Kaapstad se burgemeester se boodskap aan Moedertjie Rusland se oorlogskip wat Maandag in die Moederstad se hawe vasgemeer het, is kort en kragtig: Voetsek!
Cape Town hosts #Russian frigate "Admiral Gorshkov". The battleship arrived in the Mother City on its way to Durban where it will take part in joint ????????-????????-???????? naval drills scheduled for February 17-27. pic.twitter.com/RrByExX9H8
— ГК РФ в Кейптауне (@RusConsCapetown) February 13, 2023
Die skip is ten spyte van wye veroordeling deur kundiges, diplomate, aktiviste en die DA op pad na Durban en Richardsbaai om saam met die Suid-Afrikaanse en Chinese vloot aan die gesamentlike maritieme Oefening Mosi II deel te neem.
Die Russiese oorlogskip, wat daarmee spog dat Kaapstad sy gasheer is, het egter geen rooitapyt-ontvangs van die stad se burgemeester gekry nie. Die stad se uitvoerende burgemeester, Geordin Hill-Lewis, het prontuit op Twitter gesê die oorlogskip is nie welkom in die Moederstad nie. Kaapstad sal nie medepligtig wees aan Rusland se bose oorlog nie, het hy getwiet, met die hutsmerk #VoetsekRussianWarship.
We are not hosting this warship, nor is it welcome in the Mother City. Cape Town will not be complicit in Russia's evil war. @PresidencyZA must answer for his complicity. #RWSGFY #VoetsekRussianWarship https://t.co/3XOu82xOAL
— Geordin Hill-Lewis (@geordinhl) February 13, 2023
Die Daily Maverick berig Westerse regerings raak ook toenemend onrustig oor die gesamentlike maritieme Oefening Mosi II wat die Suid-Afrikaanse, Russiese en Chinese vlote van Vrydag 17 Februarie aan die KwaZulu-Natalse kus sal begin uitvoer.
Die 10-dae-oefening word wyd gesien as ’n propaganda-oefening wat aan veral Rusland ’n geleentheid bied om met sy militêre vermoë te spog.
Die militêre oefening val saam met die herdenking van Rusland se inval in die Oekraïne op 24 Februarie 2022.
Die DA sê in ’n verklaring ten spyte van wye veroordeling deur kundiges, diplomate, aktiviste en die DA, beur Suid-Afrika voort met sy beplande vlootoefening met Rusland en China. “Deur aan hierdie oefening deel te neem, laat vaar Suid-Afrika sy amptelik verklaarde neutrale standpunt oor die Russies-Oekraïense konflik,” het die DA se skaduminister van verdediging en militêre sake, Kobus Marais, in sy verklaring gesê.
Die ministerie van verdediging ontken dit egter en sê in teenstelling met die bewerings van kritici het Suid-Afrika nie sy neutrale standpunt oor die Russies-Oekraïense konflik laat vaar nie. “Ons bly steeds by ons siening dat multilateralisme en dialoog sleutels is om volhoubare internasionale vrede te ontsluit. Ons gaan voort om beide partye aan te moedig om in dialoog betrokke te raak as ’n oplossing vir die huidige konflik.”
Berigte van die Russiese nuusagentskap Tass dui daarop dat Rusland sy Tsirkon (Zircon) hipersoniese missiel tydens Oefening Mosi II sal oefen en toets. Volgens Marais sal dit Suid-Afrika medepligtig maak aan hul oorlogsmisdade. “Dit is duidelik wat die doel is van die oorlogskip Admiral Gorshkov met haar vermoë om die hipersoniese Tsirkon-missiel te dra en lanseer.”
Marais sê Rusland se duidelike doelwit met Oefening Mosi II is om Suid-Afrika te misbruik vir hul propaganda teen die Weste.
“Ten spyte van die SANW wat dit nou ontken, lyk dit of Suid-Afrika bereid is om die rol van die ’nuttige idioot’ te speel. Dit is ’n sinlose en baie onverantwoordelike optrede deur die ANC-regering om hul Russiese meesters tot elke prys tevrede te stel.
“Gegewe ons baie beperkte begroting en vlootvermoëns, om tans aan ’n vlootoefening deel te neem, bied ons duidelik min of geen voordele uit Oefening Mosi II nie, veral uit die teenwoordigheid en moontlike lansering van die Tsirkon-hipersoniese missiel. Dit sal die herstel van ons vlootmissietoerusting verder terugwaarts neem weens die fondse wat vermors word, aangesien daar ander hoër befondsingsprioriteite vir die vloot is.”
Marais sê gegewe die verontwaardiging deur Westerse diplomate sal “hierdie simpel houding van die ANC” die land ook verder vervreem van sy groot handelsvennote en beleggers en selfs moontlik oor die rand stoot tot grys notering en die verlies van groot handelstoegewings soos die Wet op Groei en Geleenthede in Afrika (AGOA).
Volgens die nuuswebwerf Defence Web is die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag ook geleenthede gebied om vlootoefeninge saam met die VSA uit te voer, maar het die SANW geweier en verkies om eerder met Oefening Mosi II voort te gaan.
The South African National Defence Force (#SANDF) has been offered opportunities to carry out naval exercises with the United States, but declined, and is instead proceeding with Exercise Mosi II with Russia and China later this month.https://t.co/PErAaSiX9Q
— defenceWeb (@defenceWeb_Afr) February 7, 2023