Vierde COVID-golf tref Wes-Kaap in vakansieseisoen

  • 0

Die Wes-Kaap het amptelik die vierde golf van COVID-19-infeksies betree pas nadat die vakansieseisoen begin het.

Die provinsie se premier, Alan Winde, sê alhoewel daar ’n vinnige toename in gevalle in die provinsie is, sien hulle nog nie dieselfde koers in hospitalisasie en sterftes as tydens die vorige golf nie.

Winde sê in ’n verklaring daar word daagliks gemiddeld 1 600 nuwe gevalle aangeteken. Dié syfer sal na verwagting in die komende weke styg. Volgens Winde word 439 mense in privaat- en staatshospitale vir die virus behandel, waarvan 45 mense in die intensiewe- of hoësorgeenhede is. Hy het diegene wat nog nie ingeënt is nie aangemoedig om dit te doen.

Winde het op Twitter gesê hulle monitor die data om te sien of hierdie tendens voortduur, aangesien dit nog baie vroeg is.

Die SA Reguleringsowerheid vir Gesondheidsprodukte (SAHPRA) het verlede week aangekondig dat hulle die toediening van ’n derde dosis van die Pfizer-entstof goedgekeur het. Dit behels ’n derde dosis van die Comirnaty® COVID-19-entstof by individue van 18 jaar en ouer wat minstens 6 maande na die tweede dosis toegedien moet word.

’n Derde dosis van die Comirnaty® COVID-19-entstof by individue van 12 jaar en ouer wat ernstig immuungekompromitteer is, moet minstens 28 dae na die tweede dosis toegedien word.

Vanaf 17 Mei tot 3 Desember 2021 is daar altesaam 19 853 346  Pfizer-BioNTech-dosisse toegedien met 3 741 ongewenste reaksies (adverse effect following immunisation of AEFI) wat aangemeld is. ’n AEFI is ’n ongewenste mediese gebeurtenis wat volg op immunisering en het nie noodwendig ’n oorsaaklike verband met die toediening van die entstof nie. Die nadelige gebeurtenis kan ’n ongunstige of onbedoelde teken, abnormale laboratoriumbevinding, simptoom of siekte wees.

Volgens SAHPRA se jongste verslag is daar in dieselfde tydperk 5 729 022 Janssen-entstofdosisse toegedien met 1 012 totale newe-effekte na immunisering (AEFI’s) wat aangemeld is.

Die goeie nuus is dat slegs 0,00068% van diegene in SA wat ’n COVID-19-inenting het weens die siekte sterf.

Die meeste AEFI’s vir COVID-19-entstowwe is volgens SAHPRA nie-ernstig en lig, byvoorbeeld ligte hoofpyn, pyn en rooiheid by die inspuitplek en ligte koors, en verdwyn binne die eerste 2 tot 3 dae na inenting. Nie alle vermeende nadelige gebeurtenisse, hetsy gering of ernstig, word deur die entstof veroorsaak nie, sê SAHPRA. Dit is moontlik dat die tydsberekening van die vermoedelike nadelige gebeurtenis toevallig met die inenting saamval.

SAHPRA sê alle medisyne, insluitend entstowwe, kan newe-effekte veroorsaak. Die voordele van COVID-19-inenting weeg volgens SAHPRA egter swaarder as die risiko’s. “COVID-19-entstowwe het bewys dat dit ernstige vorme van siektes, hospitalisasie en dood voorkom.”

Premier Alan Winde sê hoewel dit altyd skrikwekkend is om te hoor dat daar nog ’n golf van COVID-19-gevalle is, moet mense kalm bly en hulle angs in aksie verander.

“Ons kan dit doen deur vier stappe te volg: Ent so gou moontlik in, want inentings voorkom ernstige siekte. Maak seker jy dra jou masker, want die virus versprei in die lug. Sorg ook vir goeie ventilasie met baie vars lug, en as jy ander ontmoet, doen dit buite. Dit is baie makliker op ons somermaande. Saam met die goue reëls van goeie higiëne, insluitend om tuis te bly wanneer jy siek voel, kan ons die verspreiding vertraag en lewens en werk in die Wes-Kaap red.”

Die Wes-Kaap se provinsiale Minister van Gesondheid, Nomafrench Mbombo, sê die Wes-Kaap het ’n sespunt-aksieplan in plek om te verseker dat hulle op hierdie vierde golf kan reageer.

“Deur data en lesse uit vorige golwe te gebruik, sal ons ’n snellerreaksie gebruik om die hulpbronne aanlyn te bring wat nodig is om te sorg vir elke persoon wat behandeling nodig het. Maar ons moet ons gesondheidsorgstelsel beskerm, veral sodat ons nie ander lewensreddende dienste hoef af te skaal nie. Die beste manier om dit te doen, is om in te ent, omdat inentings ernstige siekte voorkom. Dit sal jou uit die hospitaal en uit die ICU hou. Tree asseblief nou op, sodat jy veilig deur hierdie golf kom,” het Mbombo gesê.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top