Kaapstad se burgemeester, Geordin Hill-Lewis, en die minister van polisie, Bheki Cele, het mekaar in die hare gevlieg oor die voortslepende taxistaking in Kaapstad wat die afgelope week tot grootskaalse ontwrigting en geweld in die Moederstad gelei het.
Cele beskuldig Hill-Lewis daarvan dat hy nie bereid is om met die nodige rolspelers te onderhandel nie, terwyl die stad se burgemeester weier om met “misdadigers” te onderhandel.
“Bheki Cele, jy kan met misdadigers onderhandel, ons sal nie! Ons beskerm inwoners. Ons kan nie onderhandel watter gedeeltes van die wet op sommige mense sal geld en nie op ander nie,” het Hill-Lewis aan Cele gesê.
Cele sê as die SA Nasionale Taxiraad (Santaco) en die Stad Kaapstad nie na die tafel kom nie, gaan hierdie saak nie opgelos word nie.
“Ons sal ons hulpbronne mors en ons hulpbronne weglei om misdaad te hanteer. Sedert dit begin het, was daar ’n helse oplewing. Mense hier het gesterf. Almal moet van hul hoë perdjies afklim en [hul] trots insluk. Die mense wat swaarkry, is die gewone swart kinders wat nie skool toe kan gaan nie. Vroue stap 35 km [om by die huis te kom],” het Cele gesê.
Hill-Lewis het teruggekap en gesê Stad Kaapstad sal nie onderhandel wanneer dit by die nakoming van die wet en reëls van die pad kom nie.
“Die oppergesag van die reg is heilig in hierdie stad. Ons wil hê dit moet regoor Suid-Afrika heilig wees, maar dit is heilig hier. Ons sal die oppergesag van die reg handhaaf, kom wat wil,” het hy gesê en bygevoeg dat die stad se “onderhandelingsvennote” sal leer dat hulle in goeder trou moet onderhandel, en nie “terwyl hulle ’n geweer teen ons koppe hou nie”.
’n Polisiestasie is Woensdagoggend by Kayamandi in Stellenbosch aan die brand gesteek te midde van die voortslepende taxistaking in die Wes-Kaap. Die afgelope week is verskeie busse aan die brand gesteek, voertuie met klippe bestook en paaie versper, en verskeie voorvalle van geweld is aangemeld.
Onderhandelings om die staking te beëindig het Woensdag voortgeduur, maar daar was geen aanduiding tot wanneer die staking sou voortduur nie.
Santaco het ook met die minister van vervoer, Sindisiwe Chikunga, onderhandel.
“Ons houding, sowel as dié van die regering, sal bepaal of ons operateurs gereed is om dienste te hervat,” het Mandla Hermanus, die Wes-Kaapse Santaco-voorsitter, gesê.
Hy het gesê operateurs is bang dat nog meer taxi’s geskut word indien hulle vandag (Donderdag) na die paaie terugkeer as geen ooreenkoms met die Stad Kaapstad en die provinsie bemiddel is nie.
EFF-lede het Woensdag in die St George-katedraal ’n gebedsessie vir vrede ontwrig toe hulle die bedanking van die stad se burgemeesterskomiteelid vir veiligheid, JP Smith, geëis en “bring die taxi’s terug” gesing het.
EFF members inside Cathedral church chanting "bring back the taxis"
????#TaxiStrike SANTACO Malema SANDF Zuma #WomensDay Sundowns Kaizer Chiefs #DStvPrem Ramaphosa SANDF #SkeemSaam Zama Zamas pic.twitter.com/JdwrFY4tJW
— .???????????????????????????????????????????????????????????????????????????????? (@NkosinatiMagwa) August 9, 2023
Die intergeloofsgebedsdiens is deur onder meer Geordin Hill-Lewis en Mandla Hermanus bygewoon.
Aartsbiskop Thabo Makgoba het namens die Suid-Afrikaanse Raad van Kerke alle partye gevra om met mekaar in gesprek te tree en die impak te besef wat die staking op die armstes van die armes het.
“Daar mag nie meer bloed in die naam van hierdie protes gestort word nie,” het hy gesê.
Hill-Lewis en Hermanus het na die diens ’n paar woorde gewissel. Hill-Lewis het hom uitgevra oor sy gesin en gesê dat hy met sy lede oor die geweld moet praat.
Mayor Geordin Hill-Lewis was seen sharing a light moment on the sidelines with Santaco chairperson Mandla Hermanus. He says he was asking him about his new born and asked that he speaks to his members against the violence #TaxiStrike pic.twitter.com/iYbYY6X437
— Veve (@LudidiVelani) August 9, 2023
Teen Woensdagmiddag was die verwagting dat die staking vandag (Donderdag) sou voortgaan.
Hill-Lewis sê taxi-eienaars en lede van die Santaco-vakbond sal vir minagting van die hof verantwoordelik gehou word as hulle voortgaan om verwoesting in Kaapstad te saai.
Cape Town Mayor Geordin Hill-Lewis says taxi owners and members of the Santaco trade union will be held in contempt of court if they continue wreaking havoc in Cape Town. #eNCA #DStv403 #TaxiStrike pic.twitter.com/YwbN9wY4mP
— eNCA (@eNCA) August 9, 2023