Volgende jaar is ’n ander land

  • 0

In 2025 vier Suid-Afrika een van die belangrikste post-apartheidprestasies: die Springbokke se oorwinning in die eerste Rugbywêreldbeker-toernooi waaraan die land deelgeneem het. Dit was 30 jaar gelede in 1995. Die ikoniese beeld van daardie glorie-oomblik – Nelson Mandela geklee in die nommer 6-trui van die spankaptein, Francois Pienaar, met die oud-president wat die WB-trofee triomfantelik omhoog hou – is onuitwisbaar in die geheue van die sportwêreld ingeëts.

’n Jaar vroeër: Miljoene kiesers, meeste daarvan eerstekeer-stemgeregtigdes, se geduld word getoets in oneindigend lang rye van landgenote wat wag om hul kruisies op die lang stembrief te trek. Die uitslag van die verkiesing – ’n skaflike aanduiding van kiesers se voorkeur vir die ANC-bevrydingsbeweging – het meegebring dat Mandela uiteindelik as die land se eerste geloofwaardig verkose staatshoof aangewys kon word.

’n Jaar later: Die land se eerste demokratiese en nie-rassige, plaaslike verkiesings word in November 1995 gehou en die uitslag is byna so voorspelbaar soos wat dit die jaar tevore was. Oorweldigend pro-ANC. En so is die tafel gedek vir 30 jaar se ANC-oorheersing in nasionale en provinsiale staatsbestuur, asook in plaaslike regerings. Maar die onvervulde droom van ’n beloofde, betekenisvolle “beter lewe vir almal” het mettertyd ’n afname in kiesers se aptyt vir – en lojaliteit teenoor – Madiba se party tot gevolg gehad.

Die eerste tekens was sigbaar in 2021 se plaaslike verkiesings toe die ANC se steun vir die eerste keer sedert 1994 onder die 50%-merk gedaal het tot 46%. “We are eating this elephant bit by bit,” verklaar die EFF-leier, Julius Malema, wie se party saam met die DA aansienlike groei getoon het. Nou was die ANC gedwing om koalisies met opposisiepartye te vorm. Swak dienslewering op plaaslike vlak en groeiende korrupsie – selfs ná die Jacob Zuma-era wat beskou is as ’n tydperk waarin “steel van die staat” skynbaar effektief aangemoedig is – het die olifant op sy knieë gedwing.

Die tendens is einde Mei vanjaar in die algemene verkiesing voortgesit toe die ANC se steun op nasionale vlak tot op 40% gesink het. Boonop moes die party in KwaZulu-Natal onder andere die DA en in die Noord-Kaap die VF Plus se hulp inroep om beheer oor dié twee provinsies te behou. Die Wes-Kaap het DA-blou gebly en in Gauteng – as ’n resultaat van premier Panyaza Lesufi se eie (anti-DA-) magspel – het die ANC ander kleiner vennote ingespan om die provinsiale regering aanhou te regeer, terwyl die geknelde party dit in die ander vyf provinsies (Noordwes, Mpumalanga, Vrystaat, Oos-Kaap en Limpopo) reggekry het om aan bewind te bly.

Wat op nasionale vlak uitgespeel het, was egter die groot politieke nuus van die jaar. Ná die oorweging van minstens drie moontlikhede – regeer met ’n minderheid, betrek jou aartsvyande in die EFF en Zuma se MK-wegbreekparty of span saam met die eertydse amptelike opposisie – kon president Cyril Ramaphosa uiteindelik die ANC-leierskorps oorreed om in te stem tot die samestelling van ’n regering van nasionale eenheid (RNE). Dit sou vanselfsprekend gepaard gaan met ’n openlike gekners van tande en ’n steeds voortslepende interne gestoei oor die idee, maar ses maande later staan dit nog. Selfs al kom dit wankelrig voor weens beleidsverskille oor onder meer die BELA-wetgewing oor basiese onderwys. Behalwe dat kabinetsposte aan die DA, PA, IVP en PAC toegeken is, het hierdie partye ook ander poste, soos die voorsitterskap van parlementêre portefeuljekomitees, gekry. Die werk word gedoen; die kompetisie is straf om mekaar te uitpresteer.

Hiervoor het The Economist in ’n onlangse voorskou oor wat in 2025 in die wêreld kan gebeur ’n uiters gepaste opskrif vir die nuwe politieke ontwikkeling in Suid-Afrika gekies: “Together is another country”. Dit is ’n fantastiese beskrywing van wat ons tans as iets ongekends ervaar; dit is ook ’n rigtingwyser na die moontlikhede wat saam regeer kan inhou – ’n projek wat in die nadraai van 1994 gefaal het weens die ANC se oorgretigheid om beheer oor alle regeringsinstellings oor te neem. Die oorgretigheid het in onbeholpenheid ontaard. Ook het dit gestalte gegee aan die uitdrukking dat mag tot vergrype lei, en daarby kan gevoeg word dat absolute mag tot verval lei.

Nou dui die Economist se aanpassing van die titel van die joernalis Allister Sparks se 1994-boek Tomorrow is another country: The inside story of South Africa’s road to change ’n nuwe rigting aan. Die groot onsekerheid waarmee ons 2025 binnegaan, is of die RNE staande gaan bly. Opponente van binne die ANC en ook ekstern sal wat wou gee dat dit skipbreuk ly; onderlinge struwelinge tussen bepaald die ANC en die DA is ’n ewe groot risiko vir die voortbestaan van hierdie saamwees- (saamwerk, saamstaan) regering.

Ons het nou weer, soos in 1994, ’n “ander land” nodig – gestroop van slegte dienslewering wat tot opstande lei; die vernalating van instandhouding wat infrastruktuur ineen laat stort; en die oordrewe strewe na materiële gewin wat tot korrupsie en bedrog lei. Indien dié droom bewaarheid word, kan Suid-Afrika in 2025 die opwinding van 1995 se RWB-toernooi herleef met die wete dat ons nie slegs op die rugbyveld die wêreld ’n ding kan wys nie. Ons sal dan kan bewys dat ons ook in regeerkunde ’n wêreldkampioen kan wees. Hiervoor sal die land ’n luider applous verdien as toe Joel Stransky daardie ongelooflike skepdoel in die laaste ses minute van ekstratyd in die 1995-WB-eindstryd aangeteken het.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top