Voortdurende protesaksie, moordverdagtes, en die dood van ’n reus

  • 0
Supermarkte loop deur onder boereprotesaksie

Nederlandse boere is steeds woedend oor die besluit dat stikstofproduksie in sommige gebiede met tot 70% verminder moet word.

Betogende boere het weer, soos verlede week, hoofroetes versper, maar het dié keer ook verspreidingsentrums van supermarkte begin versper. Die polisie moes ingryp om versperrings op die A1-, A73-, A67-, A6- en A28-snelweë te verwyder, wat groot verkeersopeenhopings veroorsaak het. Op sommige plekke was die pad heeltemal gesluit.

Betogers het ook na die uitsaaisentrum in Hilversum opgeruk en een van die toegangsweë versper. Die NOS berig dat ander toegangsroetes steeds oop was en dat geen uitsaaidienste geraak is nie.

Dit is egter verspreidingsentrums van supermarkte wat die afgelope week deurgeloop het, met betogende boere wat gekeer het dat vragmotors die verspreidingsentrums kon bereik. Veral die supermarkgroep Jumbo is erg geraak en dit het al plek-plek tot leë rakke gelei.

RTL Nieuws berig dat onlustepolisie wat probeer het om blokkades by verspreidingsentrums in Heerenveen te verwyder, met verskeie voorwerpe bestook is. Die polisie het uiteindelik met traangas ingegryp en drie mense is aangekeer. In Zwolle is ses mense in hegtenis geneem toe die onlustepolisie die blokkade by ’n verspreidingsentrum van Albert Heijn probeer verwyder het. Volgens die polisie kan verdere inhegtenisnemings volg nadat kamerabeelde nagegaan is.

Die protesaksie by verspreidingsentrums het teen Dinsdagmiddag begin afneem, maar teen 15:00 was minstens sewe verspreidingsentrums nog versper.

Maandag het vissers ook besluit om die aksie van boere te steun. Betogende vissers het met hul skepe ’n deel van die hawe van Lauwersoog afgesluit, asook die hawens van Harlingen en Den Helder. Dit het veroorsaak dat veerbootdienste na en van die Waddeneilande ure lank onderbreek is.

Die lughawe Schiphol het reisigers uit voorsorg Sondag al aangemoedig om liewer met openbare vervoer na die lughawe te reis, maar geen protesaksies is hier aangemeld nie.

Intussen is die politikus Johan Remkes aangewys as bemiddelaar om met boere te onderhandel. Remkes het gehelp met die vorming van die huidige koalisieregering in Nederland wat maande lank gesloer het. Boere is egter glad nie te vinde vir Remkes as bemiddelaar nie en beskou hom as kop in een mus met die politieke bestel wat hulle juis wantrou.

Nóg verdagtes aangekeer vir die moord op Peter R de Vries

Byna ’n jaar nadat die misdaadjoernalis Peter R de Vries helder oordag in Amsterdam geskiet is, is nog twee verdagtes aangekeer. Die eerste twee word tans verhoor en is kort ná die skietery vasgetrek. Die staatsaanklaer eis lewenslange gevangenisstraf vir hul aandeel in die moord. Die derde verdagte is Maandag aangekeer.

In die media staan die verdagte as Krystian M bekend, ’n man met ’n Poolse nasionaliteit, berig Nu.nl. Hy was reeds in aanhouding vir poging tot moord in Zeewolde in Oktober 2021. Daar word vermoed dat hy die opdrag vir die moord op De Vries gegee het.

Die NOS berig Dinsdagoggend dat nóg twee verdagtes aangekeer is in verband met die moord op De Vries. Die een verdagte, ’n 27-jarige Nederlander, is op Curaçao aangekeer. ’n Ander verdagte, ook ’n Nederlander, van 26, is in Spanje in hegtenis geneem. Na wat berig word, was laasgenoemde verdagtes in Lange Leidsedwarsstraat in Amsterdam toe De Vries vermoor is en het hy video’s van die moord gemaak en versprei. Het Parool berig dat die opsporingsdienste vermoed dat die beeldmateriaal opsetlik opgeneem is om die skok van die moord onder die publiek so groot moontlik te maak.

De Vries is op 6 Julie verlede jaar op straat geskiet kort nadat hy in die TV-program RTL Boulevard verskyn het. Hy is nege dae later aan sy beserings dood.

Verskoning oor slawerny

Die provinsie Noord-Holland met bekende stede soos Amsterdam, Haarlem, Hoorn en Alkmaar het afgelope Vrydag die eerste provinsie in Nederland geword om verskoning aan te bied vir sy rol in die slawernyverlede. Die Kommissaris van die Koning, Arthur van Dijk. het namens die provinsiale bestuur die verskoning aangebied tydens die Ketikoti-viering in die provinsiehuis in Haarlem. Ketikoti is ’n feesdag uit Suriname ter viering van die afskaffing van slawerny.

Van Dijk het in sy toespraak gesê: “Aan de nazaten van tot slaaf gemaakten, mensen die het onrecht van toen vandaag nog ervaren, excuses voor wat onze gezagsdragers toen hebben aangericht in het leven van onschuldige mensen. Wij nemen in deze tijd afstand van wat ze in die tijd hebben gedaan. Als provincie willen we het verleden open in de ogen kijken, omdat er in een vrij en democratisch land ruimte is en moet zijn voor ieders verhaal. Zeker als dat verhaal nog te weinig bekend en erkend is en nog altijd pijn doet, generatie op generatie. Dit doen we niet alleen door excuses te maken, maar juist door samen naar de toekomst te kijken, te leren van het verleden, door er veel over te praten, goed naar elkaar te luisteren en elkaar de ruimte te geven.”

Die provinsie was nie die enigste instansie wat van die geleentheid gebruik gemaak het om verskoning aan te bied nie. Ook die Nederlandse Bank het, by monde van sy president, Klaas Knot, sy stem by die berou oor die verlede gevoeg. Knot het by die slawernymonument in Oosterpark in Amsterdam gepraat. “Excuses aan alle mensen die door de persoonlijke keuzes van mijn voorgangers herleid werden tot hun huidskleur,” sê die president van die bank. Sy verskoning volg op ’n verslag wat in Februarie verskyn het waaruit blyk dat die Nederlandse Bank nou betrokke was by Nederlandse slawerny sedert die oprigting van die bank in 1814. Die bank het intussen aangekondig dat ’n fonds op die been gebring gaan word om die uitwerking van slawerny teen te gaan deur middel van projekte op die gebied van onderwys, gesondheidsorg en kennisuitruiling.

Belgiese welsynswerker al vyf maande agter tralies in Iran

’n Belgiese burger wat by ’n nieregeringsorganisasie in Iran gewerk het, Olivier Vandecasteele, is op 24 Februarie vanjaar in die middel van die nag aangekeer en word sedertdien in die Irannese hoofstad Teheran aangehou, berig VRT NWS.

Vandecasteele het sedert 2015 vir verskillende nieregeringsorganisasies in Iran gewerk waar hy hom daarvoor beywer het om bande tussen die Irannese regering en internasionale skenkers soos die EU en die VN te verbeter. Sedert sy aanhouding het hy nog net een keer met sy familie kontak gehad. Na wat berig word, het hy gesondheidsprobleme en weens die slegte kos het hy baie gewig verloor. Volgens die familie word Vandecasteele in isolasie aangehou waar die lig nooit afgeskakel word nie. Die Belgiese Departement van Buitelandse Sake raai Belge ten sterkste af om Iran te besoek en waarsku teen willekeurige inhegtenisnemings deur die Irannese polisie.

Intussen word daar in België gewerk aan ’n wet wat die uitruiling van gevangenes tussen België en Iran moontlik sal maak.

Nederlands verloor ’n literêre reus

Die Nederlandse skrywer Remco Campert is in die ouderdom van 92 oorlede. Hy word as een van die belangrikste skrywers van Nederland beskou.

Sy uitgewer, Bezige Bij, het Maandag namens die familie die nuus bekendgemaak, berig die NOS.

Campert word saam met Gerrit Kouwenaar, Jan Elburg en Hugo Claus as een van die “vyftigers” gereken. Deur die jare het hy verskeie letterkundepryse ontvang. Sy eerste was die Reina Prinsen Geerlig-prys vir sy werk Brechtesgade. In 1958 ontvang hy die Anne Frank-prys vir Vogels vliegen toch en in 1976 die PC Hooft-prys vir sy poësie, maar hy is veral bekend vir sy prosa, soos Het leven is verrukkulluk; Tjeempie! Of Liesje in luiletterland; en Tot zoens.

Nu.nl skryf sy werk word gekenmerk deur ’n “weemoedige, ironische toon”, wat hom geliefd gemaak het onder die Nederlandse leserspubliek. Hy laat sy vrou en twee dogters uit twee vorige huwelike agter.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top