Suid-Afrikaners behoort hulle kosmandjies vir Kersfees voller te kan pak as vorige jare, danksy ’n skerp daling in voedselinflasie, wat tans die laagste in 14 jaar is.
Statistieke Suid-Afrika het Woensdag in ’n verklaring bekend gemaak dat die jaarlikse inflasie vir voedsel en niealkoholiese drankies in November weer skerp gedaal het. Dit het afgeneem na 2,3%, van 3,6% in Oktober. Dit is die laagste inflasiekoers vir dié kategorie sedert Desember 2010, toe dit op 1,6% gestaan het.
Die jaarlikse verbruikersprysinflasie het in November marginaal tot 2,9% gestyg, van 2,8% in Oktober, maar dit was laer as die 3,3% wat sommige ekonome verwag het.
#ZAInflation || Consumer price #inflation edged higher in November, rising to 2,9% from 2,8% in October.
Listen here for more: https://t.co/endgznNVfu
#StatsSA #CPI #GovZAupdates pic.twitter.com/nqNuIMdCOb— Stats SA (@StatsSA) December 11, 2024
Inflasie tref steeds armes die hardste. Statistieke SA bereken inflasiekoerse vir 10 uitgawekategorieë, wat insig gee in die impak op die lewens van verskeie sosio-ekonomiese groepe.
#ZAInflation || The poorest households have shouldered the highest #inflation rate since January 2022.
Read more here: https://t.co/eVb0UdnYbh
#StatsSA #CPI #GovZAupdates pic.twitter.com/oGAQ4dQG3l— Stats SA (@StatsSA) December 11, 2024
Die armste huishoudings het die hoogste inflasiekoers sedert Januarie 2022 gedra, met ’n hoogtepunt van 11,3% in April 2023. Dit het in November 2024 tot 3,8% gedaal, maar bly die hoogste in alle uitgawekategorieë.
Daarteenoor het die rykste huishoudings ’n jaarlikse prysverhoging van 3,0% in November gehaal, slegs baie effens bo die gemiddeld.
Statistiek SA bereken ook provinsiale koerse. In November was die provinsies met die hoogste inflasiekoerse die Wes-Kaap (3,4%), Vrystaat (3,2%) en KwaZulu-Natal (3,1%). Inflasie in die Wes-Kaap het bo die gemiddeld gebly vir die tydperk Januarie tot November 2024.
#ZAInflation || Western Cape had the highest #inflation rate in November while Limpopo had the lowest.
Read more here: https://t.co/eVb0UdnYbh
#StatsSA #CPI #GovZAupdates pic.twitter.com/PzOrXhXAb2— Stats SA (@StatsSA) December 11, 2024
Limpopo (2,4%) en Mpumalanga (2,5%) het die laagste koerse in November aangeteken.
Die belangrikste bydraers tot die 2,9%-inflasiekoers was:
- Behuising en nutsdienste het met 4,7% gestyg en 1,1 persentasiepunte bygedra.
- Kos en niealkoholiese drankies het met 2,3% gestyg en 0,4 van ’n persentasiepunt bygedra. Dit is 1,3% laer as in Oktober en 2,4% laer as in September.
- Alkoholiese drank en tabak het met 4,5% gestyg en 0,3 van ’n persentasiepunt bygedra.
- En die kategorie “Diverse goedere en dienste” het met 6,6% gestyg en 1,0 persentasiepunt bygedra.
Agt van die 11 voedsel- en niealkoholiesedrank-groepe het laer koerse geregistreer, insluitend:
- groente, melk, eiers en kaas
- warm drankies
- brood en graan
- koue drankies
- vleis
- suiker, lekkers en nageregte
- die diverse kategorie “ander” kos.
Die prys vir vis was dieselfde, terwyl olies, vette en vrugte skerper prysstygings aangeteken het.
Die jaarlikse koers vir brood en graan het gedaal tot die laagste vlak in byna drie jaar. Volgens Statistieke SA het belangrike items soos bruinbrood, witbrood, mieliemeel, koue graankos, pasta en rys goedkoper geword, maar inflasie het versnel vir verskeie ander produkte, insluitend stampmielies en warm graankos.
Die jaarlikse melk-, eier- en kaasinflasie het tot die laagste vlak in byna vyf en ’n half jaar gedaal. Nadat inflasie vir ’n groot deel van 2024 ’n gat in huishoudings se voedselbegrotings gebrand het, het eierinflasie in November tot –3,7% gedaal, van ’n hoogtepunt van 39,9% ’n jaar gelede.
Ander noemenswaardige prysveranderings was vir brandstof, wat maand tot maand met 0,9% gestyg het, wat die jaarkoers na –13.6% van –19.1% in Oktober neem.
Die prysindeks vir die kategorie restaurante en hotelle het in November met 5,9% gestyg, met stygings van 5,1% vir restaurante en 7,5% vir hotelle. Die inflasie vir restaurante en hotelle is egter laer van die onlangse hoogtepunt van 7,5% in Junie vanjaar.
Vervoer het met 3,3% afgeneem en het 0,5 van ’n persentasiepunt bygedra.