Vonke spat oor TV-aanbieder se homofobiese uitlatings

  • 0

Die TV-aanbieder Zodwa Wabantu wat bekend is vir haar vrye sê op haar TV-program in die realiteitsprogram Zodwa Wabantu: Uncensored op DStv se kanaal 157, is in die pekel oor haar homofobiese uitlatings tydens een van haar programme.

Die LGBTQ-gemeenskap is woedend nadat sy tydens die afgelope Sondag se program gesê het gay mans moet ophou om hulle soos meisies te gedra. Sy het ook gesê gay mans is oortuig dat hulle vaginas het terwyl hulle eintlik penisse het.

’n Petisie is intussen op die internet begin waarin die publiek versoek dat haar program van die lug gehaal word omdat dit homofonies is. Sowat 5 000 mense het reeds die petisie geteken.

Zodwa Wabantu, wie se regte naam Zodwa Libram is, het ook al die oë laat rek met haar onkonvensionele kleredrag by openbare geleenthede soos tydens die afgelope July.

Wabantu ontken egter dat sy homofobiese neigings het. Sy spog daarmee dat sy minstens 20 gay vriende het. Times Live het ’n video op hulle webwerf geplaas waarin sy met van haar gewaagde kleredrag verskyn. Die koerant sê sy veg terug teen die aantygings van homofobie wat teen haar gemaak word.

Daar was reeds verskeie oproepe uit die publiek dat haar program beëindig moet word na haar galbrakery oor gays, berig Times Live.

In die petisie wat deur die LGBTQ-gemeenskap op die internet versprei word, word gesê wat dit nog erger maak, is die feit dat die program nie direk uitgesaai word nie, maar vooraf opgeneem is. Dit moes dus deur verskeie produksieprosesse gaan voordat dit op die lug uitgesaai is. Daar word gevra waarom niemand wat by die produksie van die program betrokke was, voor die tyd besef het dit bevat homofobiese opmerkings wat die LGBTQ-gemeenskap te na kom nie.

Wabantu wou aanvanklik nie reageer op die storm wat op sosiale media om haar kop losgebars het nie.

Sy het egter later teenoor die Sowetan ontken dat sy homofobies is. “Hoe kan ek homofobies wees as ek meer as 20 gay vriende het?  Selfs my klere-ontwerper is gay. Ek het oor my vriende gepraat,” het sy gesê.

Sy sê sy het oor dinge gepraat wat sy by haar gay vriende waargeneem het aangesien hulle haar vriende is. “Dit is in elk geval ’n realiteitsprogram. Ek sê dinge soos ek dit sien.”

Wabantu, wat in Durban woon, het behoorlik laat waai tydens haar program. “Gays is silly omdat hulle met vroue baklei. Noem my een gay wat nog nooit in ’n geveg met ’n vrou betrokke was in die industrie nie. Hulle probleem is dat hulle (gays) oortuig is hulle het ’n vagina, terwyl hulle ’n penis het.”

Terwyl sy die gramskap van talle mense op die hals gehaal het, het haar volgelinge vinnig tot haar verdediging gekom en haar gedrag op sosiale media verdedig. Daar is selfs ’n teenpetisie begin om te vra dat haar program nie van lug gehaal word nie.

Volgens dié petisie is dit baie duidelik uit die program se naam dat die program ongesensor is en daarom moet kykers hulle eie diskresie gebruik om te besluit of hulle na die program wil kyk of nie. ’n Mens kyk op eie risiko daarna, sê diegene wat tot haar verdediging gekom het.

Buro: NM
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top