Viva Afrikaans vir hoëvlakfunksies

  • 0

’n Ooreenkoms om die hoëvlakfunksies van Afrikaans te bevorder is die afgelope week tussen die Virtuele Instituut vir Afrikaans, VivA, en die privaat universiteit Akademia gesluit."   

Luidens die ooreenkoms sal VivA as onafhanklike kontrakteur by die nuutgestigte Taalsentrum van Akademia aansluit ter ondersteuning van verskeie projekte en aktiwiteite. Laasgenoemde sluit onder meer in die bevordering van navorsing in Afrikaans, betrokkenheid by programontwikkeling, internskapgeleenthede en taalpraktykgerigte kortkursusse. Die aanbied van nasionale en internasionale konferensies word ook in die vooruitsig gestel namate die ooreenkoms verder ontwikkel.

Volgens Alé Steyn, die departementshoof van Tale en Kultuurwetenskappe en Taalsentrum-koördineerder by Akademia, sal die vennootskap geleenthede vir albei partye skep om Afrikaans op verskeie wyses te bevorder.

Sy sê dat die ooreenkoms ook direk spreek tot die instelling se bestaansrede as ’n Afrikaanse hoëronderwysinstelling, nie net in die Suid-Afrikaanse konteks nie, maar ook op die internasionale verhoog.

Volgens Marlie Coetzee, die uitvoerende direkteur van VivA, is die bevordering van Afrikaans, op welke terrein ook al, nie ’n taak wat alleen aangepak kan word nie. Daarom werk VivA graag mee met ander organisasies wat hulle beywer vir die voortgesette ontwikkeling van Afrikaans.

Die bestuurshoof van Akademia, Marthinus Visser, sê die samewerking met VivA verteenwoordig nie net taalviering nie, maar is ook ’n opwindende voortsetting van Akademia se verbondenheid tot die Afrikaanse universiteitswese.

Hy meen dat die aankondiging nóg ’n hoogtepunt op die instelling se jaarkalender is en dat dit onomwonde getuienis lewer van die groei wat Akademia binne die milieu van die Afrikaanse taal- en kultuurgemeenskappe beleef.

Die Taalsentrum, wat vroeër vanjaar tydens die bekendstelling van die instelling se nuwe BA (Taalstudies)-program in Centurion aangekondig is, het dit ten doel om Afrikaans as akademiese, algemene én vreemde taal uit te bou. Hierbenewens is die sentrum, wat in die Fakulteit Geesteswetenskappe se Departement Tale en Kultuurwetenskappe gesetel is, ook gemoeid met die uitbou van die akademiese taalvaardigheid van Akademia-studente tot op die hoogste vlak. Laasgenoemde rus studente toe om hul studies en beroepe in die werksplek met groot sukses te kan voltooi en beoefen.

VivA is ’n gevestigde navorsingsinstituut en diensverskaffer vir Afrikaans in digitale kontekste.

Sy hoofdoelstelling is om die gebruik, asook die gehalte, van Afrikaans uit te bou deur onder meer die beskrywing en bestudering van die taal in sy volle omvang; die ontwikkeling van omvattende digitale en ander hulpbronne, hulpmiddele en platforms vir geskrewe Afrikaans, sowel as die lewering van praktiese Afrikaanse taaldienste deur middel van tegnologie.

Theuns Eloff, direksievoorsitter van die Trust vir Afrikaanse Onderwys (TAO), sê die TAO verwelkom die feit dat VivA, ’n noodsaaklike en unieke organisasie in diens van die Afrikaanse taal, ’n akademiese vennootskap by Akademia gevind het. Hy sê hierdie vennootskap sal vir albei instansies tot voordeel wees, maar belangriker as dit, die diens wat VivA aan die Afrikaanse taalgemeenskap lewer, verder sal verdiep en uitbrei.

“Met hierdie nuwe samewerking verseker VivA en Akademia dat Afrikaans in die hoëronderwyssektor floreer. Ons glo dat hierdie samewerking ons nader aan ons doel sal bring om Afrikaans vir toekomstige generasies te bewaar en te bevorder as ’n akademiese taal, maar ook as ’n onderrigtaal, kultuurtaal en gesinstaal,” het hy gesê.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top