Vlak 1 vyf maande te laat, sê Steenhuisen

  • 0

Vlak 1 van die grendeltyd kom vyf maande te laat, maar die DA verwelkom president Cyril Ramaphosa se aankondiging dat die land van Maandag af ’n stap nader aan normaal sal wees, sê die tussentydse DA-leier John Steenhuisen.

Die Vryheidsfront Plus (VF+) sê in sy reaksie die verlaging na vlak 1 was te verwagte, maar Suid-Afrika het ekonomiese herstel nou meer nodig as enige onnodige inperkingsmaatreëls.

President Ramaphosa se volledige verklaring kan hier gelees word.

Die President se oproep aan Suid-Afrikaners om deel te neem aan die Jerusalema-dans-uitdaging is egter skerp gekritiseer deur die leier van die VF+, Pieter Groenewald. Hy sê dit herinner aan Marie Antoinette wat gesê het die armes moet koek eet. “Vir die President om te sê Suid-Afrikaners moet dans terwyl die land in ’n ekonomiese depressie is, sonder dat hy enige werklike plan aankondig om ekonomiese herstel te bewerkstellig, is uiters teleurstellend," sê Groenewald.

Die DA-leier sê in ’n verklaring wat kort na Ramaphosa se aankondiging uitgereik is dat hoewel dit veels te laat is, sy party bly is dat internasionale grense weer oopgestel word en dat beperkings wat die ekonomie strem, verder verlig gaan word. Steenhuisen het sy versoek herhaal dat die aandklokreël in geheel geskrap word.

Volgens Ramaphosa se aankondiging Woensdagaand toe hy die volk oor TV toegespreek het, word die aanklokreël verslap en mag mense van Maandag af tot 12-uur middernag uitbly pleks van 10-uur saans soos wat tans die geval is met vlak 2.

Drankwinkels se ure word ook verleng en hulle mag volgende week van Maandae tot Vrydae tussen 09:00 en 17:00 drank verkoop en hoef nie Donderdae vyfuur te sluit soos tans die geval is nie.

Steenhuisen sê in sy verklaring noudat die koronavirus in trurat is, is dit tyd vir bestekopname. Die DA het gevra vir ’n parlementêre debat en die aanstelling van ’n ad hoc-komitee om die regering se bestuur van die koronapandemie te evalueer. Die party sê president Ramaphosa en sy regering moet tot verantwoording geroep word vir die sosio-ekonomiese moeras waarin die land beland het weens die inperking, omdat dit vermy kon gewees het.

“Die grootste deel van die ekonomie moes reeds vyf maande gelede ten volle heropen het toe die DA daarvoor gevra het. Dit was reeds in die middel van April duidelik dat ’n uitgerekte inperking vernietigende sosio-ekonomiese gevolge vir die land inhou. Dit sluit in duisende bykomende sterfgevalle aan ander siektes, miljoene verlore werksgeleenthede en huishoudings wat in groter armoede gedompel is.” Steenhuisen sê daar is ook duisende besighede verwoes, wat ongelykheid in die land verder verhoog het, en miljarde rand se inkomstebelasting wat moes help om die land se armoede te verlig, is verlore.

“Elke lewe wat verloor is, is ’n menslike tragedie. Die aantal lewens wat weens armoede, ander siektes, geslagsgebaseerde geweld, selfdood en depressie veroorsaak is, sal moeiliker wees om te bereken as die getal mense wat aan COVID-19 dood is omdat hierdie oorsake van sterftes weens die grendeltyd oor ’n tydperk van dekades kan voortduur eerder as maande. Maar minder sigbaar is nie minder werd nie,” sê die DA in hulle verklaring.

Die VF+ se Pieter Groenewald het op sy party se webwerf gesê die VF+ se standpunt is steeds dat alle inperkings op enkele uitsonderings na opgehef moet word.

Hy sê daar is verstaanbare uitsonderings, soos ’n verbod op massasportbyeenkomste en beperkings op reise na en van lande met ’n aansteeklikheidsrisiko.

"Verskeie sektore soos die gastebedryf wat grootliks van toerisme afhanklik is, asook die restaurant-, rolprent- en kunstebedrywe, voer tans ’n desperate stryd om oorlewing en dit is belangrik om hulle van finale ondergang te red.”

Die aandklokreël en beperkte handelstye kon volgens Groenewald nie meer bekostig word nie. Hy sê die nuwe spertyd is nog een van die regering se onverstaanbare maatreëls wat nie sin maak nie. Dit is ook nie duidelik op presies watter sektore dit van toepassing sal wees nie.

Buro: MvH
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top