Suid-Afrikaners is diep bekommerd oor die toenemende berigte van voedselvergiftiging op verskeie plekke in die land waarby kinders van skoolgaande ouderdom betrokke is.
Voorvalle van beweerde voedselvergiftiging by skole het die afgelope ruk soos paddastoele opgeskiet en dreig om paniek te saai by sommige skole.
Die land beleef tans ’n vlaag sterftes van kinders wat siek geword het nadat hulle versnaperinge van plaaslike spaza-winkels regoor die land geëet het.
Ses Soweto-kinders is dood en verskeie ander het siek geword. Tydens ’n onlangse media-inligtingsessie het die minister van gesondheid, Aaron Motsoaledi, aangekondig dat forensiese toetse onthul het dat die ses laerskoolkinders na bewering deur ’n hoogs giftige organofosfaat genaamd terbufos doodgemaak is. Dié middel word as plaagdoder gebruik.
Meer as 25 leerlinge van die Laerskool Setsing in Thokoza, Ekurhuleni, is ook die afgelope week inderhaas hospitaal toe geneem ná ’n moontlike voedselvergiftigingsvoorval.
Breaking news
More than 25 pupils from Setsing Primary School in Thokoza, Ekurhuleni, were urgently taken to hospital following a suspected food poisoning incident. pic.twitter.com/qYpjjHJIV6
— MDN NEWS (@MDNnewss) November 5, 2024
Die minister van basiese onderwys, Siviwe Gwarube, het Woensdag tydens ’n media-inligtingsessie in Kaapstad aangekondig dat haar departement saam met die departement van gesondheid veiligheidsriglyne vir skole ontwikkel om die risiko’s van organofosfaatblootstelling in skoolomgewings effektief te versag.
Gwarube het gesê dat leerderveiligheid haar topprioriteit is en dat die departement van basiese onderwys (DBO) die saak ernstig opneem.
“In reaksie op hierdie voorvalle werk my departement saam met die departement van gesondheid om veiligheidsriglyne vir skole te ontwikkel oor hoe om die risiko’s van organofosfate, wat as plaagdoders skoolomgewings binnedring, die beste te verminder.
“Dit sal daarop gemik wees om te verseker dat gemeenskappe en handelaars naby skole bewus is van die risiko’s verbonde aan gevaarlike chemikalieë, veral dié wat vir plaagbeheerdoeleindes gebruik word. Ek sal verseker dat dit so gou moontlik afgehandel word,” het sy verduidelik.
In al die gevalle het die leerders items gebruik wat by handelaars en spaza-winkels in hul skoolomgewing gekoop is.
Alhoewel sommige mediaberigte die voedselvergiftigingsvoorvalle verkeerdelik aan die Nasionale Skoolvoedingsprogram toegeskryf het, is geen bewyse in hierdie verband gevind nie.
Die Wes-Kaapse Onderwysdepartement (WKOD) het ’n beroep op inwoners gedoen om nie sommer tot gevolgtrekkings te kom nie nadat minstens 20 leerlinge van die Laerskool Mzamomtsha in Driftsands Woensdagoggend met maagkrampe na ’n kliniek gehaas is.
Eyewitness News het Donderdag berig in die jongste voorval is 110 leerlinge van die Laerskool Tamaho na mediese fasiliteite gehaas nadat hulle maagkrampe gekry en braking ervaar het kort nadat hulle sekere items geëet het.
The Gauteng Education Department says 12 of the 110 learners from Tamaho Primary School in Katlehong remain hospitalised after suspected food poisoning. https://t.co/0yULtDCftc pic.twitter.com/N3ZI1d9HeF
— SABC News (@SABCNews) November 7, 2024
Die Gautengse Uitvoerende Raad het die nasionale regering gevra om die toenemende gevalle van voedselverwante siektes in die provinsie tot ’n ramp te verklaar.
’n Spesiale uitvoerende raadsvergadering is belê om sy reaksie op die stygende sake te oorweeg, wat die nakomingskontrole van voedsel insluit, berig Eyewitness News.
“Lede van die Uitvoerende Raad en staatsamptenare sal voortgaan om die provinsie te deurkruis om inwoners te betrek oor verbruikersopvoeding, voedselveiligheidsprotokolle en nakoming. Die publiek word versoek om enige gebruik, handel, bemarking en vervaardiging van onwettige chemikalieë by die naaste polisiestasie aan te meld,” het Sizwe Pamla, woordvoerder van Panyaza Lesufi, Gautengse premier, gesê.
Intussen het die nasionale regering gesê hy koördineer omvattende ondersoeke in alle provinsies in samewerking met relevante belanghebbendes.
Gwarube het tydens dié week se inligtingsessie gesê dat aanvanklike ondersoeke getoon het dat voorvalle voorgekom het weens voedselitems wat buite die skoolterreine gekoop is, veral items wat met gevaarlike chemikalieë soos organofosfate besmet is.
Organofosfaatplaagdoders is uiters giftige stowwe en hou ’n aansienlike risiko in, veral vir jong kinders.
“Ek wil gemeenskappe, ouers en handelaars aanmoedig om uiters versigtig te wees wanneer hulle plaagdoders hanteer, berg en verkoop, veral dié wat daarvoor bekend is dat dit skadelike chemikalieë bevat. Die behoorlike hantering van plaagdoders is nie net ’n kwessie van regulatoriese nakoming nie, maar sal ook verseker dat ons kinders veilig is in die omgewings waar hulle leer, speel en groei,” het sy gesê.