Vinnige optrede geëis na urineringsvideo by Universiteit Stellenbosch

  • 0

Die Universiteit Stellenbosch-student op wie se skootrekenaar en ander besittings daar deur ’n medestudent geürineer is, het Dinsdag klagte van inbraak, opsetlike saakbeskadiging en rassisme teen sy kamermaat gelê.

Intussen het daar landwyd uit verskeie oorde stemme opgegaan dat daar vinnig en doeltreffend opgetree word teen die student wat vir die voorval verantwoordelik was. Hy is reeds voorlopig geskors hangende die uitslag van die ondersoek en moes die kampus verlaat.

’n Petisie wat Dinsdag op die internet geplaas is, waarin daar gevra word dat hy nie net uit die koshuis geskors moet word nie, maar ook uit die universiteit, het Dinsdag binne ’n japtrap reeds sowat 60 000 handtekeninge gehad.

Volgens die petisie was die student, wat as Theuns du Toit geïdentifiseer is, se optrede duidelik ’n rasgedrewe aanval. “Hierdie optrede is ’n blatante skending van die slagoffer se menseregte, soos beskerm deur die Grondwet van Suid-Afrika. Du Toit is uit die Universiteit geskors, maar dit alleen is nie ’n genoegsame gevolg vir sy optrede nie. Hy het ’n ander student se menswaardigheid geskend en moet uit die Universiteit verwyder word,” lui die petisie se bewoording wat hier op die internet geplaas is.

Die polisie het Dinsdag bevestig dat die 20-jarige eerstejaarstudent Babalo Ndwayana sake van huisbraak, opsetlike saakbeskadiging en crimen injuria by die Stellenbosch-polisiestasie geopen het. Polisiewoordvoerder kapt Frederick van Wyk het aan die media gesê die polisie ondersoek die saak en niemand is nog in hegtenis geneem nie.

Die student wat na bewering vir die voorval verantwoordelik is, het aan Netwerk24 gesê hy verwerk nog wat gebeur het. Volgens Netwerk24 het hy telefonies aan hulle gesê hy is nog nie gereed om oor die voorval te praat nie. Hy het glo wel gesê hy weet wat hy gedoen het, is verkeerd, en vra verskoning vir sy optrede. Sy ouers het hom glo op die kampus gaan haal.

Sy kamermaat op wie se besittings hy geürineer het, wou ook nie verder oor die voorval uitwei nie. Buite die polisiestasie waar hy die klag ingedien het, het Ndwayana, ’n landboustudent, gesê hy is steeds getraumatiseerd  en ook uitgeput ná die intense media-aandag.

Die ANC het gesê hy merk “’n toenemende neiging” van rassisme by die Universiteit Stellenbosch op “en die bestuur se flou reaksie daarop”.

Die ANC sê in ’n verklaring: “Die ANC ondersteun die slagoffer ten volle en doen ’n beroep op die universiteit om hardhandig op te tree teen die wit student”. Die ANC sien dit “’n daad van pure rassisme.”

Die DA het ook die voorval ten sterkste veroordeel. Die party sê in ’n verklaring hulle verwelkom die formele ondersoek wat die Universiteit Stellenbosch se bestuur van stapel gestuur het.

“Die voorval, wat op video vasgevang is, is vernederend, kwetsend en skend die grondwetlik-verskanste reg op waardigheid van die slagoffer, Babalo Ndwayana, wat sedertdien in die openbaar na vore gekom het,” lui die DA se verklaring.

Die DA se kiesafdelingshoof in Stellenbosch, Leon Schreiber, sê sy party dring daarop aan dat die aangeleentheid hanteer word met die nodige spoed, ywer en erns wat die situasie vereis. “Ons moedig ook die universiteitsowerhede aan om alle nodige ondersteuning aan mnr Ndwayana te verskaf om die impak hiervan op sy studies te minimaliseer. Hy het nie gevra dat dit gebeur nie, en hy moet nie nadelige gevolge ly nie.”

Die SA Menseregtekommissie het ook gesê hy sal ondersoek instel, en Dinsdag het die universiteit se verteenwoordigende studenteraad gevra dat Du Toit geskors word.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top