Vlammesee saai verwoesting om Tafelberg

  • 0

Die verwoestende brande wat sedert Sondag soos ’n vlammesee om Tafelberg gewoed het, is moontlik opsetlik gestig of vermoedelik die gevolg van nalatigheid weens die vuur van hawelose mense.

Die vuur het aanvanklik in die omgewing van die Rhodes-gedenkteken aan die hange van Tafelberg begin. Daarna het dit letterlik soos ’n veldbrand versprei. Brandslaners en helikopters het vergeefs probeer keer dat die vlamme versprei en binne ure was die brand buite beheer.

Die Kaapse burgemeester, Dan Plato, het die Universiteit van Kaapstad Maandag besoek om hom te vergewis van die skade wat die brand veroorsaak het.

Een persoon is reeds in hegtenis geneem in verband met brandstigting. Volgens Netwerk24 kan die man nie verbind word met die groot brande nie, maar hy het toegegee dat hy ’n vuur aangesteek het.

Verskeie kosbare erfenisgoed, onder andere die oudste bestaande en enigste volledige windmeul in die land, Mostert se meul in Mowbray, wat in 1796 gebou is, is ook in die brand vernietig.

Verskeie geboue van die universiteit, asook ander geskiedkundige geboue het afgebrand.

Foto: Izak de Vries

Van die universiteit se koshuise moes ontruim word en alternatiewe blyplek is inderhaas vir die studente gereël. Vier duisend studente is haweloos en is in hotelle in die stad geplaas.

Meer as 250 brandbestryders van Working on Fire, Sanparke en die Kaapse Metro spook sedert Sondag om die vuur te midde van sterk wind te blus.

Dit is dieselfde universiteit waar studente in 2016 en 2017 waardevolle kunswerke verbrand het omdat dit volgens hulle nie op die kampus tuishoort nie vanweë die koloniale konnotasie wat hulle daaraan geheg het.

Die verbranding van hierdie kosbare kunswerke is onder andere aangehits deur aktiviste van die #FeesMustFall-veldtog wat sterk deur die EFF ondersteun is.

Die naweek se brand is deur die EFF betreur.

Een van die studente-aktiviste, Masixole Mlandu, het egter die brand verwelkom en gesê die “swart gode” moet bedank word daarvoor.

Mlandu was een van die voorbokke tydens die #FeesMustFall-veldtog. Hy is in 2018 tot gemeenskapsdiens gevonnis weens sy optrede tydens die onluste op die kampus in 2016. Hy is destyds onder meer aangekla van opsetlike saakbeskadiging en aanstigting tot geweld, maar is weens humanitêre oorwegings tot slegs gemeenskapsdiens gevonnis.

In Sondag se twiet het hy gesê die terrein om die Rhodes-gedenkteken was vir te lank ’n teken van uitsluiting en ’n wegkomplek vir wit plesier. “Dit moet afbrand, asook die instituut langsaan,” het Mlandu getwiet.

Nog een van die studente, Aseza Zanokuhle, wat homself as ’n “student van kennis” en studente-aktivis beskryf, het op Twitter gesê die Rhodes Memorial moet tot op die grond afgebrand word. “Dit is nie net ’n vuur nie, maar ’n skoonmaakproses. Koloniale verrotting het geen plek in die gemeenskap nie. Laat dit brand. Studente moet met petrol en paraffien help om seker te maak dat hierdie stap wat deur die natuur begin is, verhaas word,” het hy op Twitter gesê.

Die EFF sê egter in hulle verklaring hulle neem met spyt kennis van die brand en veral die “tragiese” brand by die Jagger-biblioteek. Die geskiedenis wat as gevolg van die brand verwoes is, is onberekenbaar en moet ’n teken wees vir alle instellings van hoër onderwys om te sorg dat argiewe en belangrike dokumente gedigitiseer word, sê die EFF in hulle verklaring.

Stad Kaapstad het Maandag in ’n verklaring gesê daar word baie bespiegel oor bykomende vure wat begin word en of die oorspronklike vuur as gevolg van brandstigting ontstaan het.

Die stadsraad sê dit sal deel wees van ’n ondersoek en het bevestig dat ’n 35-jarige man vroeër in hegtenis geneem is in verband met die brand.

Volgens die polisie is die man Sondagaand in Philip Kgosana-rylaan aangekeer waar die brand uitgebreek het. Dit volg nadat die buurtwag na bewering drie mans gesien het wat ’n vuur teen die hange van Tafelberg maak. Hulle het wetstoepassers daarvan in kennis gestel. Die polisie sê die persoon wat aangekeer is, word aangekla van brandstigting. Hy sal binnekort in die hof verskyn.

Die Kaapstad Metro het mense wat teen die hange van Tafelberg in Kaapstad woon, Maandag ook gevra om gereed te wees om hulle huise te verlaat indien hulle so versoek word. Die brand is aangeblaas deur ’n sterk suidooster. Minstens drie geboue – insluitende die biblioteek – op die boonste kampus van die universiteit het teen Maandag in die slag gebly.

Lees ook op LitNet:

Universiteit Kaapstad-brand

Heritage to ashes, dust to dust

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top