Vonke kan die naweek spat

  • 0

Die tweespalt in die ANC tussen ondersteuners van Cyril Ramaphosa en die omstrede sekretaris-generaal van die party, Ace Magashule, kan verder op die spits gedryf word wanneer die ANC se Nasionale Uitvoerende Komitee (NUK) dié naweek vergader.

Ace Magashule (Foto: voorblad van Gangster state: Unravelling Ace Magashule’s web of capture deur Pieter-Louis Myburgh)

Alle oë is op die NUK-vergadering gerig om te sien of die party sy woord gestand gaan doen dat enigeen wat krimineel aangekla word van ’n ernstige misdaad, sy of haar pos moet ontruim totdat die saak afgehandel en daar ’n onskuldigbevinding was.

Die ANC se nommer een in Luthulihuis, Ace Magashule, weier volstrek om sy pos te ontruim sedert hy aangekla is van korrupsie en bedrog wat verband hou met ’n asbeskontrak van R255 miljoen in die Vrystaat terwyl hy die premier was. 

Magashule, wat reeds geruime tyd oral in die land binne partystrukture voorbrand maak vir die geveg wat voorlê en wat een of ander tyd tot uitbarsting moet kom, het Donderdag op die vooraand van die vergadering ’n deur-tot-deur-veldtog in die Wes-Rand gehou om kiesers wat in die afgelope munisipale tussenverkiesings vir die ANC gestem het te bedank vir hulle steun. Hy het ook ondersteuners se vrae beantwoord oor dienslewering.

Politieke waarnemers is dit eens dat die lang messe in die party uit is. Die spanning in die party het nuwe momentum gekry met die hofverskyning  van Magashule en sy weiering om sy pos te ontruim hangende die saak teen hom. Dit is in skrille kontras met ’n vroeëre besluit van die ANC dat diegene oor wie se kop daar ’n wolk van beweerde korrupsie en bedrog hang, hul poste moet ontruim terwyl die sake voor die howe dien.

Volgens die politieke kommentator en redakteur van Vrye Weekblad, Max du Preez, loop sake nie volgens plan vir Ramaphosa nie.

Du Preez skryf in sy koerant “Ramaphosa het die gewildheid van suiwering en vernuwing van die ANC as kredo vir sy leierskap hopeloos oorskat.” Solank dit by praat gebly het, het sy partystrukture hande geklap daarvoor, maar toe dit by doen kom, het dit gou duidelik geword dat ál die faksies van die ANC met korrupsie deurspek is, sê Du Preez. “Daar is nou groot senuagtigheid, ook in die nasionale uitvoerende komitee (NUK), dat die jag op korruptes te diep gaan sny.”

Hy sê die besluit van die NUK dat ANC-leiers “wat van misdadigheid aangekla word, moet terugstaan, is as ’n oorwinning vir Ramaphosa gesien, maar dit het nou in sy gesig ontplof. Magashule self en verskeie senior leiers in sy kamp wat aangekla is, weier botweg om hulleself te verskoon en die NUK het gewoon op sy woord teruggegaan.”

Die politieke kommentator André Duvenage sê dit is steeds sy perspektief dat Ramaphosa in die moeilikheid is en homself gelukkig kan ag as hy sy een termyn as president voltooi.

Hy het op Facebook geskryf die geveg binne die ANC intensiveer en hier gaan nie wenners wees nie, maar net verloorders. “Met ’n meerderheid van lede binne die NUK [...] wat direk of indirek aan korrupsie verbind word, is die standpunt teen korrupsie en dat leiers wat hieraan verbind word moet ‘opsy moet staan’, slegs hol woorde sonder betekenis,” sê Duvenhage.

Du Preez meen die verwagting is dat die veldtog teen Ramaphosa nog verder gaan eskaleer in die aanloop tot die ANC se nasionale algemene raad se vergadering in April of Mei, waar ’n mosie van wantroue in Ramaphosa waarskynlik gestel gaan word.

Hy sê Magashule en sy faksie is nie Ramaphosa se enigste kopseer in die ANC nie. Volgens Du Preez het hy “[i]n gesprekke met NUK-lede dié week [die indruk] gekry dat die persoonlike lojaliteit wat Ramaphosa tot onlangs in die ANC se hoogste kringe geniet het, grotendeels verdamp het.” Hy sê “van die mense wat nie lank gelede nie nog in Ramaphosa se kamp was, beskinder hom lustig, veral oor sy persoonlike lewe, sy geskiedenis tydens die struggle en die verhouding wat hy glo met wit sakelui het.”

Die Daily Maverick berig ook in sy jongste uitgawe dat Magashule op die oorlogspad is en geensins van plan is om sy pos te ontruim nie, tensy hy deur die ANC se takke aangesê word om dit te doen. Die koerant wys egter daarop dat dieselfde takke waarop hy hom nou beroep, tydens die ANC se 2017-konferensie besluit het dat diegene wat van korrupsie of bedrog aangekla word, hulle poste moet ontruim terwyl hulle dissiplinêre optrede in die gesig staar.

Hoewel dit steeds die party se amptelike standpunt is, meen die meeste waarnemers dat Ramaphosa al hoe meer geïsoleerd staan binne die ANC se top-ses wat die uitvoering van hierdie besluit betref en dat die vonke hierdie naweek behoorlik kan spat.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top