Ten spyte van etlike uitsprake deur verskeie persone en instansies wat die teendeel beweer, sê die Vryheidsfront Plus plaasmoorde en uitsprake oor uitwissing van wittes wys dat volksmoord reeds begin het in Suid-Afrika.
Die VF Plus het volksmoord in die Nasionale Vergadering vergelyk met ’n storm wat nie eensklaps uitbreek en verwoesting saai nie, maar deur sekere tekens voorafgegaan word. Volgens een van die party se parlementslede, Wynand Boshoff, is die tekens reeds daar en moet dit ernstig opgeneem word.
Boshoff sê in ’n verklaring as die storm opkom, tref ’n mens voorsorg en wag nie tot die skip vergaan nie. “Daarom dat die VF Plus volksmoord ernstig opneem en die aandag daarop vestig. Hoewel ons nog nie by die stadium van uitwissing trek nie, sou dit dwaas wees om daarvoor te wag voor aandag daarop gevestig word,” sê hy.
Die VF Plus het volksmoord in die parlement se Nasionale Vergadering vergelyk met ‘n storm wat nie eensklaps uitbreek en verwoesting saai nie, maar deur sekere tekens voorafgegaan word. https://t.co/g6VNTrBNQz
— VRYHEIDSFRONT PLUS (@VFPlus) June 3, 2025
Kritici van hierdie siening wys daarop dat plaasmoorde nie uitsluitlik wit boere teiken nie, en dat die meerderheid slagoffers in sommige periodes swart mense was.
Die minister van polisie, Senzo Mchunu, het ook onlangs gewaarsku teen die term “volksmoord” en daarop gewys dat misdaadstatistieke nie noodwendig ’n rassemotief ondersteun nie.
Ernst van Zyl, ’n verteenwoordiger van AfriForum, het in Maart vanjaar verklaar dat AfriForum nie beweer dat daar ’n volksmoord op wit mense in Suid-Afrika is nie. Hy het beklemtoon dat plaasmoorde deel is van breër misdaadstatistieke en nie noodwendig as ’n sistematiese volksmoord geklassifiseer word nie. Dit is ondersteun deur ’n onderhoud met Newzroom Afrika, waarjn hy die akkuraatheid van misdaadstatistieke bevestig het.
Hierdie standpunte weerspieël ’n algemene konsensus onder gematigde en amptelike stemme dat plaasmoorde, hoewel tragies en ernstig, nie voldoen aan die internasionale definisie van volksmoord soos uiteengesit deur die Verenigde Nasies (VN) nie.
Die VN definieer volksmoord as dade met die opset om ’n nasionale, etniese, rasse-, of godsdienstige groep heeltemal of gedeeltelik te vernietig. Kritici wys daarop dat plaasmoorde as deel van breër misdaadpatrone beskou word, eerder as ’n sistematiese, staatgesteunde poging tot uitwissing.
Groepe soos die VF Plus en ander Afrikaanse organisasies soos AfriForum meen egter polariserende retoriek soos die sing van die struggle-lied “Kill the Boer” en plaasmoorde is moontlike voortekens van ’n dreigende risiko, al erken hulle dat die land nog nie by die stadium van uitwissing is nie.
In ’n verklaring verlede week sê AfriForum se uitvoerende hoof, Kallie Kriel, hulle het nog altyd op die ernstige aard van plaasmoorde gefokus eerder as om by semantiese debatte oor die term “volksmoord” betrokke te raak. Kriel sê hy meen egter dit het noodsaaklik geword om die optrede van president Cyril Ramaphosa se regering te toets aan die hand van hul eie maatstawwe rakende die betekenis van die woord.
Volgens Kriel getuig die ANC-geleide regering se verdediging van die “Kill the Boer”-slagspreuk, terwyl hulle soortgelyke oproepe elders in die wêreld uitwys as ’n bedoeling om volksmoord te pleeg, van dubbele standaarde rakende hul interpretasie van die Volksmoordkonvensie.
.@CyrilRamaphosa oortree VN se Volksmoordkonvensie deur nie “Kill the Boer” te veroordeel nie - https://t.co/nrNTaB7ZCN
— AfriForum (@afriforum) May 28, 2025
Kriel sê dat “plaasmoord-ontkenners” nou baie hard poog om die ernstige aard van plaasmoorde te onderspeel nadat die Amerikaanse president, Donald Trump, die internasionale kollig op plaasaanvalle in Suid-Afrika geplaas het.
Hy sê dit word onder meer gedoen deur die slagoffers van plaasmoorde en die marteling wat daarmee gepaardgaan, te ignoreer en eerder te fokus op ’n debat oor die terminologie wat gebruik moet word om plaasmoorde mee te beskryf.
Die internasionale organisasie Genocide Watch is volgens die VF Plus ’n instelling wat verwikkelinge wêreldwyd dophou om betyds teen dreigende volksmoord te waarsku. Hulle identifiseer 10 stadia van volksmoord, waarvan slegs die negende uitwissing behels.
Volgens Genocide Watch staan wit boere in Suid-Afrika by stadium 6 ten opsigte van polarisering, sê die VF Plus in hulle verklaring. Kenmerke van hierdie stadium is polariserende uitsprake en propaganda, gematigde lede van die aggressorgroep wat vermoor word, asook lede van die teikengroep, ontwapening van die teikengroep en wetgewing wat selfverdediging ondermyn.
Boshoff sê ’n stadium word bereik wanneer van die gelyste gebeure begin plaasvind, nie eers wanneer elkeen deel van die werklikheid is nie. Afskaffing van die kommando’s in 2003, wat vroeër landelike veiligheid verseker het, sowel as die konsepregulasies oor vuurwapens vir private sekuriteitsmaatskappye wat in April vanjaar gepubliseer is, ondermyn volgens hom boere se vermoë om hulself te beskerm aansienlik.
Verlede maand het ’n rubriekskrywer vir die Nederlandse koerant Trouw, Emine Uğur, geskryf dat daar geen volksmoord op Afrikaners in Suid-Afrika is nie, wat tot ’n hewige debat op X aanleiding gegee het.
Volgens @trouw columniste @overlistener is er geen genocide op Afrikaners in Zuid Afrika.. https://t.co/2uVSQ3xPc0 pic.twitter.com/wXlUzlhJ5V
— Monique X- Fluencer 🇳🇱 ✌️ (@moeva18) May 22, 2025
Haar standpunt word egter ondersteun deur verskeie ander kommentators wat aangedui het dat geen Suid-Afrikaanse politieke partye, insluitend dié wat Afrikaners verteenwoordig, amptelik beweer hier volksmoord in Suid-Afrika plaasvind nie.