Suid-Afrikaners moet al hoe duurder opdok vir hulle braaivleis, maar in vergeleke met lande soos Nederland is dit steeds ’n winskoop om vleis te eet en te braai.
Verbruikers staar hoër koste vir rooi- en witvleis in die gesig nadat die prys van vleis in Suid-Afrika weer in Mei 2025 gestyg het.
Nogtans bly die land se vleisbedryf mededingend op die wêreldverhoog.
Vir Suid-Afrikaners is die stygende pryse van rooi- en witvleis ’n belangrike kwessie wat verbruikers direk raak, omdat dit bydra tot die hoër lewenskoste in die land.
Volgens data wat die afgelope week deur Statistieke Suid-Afrika bekendgemaak is, was beesvleispryse baie hoër in April as in die vorige maand.
#ZAInflation || Beef prices were much higher in April. Chief Director: Price Statistics, Patrick Kelly will be unpacking the latest Consumer Price Index figures on @Powerfm987 at 16:45.
Read more here: https://t.co/MM3DCaU4BJ #StatsSA #GovZAupdates pic.twitter.com/s1sMdVA6Q8
— Statistics South Africa (Stats SA) (@StatsSA) May 21, 2025
Daar was spesifiek prysverhogings vir beesvleis (4%), hoenderpote (6%), bevrore hoenderstukke (2%) en wors (3%). Die gemiddelde voedselmandjie, wat 44 basiese kositems insluit, het in Mei R5 466,59 gekos, ’n toename van R46,29 (0.9%) vergeleke met April en R136,29 hoër as Mei 2024. Hierdie data is verkry uit pryse by 47 supermarkte en 32 slaghuise in onder meer Johannesburg, Kaapstad en Durban.
Beesvleis kos nou gemiddeld R190–R200 per kg vir premiumsnitte soos beesboud, en R120–R140 per kg vir goedkoper snitte soos beesblad. Hoenderpryse wissel tussen R60 en R70 per kg vir vars heel hoender en van R80 tot R90 per kg vir bevrore stukke.
Vir Suid-Afrikaners wat hul braaivleis koester, is daar troos in die feit dat hul vleis steeds ’n winskoop is vergeleke met dié van hul Nederlandse vriende, waar ’n eenvoudige braai ’n luukse kan wees.
In Nederland, waar die lewenskoste onder die hoogste in Europa is, betaal verbruikers volgens GlobalProductPrices.com en Eurostat-data gemiddeld vir rou beesvleis in Januarie 2025 ongeveer €14,81 (R318) per kg, terwyl hoender wissel tussen €7 en €10 (R142 en R203) per kg.
Dit beteken dat beesvleis in Nederland 50% tot 100% duurder is as in Suid-Afrika, en hoender tot 170% meer kos. ’n Kilogram premiumbeesvleis by ’n Nederlandse supermark soos Albert Heijn kan €15 tot €20 kos, terwyl dieselfde snit by Checkers of Pick n Pay in Suid-Afrika nader aan R150 tot R200 kos.
Vir baie Suid-Afrikaners is braaivleis meer as net kos; dit is ’n kulturele instelling. Of dit nou ’n T-been op die kole of hoenderpote by ’n familiebyeenkoms is, vleis is die hart van baie maaltye. ’n Tipiese braai vir ses persone, met 2 kg beesvleis (R400), 1 kg hoender (R80) en bykosse, kos ongeveer R600 in Suid-Afrika. In Nederland kan dieselfde braai maklik €50–€70 (R1 000 tot R1 400) kos, selfs sonder premiumsnitte.
Die prysverskil is veral opvallend as koopkrag in ag geneem word. In Suid-Afrika verteenwoordig voedsel 34,5% van die minimum loon, wat vleis ’n beduidende uitgawe maak vir lae-inkomste-huishoudings. In Nederland vorm voedsel slegs 7,6% van die minimumloon, wat beteken dat vleis, hoewel duurder, meer bekostigbaar is vir die gemiddelde verbruiker. Tog bly Suid-Afrika se plaaslike produksie en laer arbeidskoste ’n voordeel wat braaivleis toeganklik hou.
eNCA-nuus het die afgelope week berig dat verdere hoenderprysverhoging waarskynlik is, aangesien Brasiliaanse pluimvee-invoere steeds verbode bly.
Chicken price hike on the cards as Brazilian poultry imports remain bannedhttps://t.co/CKCfiJhPzP
— eNCA (@eNCA) May 26, 2025
’n Uitbraak van voëlgriep in daardie land het daartoe gelei dat Suid-Afrika hoenderinvore wat daarvandaan kom, gestaak het. Brasilië verskaf meer as 84% van alle hoenderinvoere na Suid-Afrika. ’n Straaltjie lig in die tonnel is dat daar volgens eNCA-nuus ’n moontlike daling in beesvleispryse kan wees wat effense verligting kan bring as verbruikers wegbeweeg van duurder hoender.
Suid-Afrikaanse verbruikers kan die impak van stygende pryse verminder deur slim te koop. Plaaslike slaghuise bied dikwels beter pryse as supermarkte, en goedkoper snitte soos beesblad of hoenderpote kan steeds ’n smaaklike braai lewer. Alternatiewe proteïene soos lensies of boontjies is ook opsies, maar eierpryse is ook hoog weens die afgelope tyd se voëlgriep.