynlik nie doeltreffende weerstand teen die Suid-Afrikaanse variant van die virus bied nie.
Daar woed hewige debatte onder Suid-Afrikaners oor die vraag of hulle hul teen die virus moet laat inent of nie. Benewens sommige se geloofsoortuigings wat hulle van inenting weerhou, is daar ook talle mense wat sê hulle het nog nie genoeg vertroue in die entstowwe om in die tou te gaan staan om geënt te word nie.
President Cyril Ramaphosa het Suid-Afrikaners reeds verseker dat niemand gedwing sal word om teen hulle sin ingeënt te word nie en dat inenting vrywillig is. Hy het egter ook daarop gewys dat geen steen onaangeraak gelaat sal word om te sorg dat genoeg mense geënt word om kudde-immuniteit te verseker nie. Dit kan slegs bereik word as 67 persent van die land se mense, of 40 miljoen mense, geënt is.
Die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, sê kundiges sal nou bepaal hoe die dosisse van die AstraZeneca-entstof wat reeds in die land is, in die toekoms doeltreffend gebruik kan word. Dit volg nadat die regering planne vir die inenting van gesondheidswerkers met die entstof tydelik gestaak het.
Navorsing het aangedui dat die AstraZeneca-entstof slegs 22 persent doeltreffend is om matige gevalle van die Suid-Afrikaanse variant van die virus te verhoed. ’n Miljoen dosisse van die entstof het verlede week uit Indië in Suid-Afrika aangekom. Die regering oorweeg nou ander entstowwe wat deur Johnson & Johnson en Pfizer ontwikkel is. Mkhize het Sondagaand die media toegespreek.
On Sunday, February 7, Health Minister Dr Zweli Mkhize and a panel of leading experts hosted a media briefing to outline new developments in South Africa’s #COVID19 vaccine acquisition and rollout programme.
Read more here: https://t.co/56ahcbUvSv
— Dr Zweli Mkhize (@DrZweliMkhize) February 8, 2021
Die Britse junior minister van gesondheid, Edward Argar, het volgens die SAUK gesê daar is geen bewyse dat die Astra-Zeneca nie hospitalisasie, ernstige siekte of die dood voorkom nie. Argar het gereageer op Suid-Afrika se tydelike opskorting van die gebruik van die entstof. Argar sê net 147 gevalle van die Suid-Afrikaanse variant is in Brittanje bevestig en die oorspronklike virus is steeds die een wat algemeen voorkom. Hy sê die AstraZeneca-entstof, wat ontwikkel is in samewerking met die Universiteit van Oxford, is ook hoogs doeltreffend in die behandeling van die plaaslike Kent-variant.
Shabir Madhi, wat in beheer is van die studie in Suid-Afrika, sê intussen die moontlikheid bestaan dat die entstof doeltreffend kan wees in die voorkoming van ernstige infeksies. Hy sê die deelnemers aan die AstraZeneca-studie is gemiddeld 31 jaar oud, en weerspieël nie die demografie van mense wat ’n groter risiko het om ernstige simptome te toon nie.
Vroeër is in die media berig dat Switserland die AstraZeneca-entstof in hulle land afgekeur het omdat die land se mediese reguleerder, Swissmedic, sê daar is onvoldoende data beskikbaar om dit goed te keur.
#ICYMI: Switzerland has rejected the #AstraZeneca #COVID19 #vaccine saying the available data is insufficient for approval, while France and Germany have restricted the vaccine to over-65s. #VaccineForSA https://t.co/KriqXEKYq4
— IOL News (@IOL) February 8, 2021
Intussen word berig dat die doeltreffendheid van ander entstowwe, soos Johnson & Johnson s’n, ook van plek tot plek verskil. Vrye Weekblad het die naweek berig dat wat dié entstof se vermoë betref om ligte tot matige siekte te voorkom, dit in die VSA 72% doeltreffend was, in Suid- en Sentraal-Amerika 66%, en in Suid-Afrika 57%. Die laer plaaslike syfer is ook toe te skryf aan die variant wat hier woed.
Ramaphosa sê intussen ’n verslag van die Spesiale Ondersoekeenheid (SOE) oor die omvang van tenderkorrupsie met betrekking tot die verskaffing van persoonlike beskermende toerusting tydens die koronaviruspandemie is ontstellend.
From The Desk of The President - Monday, 8 February 2021 - https://t.co/h5ftqZBmEs As a country that has become far too used to hearing stories about corruption, little could have prepared us for seeing, in detail, the lengths to which some among our people have gone to steal pic.twitter.com/AK2l5waMC8
— Presidency | South Africa 🇿🇦 (@PresidencyZA) February 8, 2021
Ramaphosa sê in sy weeklikse nuusbrief dit was ’n verleentheid om uit te vind dat sommige staatsamptenare ’n geleentheid gesien het om geld te steel terwyl talle Suid-Afrikaners siek was en doodgegaan het. Die SOE-verslag, wat verlede week bekendgemaak is, het aangedui dat individue en entiteite wat geen ervaring in die vervaardiging of verspreiding van mediese voorrade gehad het nie, inderhaas maatskappye geskep het om geld uit die pandemie te maak. Ramaphosa het gewaarsku dat daar streng opgetree sal word teen diegene wat betrokke was by tenderkorrupsie, en dat stappe gedoen sal word om die geld terug te kry.