Suid-Afrikaners is verdeeld oor die jongste maatreëls wat president Cyril Ramaphosa die afgelope week aangekondig het om die derde vlaag van COVID-19 te probeer stuit.
Aan die een kant verwelkom instansies soos die wyn- en restaurantbedrywe dit dat die President nie weer ’n algehele drankverbod aangekondig het nie, terwyl ander meen hy moes al vroeër strenger maatreëls getref het.
Die Suid-Afrikaanse Mediese Vereniging (SAMV) is van mening dat strenger maatreëls reeds vroeër ingestel moes gewees het om die derde vlaag in bedwang te hou. Volgens SAMV se voorsitter, Angelique Coetzee, is die jongste beperkings te min te laat. Sy sê sommige hospitale se kapasiteit word reeds tot die maksimum gerek.
Sy het aan die SAUK gesê daar moet strenger beperkings wees op byeenkomste waar mense saamdrom; mense moet sover moontlik tuisbly, en daar moet veral in Gauteng herbesin word oor skole wat oop is. Sy sê mense sukkel reeds om ’n hospitaalbed in Gauteng te kry as dit nodig is, maar dit lyk nie of die regering bereid is om moeilike besluite te neem nie.
The South African Medical Association (SAMA) says stricter lockdown measures need to be implemented to curb the spread of the coronavirus or else the country risks losing the fight against the pandemic.https://t.co/EhBPorWusb
— SABC News (@SABCNews) June 17, 2021
In ’n onderhoud met Jakaranda FM het Coetzee gesê dit was ’n stap in die regte rigting om terug te keer van vlak 3-inperking. Sy sê dit maak egter nie sin om ’n verbod op die verkoop van drank te plaas van Vrydae tot Sondae nie, aangesien mense steeds in restaurante en kroeë kan drink.
Sy sê as mense waar moontlik drie tot vier weke by die huis kon bly en so ver as moontlik wegbly van inkopiesentrums, sou die kanse goed wees om die virus se verspreiding te beperk. Sy voorsien nie dat dit gaan gebeur nie.
’n Senior navorser van die WNNR, Ridhwaan Suliman, het op Twitter gewaarsku dat die derde golf se hospitalisasie nou met ons is. Hy sê dit kan die vorige rekords oortref en dit hang van onsself en die land se kollektiewe gedrag af hoeveel dit gaan styg.
[Thread] Dear fellow Gautengers
A plea to take extra precaution🙏
The 3rd wave of hospitalisations is here! #COVID19 numbers are about to exceed previous peaks. We're entering uncharted territory. How high we go is still up to us,and our collective behaviour!#Rid1TweetsonCovid pic.twitter.com/Qk9DXwBjB7
— Ridhwaan Suliman (@rid1tweets) June 16, 2021
Ramaphosa het Dinsdag sy kommer uitgespreek oor die erns van die derde vlaag wat besig is om oor die land te versprei. Hy het maatreëls aangekondig om die aantal nuwe aktiewe gevalle oor die volgende paar weke te verminder terwyl die uitrol van inentings besig is om vorm aan te neem. Dit is egter ’n ope vraag of die maatreëls genoeg is.
Die Wynprodusente-organisasie Vinpro se bestuurshoof, Rico Basson, sê in ’n verklaring hulle deel die President se kommer oor die nuwe vlaag en doen daarom ’n ernstige beroep op elke individu en besigheid in die bedryf om by die voorkomingsmaatreëls te hou en die bestaande veiligheidsprotokolle steeds nougeset toe te pas.
Volgens die jongste regulasies mag geregistreerde wynkelders en wynplase wel voortgaan om wynproeë aan te bied en wyn vir tuisverbruik te verkoop gedurende alle normale gelisensieerde handelsure, insluitend naweke en openbare vakansiedae.
Die vervoer van wyn en/of ander drankprodukte deur die publiek, en/of as deel van verspreiding en aflewering, is ook toelaatbaar.
Byeenkomste, insluitend godsdienstige byeenkomste, mag nie 50% kapasiteit oorskry nie, tot ’n maksimum van 50 persone binnenshuis en 100 buite.
Volgens Vinpro is die jongste regulasie rakende die verkoop van alkohol baie positief vir die wynbedryf en veral vir wyntoerisme, wat swaar gebuk gaan onder die impak van vorige beperkings.
Vinpro sê hierdie uitkomste is belyn met deurlopende konsultasie tussen Vinpro en die Wes-Kaapse regering, asook onderskeie nasionale regeringsdepartemente, insluitend ’n spesifieke voorlegging aan die minister van landbou, grondhervorming en landelike ontwikkeling, Thoko Didiza, waarin die bedryf se noodsaaklike ekonomiese bydrae, werkskepping en die belangrike rol van toerisme in die groter wynbedryf- en landbouprentjie weer benadruk is.