Voor ons vergeet: sodat ons kinders ook kan weet
Saamgestel deur GD Cloete, A Boer en JS van Rooy
Uitgewer: Christelike Lektuurfonds
ISBN: 9781868044214
Die verhaal van die versplinterde Nederduitse Gereformeerde Kerk-familie is redelik bekend aan mense met ’n sin van die historiese – hoe die kerk in 1857 die eerste keer aparte kerkdienste toegelaat het weens die “swakheid van sommige”. Eers is daar slegs verskillende dienste gehou vir wit mense en “kleurlinge”,1 maar mettertyd het dit ontwikkel tot verskillende gemeentes gebaseer op ras. Die NG Sendingkerk wat hieruit ontwikkel het, het in 1881 ’n sinode gevorm. Later het die kerk ook verder ontwikkel met verskillende sinodes vir swart Suid-Afrikaners en vir mense van Indiese oorsprong. Die regering het later ook hierdie vier breë klassifikasies van wit, kleurling, swart en Indiër gebruik en die bevolkingsregistrasie en groepsgebiedewette het gevolg, en die kerk het dus in die proses ’n deurslaggewende rol in die ontwikkeling van apartheid gespeel. Dit was die jare wat daar gepraat was van die “Moederkerk” en die “dogterkerke”. Dit is dan ook verder redelik bekend hoe die Sendingkerk uiteindelik formeel teen die beleid van apartheid in opstand gekom het, deur die NG Kerk in ’n staat van beskuldiging te plaas, en veral met die aanvaarding van die Belydenis van Belhar in 1986, wat apartheid as strydig met die wil van God verklaar het. Uiteindelik het ’n deel van die Sendingkerk saamgesmelt met die NG Kerk in Afrika, en so het die Verenigende Gereformeerde Kerk in 1994 ontstaan, hoewel ’n gedeelte van die NG Kerk in Afrika steeds voortbestaan.
Dit is in breë trekke die storie van die NG Kerk se familie. Die jare van “moederkerk” en “dogterskerke” is vandag lankal iets van die verlede, maar die verhale agter dit alles is steeds agter ’n sluier verskans. Voor ons vergeet dokumenteer iets van die groot stuk vervreemding en ontnugtering tydens die jare van kerklike apartheid. Die boek vertel van “die ervaringe van afgetrede predikante tydens hulle bediening in die NG Sending- en Verenigende Gereformeerde Kerk” (vi). Dit is ’n unieke en fassinerende publikasie, maar dit is ook pynlike leesstof waarvan opskrifte soos “Ek het ook maar ‘baas’ gesê”, “Jy het nogal ’n oulike meidjie” en “Petrolbomme teen die evangelie” in die inhoudsopgawe reeds getuig.
Verhale oor die verlede laat altyd unieke uitdagings aan die skrywers daarvan. Baie van die rolspelers lewe byvoorbeeld nog, en hulle identiteite word maar soms liewers verswyg. Hoewel elkeen van die 17 verhale unieke gevalle is, is daar patrone wat oor en oor herhaal word in Voor ons vergeet. Daar is die pynlikhede van die groepsgebiedewet en die pasboekstelsel. Leraars wat nie in die kerk se pastorie mag woon nie, weens groepsgebiede. Verskille in salarisse. In een dramatiese verhaal probeer die munisipaliteit om een gemeenskap se huise plat te stoot, maar die gemeente vorm ’n menseketting om die stootskraper, en die drywer van die stootskraper het uiteindelik op vlug geslaan. Dan is daar die wantroue tussen mense. Die spioenasie. Die veiligheidspolisie wat inbreuk maak op mense privaatheid. Preke wat gefynkam word vir enige politieke boodskap. Daarmee saam is die onluste van die 1980’s en 1990’s, in aanloop tot die 1994-skikking. En daar is die patriargale verhouding tussen die “moederkerk” en die “dogterkerk”, en hoe dit tot magsmisbruik gelei het. Dit alles word weer afgewissel met versoenende samewerking, waarvan daar ook gevalle was. Die oorgrote meerderheid van die verhale speel af in die Suid-Afrikaanse platteland, maar daar is ook sommige verhale wat in stedelike gebiede afspeel.
Die enigste eintlike kritiek wat miskien gelewer kan word op die publikasie, is dat daar hier en daar enkele drukfoute in die boek voorkom. Die is egter so minimaal dat dit nie die publikasie uitermatig ontsier nie. Deur die loop van 90 bladsye word die leser getrakteer op die pynlike verhale van ’n minder bekende deel van ons geskiedenis. Dit lyk nie asof die verhale swaar geredigeer is nie, en die vertellers se taal en metafoor is deurgaans deel van die narratief. Mens kry ook deurlopend die idee dat hierdie maar nog net die oortjies van die seekoei is. Dat daar nog baie is wat nie gesê word nie, dat jy slegs maar besig met ’n voëlvlug is.
Voor ons vergeet vertel die verhale van mense wie se stemme dikwels in die verlede nie geduld was nie. Die boek bied ’n mens ’n venster in die komplekse verhouding van die NG Kerk-familie – ’n familie wat vandag nog steeds net so broos is as tydens die jare van apartheid. Dat daar oorgegaan is tot die dokumentering van hierdie verhale, is iets waarvoor ons die samestellers van hierdie boek hartlik moet bedank. Sommige van die leraars is al oorlede, en hulle verhale is vertel deur diegene wat hulle geken het. Op die flapteks word gesuggereer dat daar nog van hierdie verhale gedokumenteer sal word, ook vanuit die NG Kerk in Afrika, wat ’n welkome toevoeging sal wees indien dit realiseer.
Sou hierdie droewige verhale afgespeel het indien die kerk nie opgedeel was in verskillende rasgroepe nie? Dit is ’n vraag wat deur mens se kop maal by die lees daarvan, en waarop daar seker geen klinkklare antwoord is nie. Dat Suid-Afrika polities kon integreer, maar vandag steeds met ’n versplinterde NG Kerk-familie sit, verswak steeds die verhoudinge in die land. Dit vervreem gemeenskappe van mekaar en is ’n teelaarde vir wanpersepsie. Maar bo alles ondermyn dit ook die relevansie van die NG kerke teen die agtergrond van die breë rigting waarin die land beweeg. Voor ons vergeet se grootste waarde lê egter daarin dat dit verhale dokumenteer wat nog nooit voorheen vertel is nie. Dit maak dit ’n kosbare bydrae wat mens se insigte verryk, ongeag of die kerk nog vir mens belangrik is of nie.
1 Kleurling is ’n omstrede term van rasklassifikasie wat in apartheidswetgwing gebruik is.
Buro: NM