Vier broers se ontvoerders nog op vrye voet

  • 0

Suid-Afrikaners is steeds in die duister wie agter die ontvoering sit van die vier broers wat drie weke gelede op pad skool toe ontvoer en Donderdag in die vroeë  oggendure met hulle ouers herenig is.

Die vier Moti-broers was Woensdag 20 Oktober 2021 omstreeks 07:00 op pad na hul skool, Curro Heuwelkruin, net buite Polokwane toe hulle voertuig deur gewapende mans voorgekeer is. Die ontvoerders, wat met twee voertuie gery het, is laas gesien toe hulle op die R81 met die kinders weggejaag het. ’n Groep mans met gewere en handwapens het hul voertuig vasparkeer en hulle met geweld verwyder.

Daar word bespiegel dat ’n sindikaat vir die ontvoering verantwoordelik was. Geen besonderhede is nog bekendgemaak oor ’n losprys wat geëis of betaal is nie en of die polisie ’n vermoede het wie verantwoordelik was nie.

Die teenmisdaadaktivis Yusuf Abramjee het gesê die publiek sal dalk weens vrees vir die ontvoerders nooit presies weet wat tydens die ontvoeringsdrama gebeur het nie.

Verskeie mense op sosiale media het bespiegel dat daar veel meer oor die ontvoerders bekend is as wat aan die publiek vertel word. “Dit is nie ’n lukrake ontvoering nie. Die familie en die betrokkenes het presies geweet waar hierdie kinders was en hoekom hulle geneem is; en wie die ontvoerders is,” was van die reaksies op Twitter.

Die vier seuns se ouers het in ’n verklaring  gesê hulle sien daarna uit om as gesin heling te vind en het gevra dat hulle hul privaatheid gegun sal word. Hulle sal waarskynlik binne ’n paar dae met die media oor die aangeleentheid gesels.

Volgens die polisie duur die ondersoek na die ontvoering steeds voort. Hulle het  ’n beroep gedoen op enigiemand met inligting wat kan help om die ontvoerders aan te keer om hulle asseblief te kontak.

Volgens die polisie se verklaring was al vier die kinders ongedeerd toe hulle gevind is. Kenners sê die sielkundige effek wat die insident op die kinders en die res van die gesin gehad het, moet nie onderskat word nie. Die hele gesin sal waarskynlik berading by ’n traumaterapeut of sielkundige moet ontvang.

Die familie se sakeonderneming het op sy sosiale-media-bladsy ook bevestig dat die vier kinders terug is by hulle ouers, Shakira en Nazim Moti, by hul huis in die woonbuurt Nirvana in Polokwane.

Die ouers sê in hulle verklaring hulle is bly oor die terugkeer van hul vier seuns. “Ons dank die Almagtige Allah dat hy ons gebede en die gebede van soveel mense in Suid-Afrika wat gebid het vir die veiligheid van ons kinders, verhoor het.”

Hulle het ook hulle dank betuig teenoor die Suid-Afrikaanse Polisiediens, politieke partye, en mede-Suid-Afrikaners in die algemeen wat aan hulle gedink het.

Hulle sê hulle is dankbaar die kinders is vrygelaat en het hulle vol hoop na die toneel gehaas toe hulle die oproep oor hulle kinders ontvang.

“Die hele Suid-Afrika het ons ondersteun en ons wil een en almal bedank vir hul ondersteuning en vriendelike gebede.”

Polisiewoordvoerder Brigadier Vish Naidoo sê die seuns het na ’n huis gestap waar hulle deur ’n kind in die huis herken is, en die polisie is ontbied. Naidoo het gesê toe die seuns gevind is, is hulle deur ’n dokter ondersoek wat bevestig het dat hulle in goeie gesondheid verkeer.

Die polisie in Vuwani het glo ’n oproep van ’n plaaslike inwoner ontvang wat sê die kinders het by hul huis aangekom en gesê hulle is op ’n nabygeleë pad afgelaai. “Die kinders is nog nie ondervra nie, maar die ondersoekers sal reël dat SAPD-sielkundiges met die onderhoude help.”

  • Inligting kan gekommunikeer word via SAPD Crime Stop by 086 00 10111 of via MySAPS App. Alle inligting sal met die grootste vertroulikheid hanteer word en bellers kan anoniem bly.
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top