Wat Maandag by die Hoërskool Brackenfell in Kaapstad gebeur het toe ouers en EFF-lede slaags geraak het na bewerings van rassisme by die skool, is ’n kwade dag vir Suid-Afrika.
Só sê die onderwyskenner Daniel van Wyk en voorsitter van DAK Netwerk wat hulle beywer vir die bemagtiging en vooruitgang van agtergestelde Afrikaanssprekendes.
Die onderonsie waartydens die vuiste gebal en selfs skote geklap het, het gevolg nadat die indruk vermoedelik geskep is dat die Hoërskool Brackenfell ’n matriekafskeid gereël het waarheen slegs wit kinders genooi is.
Dit was blykbaar die vonk in die kruitvat wat aanleiding gegee het tot die ongelukkige gebeure by die skool wat selfs reaksie van president Cyril Ramaphosa en ander politici uitgelok het.
Die skool ontken egter die bewering. Hulle sê die skool en die beheerliggaam het juis besluit om nié ’n matriekafskeid te hou nie, gegewe die COVID-19-pandemie.
Van Wyk het op Facebook geskryf hierdie beelde van rassehaat en polarisasie is die wêreld in gestuur en die indruk geskep dat hier ter plaatse slegs chaos en anargie heers.
Van Wyk sê die land benodig koelkoppe om plofbare situasies soos dié te ontlont. “Eers was dit Senekal en nou Brackenfell. Waarheen is ons op pad? Politieke leierskap ontbreek op hierdie oomblik. Daar was ’n hoorbare stilte van regeringskant en ander politieke partye om hierdie optrede van beide kante aan te spreek. Die Wes-Kaapse Departement van Onderwys (WKOD) het ook geskitter in hul afwesigheid om leiding aan die skool te verskaf.”
Van Wyk sê hy stem saam dat rassisme nie geduld kan word nie, maar niks gaan bereik word deur op mekaar te skree en mekaar fisiek aan te rand nie. “Watter voorbeeld word aan ons jeug gestel? Die EFF moet daarteen waak om nie elke voorval te gebruik vir goedkoop politieke opportunisme nie. Nou is die tyd om staatsmanskap te bewys en brûe te bou. Ons moet in alle erns begin werk en bou aan die nierassige, nieseksistiese, grondwetlike demokrasie soos in die Grondwet saamgevat.”
Ramaphosa het die konfrontasie as ’n spektakel bestempel. Hy sê in ’n verklaring wat Dinsdagoggend uitgereik is, dat wat by die skool gebeur het, herinner aan die hartseer verlede en het ’n beroep gedoen dat daar liewer gefokus moet word op die komende eindeksamen.
President @CyrilRamaphosa has described the confrontation outside Brackenfell High School in Cape Town as deeply regrettable, and has called on all parties involved to act responsibly. https://t.co/QGovAKljwG
— Presidency | South Africa 🇿🇦 (@PresidencyZA) November 10, 2020
Die Wes-Kaapse premier, Alan Winde, en die provinsiale minister van onderwys, Debbie Schäfer, het Dinsdag met die hoof van die Brackenfell-hoërskool in Kaapstad vergader om die situasie by die skool te bespreek. Winde het gesê politiek moet uit die saak gehou word en die kinders moet toegelaat word om sonder sulke ontwrigting eksamen te skryf. Hy het die EFF versoek om hulle te weerhou van ontwrigting by die skool.
"We are calling directly on the EFF to desist from any further action outside #BrackenfellHigh - it will not be tolerated." - @alanwinde https://t.co/nMr8Zubh1Y
— Democratic Alliance (@Our_DA) November 10, 2020
Die EFF het egter gedreig om sy veldtog te verskerp teen die beweerde rassisme by die skool. Schäfer het gesê sy sal haar tot die hof wend indien EFF-lede betogings hervat en die matriekeksamen ontwrig. Die voorsitter van die EFF in die Wes-Kaap, Nosipho Makamba-Botya, sê hulle het na die skool gegaan nadat verskeie ouers gekla het oor beweerde rassisme, en hulle wou by die hoof uitvind hoekom beweerde rassesegregasie daar voorkom.
In sy reaksie het die leier van die Vryheidsfront Plus, Pieter Groenewald, president Ramaphosa gekritiseer.
Groenewald sê in ’n verklaring Ramaphosa se uitlatings oor gebeure by die Hoërskool Brackenfell en in besonder sy opdrag dat beweerde rassisme by die skool voortspruitend uit ’n private partytjie van leerlinge “dringend” ondersoek moet word, is onaanvaarbaar.
Groenewald meen die President het die EFF se optrede by die skool verdedig deur, verwysend na die EFF, te sê dit is “die reg van elke Suid-Afrikaner om vreedsaam protes aan te teken en dit mag nie deur geweld en intimidasie onderdruk word nie”.
Hy sê Suid-Afrika se Grondwet bepaal duidelik dat almal die reg het op vrye assosiasie.
“Dit is duidelik dat die partytjie waarna verwys word, ’n private aangeleentheid was en nie ’n amptelike skoolgeselligheid nie. Dit is totaal onaanvaarbaar dat mense nou al voorgeskryf kan word met wie hulle in hul private lewe mag assosieer en met wie nie.”
Sommige mense op sosiale media hou egter vol dat dit ’n skoolfunksie was en dat onderwysers betrokke was by die reëlings daarvan, al is dit nie by die skool gehou nie.