VF Plus en DA vlieg mekaar in die hare oor ANC

  • 0

Die DA en die Vryheidsfront Plus het mekaar in die hare gevlieg oor beweerde samewerking tussen die VF Plus en die ANC in een van die land se plaaslike munisipaliteite.

Dit volg nadat die DA in die Emfuleni-munisipaliteit die VF Plus daarvan beskuldig het dat hulle in ’n vennootskap met die ANC wil gaan om die munisipaliteit te bestuur.

Die DA-parlementslid en die party se kiesafdelingshoof in die Emfuleni Suid-kiesafdeling, Dennis Ryde, het die VF Plus die harnas ingejaag toe hy die party in ’n verklaring daarvan beskuldig het dat een van hulle raadslede ’n koalisie met die ANC in Emfuleni wil vorm.

Ryde het in sy verklaring gesê die DA in Emfuleni was verstom deur die aankondiging van ’n VF Plus-raadslid wat haar by die ANC-geleide koalisie se burgemeesterskomitee in die Emfuleni-munisipaliteit aansluit.

Hy sê in die konteks van die sogenaamde Moonshot-pakt, waar die DA saam met die VF Plus werk om ’n nasionale alternatief vir die ANC te bied, is hulle teleurgesteld dat die VF Plus in Emfuleni met die ANC saamgewerk het. “Terwyl ons die reg van alle partye respekteer om hul eie besluite te neem, spreek ons ​​ons standpunt uit dat die VF+ wat by die ANC in die regering aansluit nie in die beste belang van inwoners of kiesers is nie.”

Die VF Plus het enige sprake van samewerking met die ANC ten sterkste ontken en beskuldig die DA van opportunisme en oneerlikheid.

Die leier van die VF Plus, Pieter Groenewald, sê in ’n verklaring sy party sal onder geen  omstandighede met die ANC saamwerk nie en om so iets voor te gee, is kwaadwillig en opportunisties. “Dit is daarom betreurenswaardig dat die DA kiesers probeer mislei oor ’n situasie in Emfuleni.”

Volgens die DA het onlangse meningsverskille met die kleiner partye die ANC aangespoor om nuwe koalisievennote te soek. “Dit is verbasend dat hulle gewillige vennote in die Vryheidsfront Plus gevind het, wat daartoe gelei het dat die burgemeester raadslid Gerda Senekal as lid van die burgemeesterskomitee vir plaaslike ekonomiese ontwikkeling aangestel het,” het die DA in hulle verklaring beweer.

Groenewald sê egter dit is onwaar. Hy sê die feite is dat die ANC in Emfuleni ’n aanbod aan politieke partye gemaak het – ook aan die VF Plus – vir poste op die burgemeesterskomitee van dié plaaslike munisipaliteit. Die VF Plus het die aanbod van die hand gewys.

“Die DA het dié situasie nou op opportunistiese en oneerlike wyse geplooi om die indruk te wek dat die VF Plus bloot weens die aanbod bereid is om met die ANC saam te werk.”

Die VF Plus se standpunt oor samewerking met die ANC is volgens Groenewald deeglik gedokumenteer en goed bekend. Dit is dat daar nie nou óf later enige samewerking of koalisie met die ANC sal wees nie.

Hy sê sy party sal altyd in die belang van kiesers optree, ook in Emfuleni, waar die situasie uiters benard is.

Die munisipaliteit van Emfuleni is bankrot, skuldeisers het sy bankrekeninge laat vries weens uitstaande skuld, en daar is feitlik nie sprake van dienslewering nie.

“Hierdie is die direkte nalatenskap van die ANC se onbevoegdheid om te regeer. Die VF Plus sal gewis niks doen om die ANC se posisie te versterk en hom in regering te hou nie.”

Die VF Plus sê hulle sal, soos elders, sy rol as opposisieparty nougeset vertolk en sal alles moontlik doen om inwoners te help te midde van die gebrek aan dienslewering onder die ANC.

Tydens die plaaslikeregeringverkiesing van 2021 het die ANC se steun in Emfuleni tot onder 50% gedaal. Om hul oorheersing te behou en hul diensleweringsrekord te behou, het die ANC staatgemaak op die New Horizon Movement, ’n plaaslike party wat deur Mmusi Maimane se One South Africa-beweging gesteun word, asook twee ander klein partye. Baie kiesers wat hierdie kleiner partye aanvanklik ondersteun het, het volgers sommige raadslede egter hul frustrasie uitgespreek toe die verkose verteenwoordigers besluit het om hul beginsels te laat vaar en by die ANC se raadstruktuur aan te sluit.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top