Vlak 1 van COVID-19-inperking word oorweeg

  • 0

Suid-Afrikaners kan waarskynlik binnekort uitsien na nog verligtings wanneer die grendelstaat van vlak 2-inperking na vlak 1 verlig gaan word. ’n Aankondiging hieroor sal waarskynlik volgende week deur president Cyril Ramaphosa gedoen word wanneer hy weer die land toespreek.

Ramaphosa het Woensdagaand tydens ’n virtuele gesprek met die Suid-Afrikaanse Nasionale Redakteursforum ’n sterk aanduiding gegee dat die regering dit oorweeg om die huidige regeringsregulasies te verlig.

Hy het tydens die gesprek en vraag-en-antwoord-sessie gesê die koronavirusbevelsraad is besig om verskeie voorstelle te evalueer om maniere te vind om die inperkingsregulasies verder te verlig. Die gesprek was deel van sy dialoog met verskillende sektore van die samelewing.

Daar was onder andere versoeke van geloofsgemeenskappe om die beperking dat slegs 50 mense op ’n slag ’n erediens mag bywoon ook te hersien. Een van die besware teen die huidige regulasie is dat alle kerke oor dieselfde kam geskeer word ongeag die grootte van hul geboue. Dit maak nie sin dat ’n klein kerkgebou met sitplek vir 50 mense toegelaat word om ’n erediens met 50 lidmate te hou terwyl kerkgeboue met plek vir meer as 1 000 mense ook slegs 50 mense per erediens mag toelaat nie, word gesê.

Een van die voorstelle is dat die regulasies eerder moet bepaal dat 50 persent van ’n kerk beset mag word tydens ’n erediens.

Die President sê die bevelsraad oorweeg ook versoeke van die sportgemeenskap, die vermaaklikheidsbedryf, hotelle en die toerismebedryf in die algemeen om regulasies te verlig.

“Ons oorweeg al daardie versoeke terwyl ons ’n evaluasie doen van die koronavirus se infeksiekoers.” Ramaphosa sê daar sal uitsluitsel gegee word sodra die nodige advies ingewin en behoorlik oorweeg is. Dit sluit onder andere aanbevelings van die Mediese Navorsingsraad in.

“Hou die spasie volgende week dop,” het die President gesê toe hy laat blyk het dat hy die land weer volgende week gaan toespreek.

Hy het ook oor die ekonomie gepraat en sê die regering gaan op die implementering van ’n ekonomiese herstelplan fokus. Dit behels ’n uitbreiding van die staat se kapasiteit en sal vanuit sy kantoor bestuur word. Ramaphosa het gesê dit is nodig om die implementering vanuit ’n sentrale punt te doen ten einde koördinering tussen departemente te bewerkstellig.

“Ons konsentreer tydens die herstelproses op ’n aantal sleutelprioriteite, onder andere infrastruktuur en grootskaalse werkskepping,” het Ramaphosa gesê.

Die President sê daar word ook ernstig gefokus om enige korrupsie wat met COVID-19 verband hou op te spoor en die skuldiges aan die pen te laat ry.

Die minister van gesondheid, Zweli Mkhize, het ook Woensdag in ’n radio-onderhoud gesê Suid-Afrika moet na vlak 1 beweeg en “normale aktiwiteite” hervat as deel van die land se ekonomiese herstel. Hy sê dit sal steeds nodig wees om belangrike maatreëls te volg ten opsigte van samekomste, maar dit is noodsaaklik om die ekonomie verder oop te maak sodat meer mense kan terugkeer na hulle werk.

Daar is nog geen duidelikheid presies watter maatreëls verlig gaan word nie, maar van die beperkings wat steeds geld en ’n demper op die ekonomie plaas, raak onder andere nagklubs, internasionale reise vir vakansiedoeleindes, passasierskepe vir internasionale ontspanningsdoeleindes en die bywoon van sportbyeenkomste as toeskouers.

Die COVID-19- tydelike werknemer/werkgewer verligtingskema-uitbetalings is intussen tot 15 September verleng. Die departement sê meer as R41 miljard is al aan sowat 800 000 werkgewers uitbetaal wat namens hul werknemers aansoek gedoen het. Die departement sê die Werkloosheidsversekeringsfonds sal aansoeke tot 15 September vanjaar vir die tydperk Maart tot Julie aanvaar. Aansoeke vir die tydperk Augustus tot 15 September sal op 30 Oktober sluit.

*Die nasionale ramptoestand is verleng tot 15 Oktober 2020.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top