Wynliefhebbers van regoor die wêreld kan vanjaar uitsien na voortreflike Suid-Afrikaanse wyne van ’n heelwat koeler en later 2021-wyndruifseisoen in Suid-Afrika.
Ten spyte van die uiters moeilike omstandighede waaronder die land se wynbedryf gebuk gegaan het as gevolg van COVID-19-inperkings, verwag die Suid-Afrikaanse wynbedryf uitstekende wyn uit vanjaar se oes. Dit blyk uit die jaarlikse Suid-Afrikaanse Wynoesverslag van 2021.
“Ons is verheug dat die 2021-oes ’n silwer randjie vir die Suid-Afrikaanse wynbedryf is, wat ongetwyfeld ons internasionale posisie verder sal versterk,” sê Siobhan Thompson, uitvoerende hoof van Wines of South Africa (WoSA). “Wat veral merkwaardig is, is die onwrikbare gehalte wat ons oor die afgelope paar jaar reeds sien. Dit sal beslis diegene wat dalk nog twyfel, oorhaal om ons wyne te koop, en daarmee saam ons algehele posisie teenoor ons internasionale mededingers versterk. Dit is ook baie belowend om te sien dat die volume en waarde van Suid-Afrika se wynuitvoere hoër is teenoor die jaar-op-jaar-syfers in 2020 en 2019.”
Die wynprodusente-organisasie Vinpro sê in ’n verklaring die 2021-wyndruifoes word op 1 461 599 ton geraam, volgens die nuutste oesskatting deur die bedryfsliggaam SAWIS (Suid-Afrikaanse Wynbedryfinligting & -Stelsels) op 19 Mei 2021. Dit is 8,9% groter as die 2020-oes.
SA WINE HARVEST REPORT 2021:
Wine lovers from across the globe can enjoy outstanding wines from a much cooler and later 2021 wine grape season in South Africa."The late and slow harvest was definitely worth the wait."@WOSA_ZA @VisitWinelands
READ: https://t.co/MgdsL3F38A pic.twitter.com/P9n58fM2Ia— Vinpro (@Vinpro_za) May 24, 2021
“Dit wil voorkom of die wingerde werklik hul tyd geneem het om vanjaar se oes te berei,” sê Vinpro se konsultasiediensbestuurder Conrad Schutte. “Matige weer regdeur die seisoen, en veral gedurende parstyd, het daartoe gelei dat die druiwe stadiger ryp geword het, en daarmee saam ook uitsonderlike kleur en geure ontwikkel het.”
Die oes het sowat twee weke later as gewoonlik afgeskop weens ongewoon koel weerstoestande regdeur die seisoen wat voortgeduur het in parstyd en daartoe gelei het dat sommige wyndruifprodusente hul laaste druiwe in Mei geoes het. Waterbronne het ook in die meeste gebiede aangevul geraak na die onlangse droogte, wat tot goeie wingerdgroei, trosgetalle en korrelgroottes gelei het.
South Africa's 2021 #wine grape harvest will be remembered for a cool, late and slow season, which enabled producers to harvest at just the right time. This contributed to the consistent quality we've seen in SA's wines in recent years.
WATCH: https://t.co/wo8DxFSs2O— Vinpro (@Vinpro_za) May 24, 2021
“Hierdie is algemene waarnemings, maar dit is belangrik om die diversiteit van die Suid-Afrikaanse wynbedryf oor die tien wyndruifverbouingstreke in ag te neem,” sê Schutte.
“Dit was beslis die moeite werd om vir vanjaar se laat en stadige oes te wag. Wynliefhebbers kan na voortreflike wyne van die 2021-oesjaar uitsien,” sê hy. “Die koeler weer het produsente in staat gestel om hul druiwe op presies die regte tyd te oes, en wingerdboukundiges en wynmakers is veral opgewonde oor goeie kleurontginning, lae pH-vlakke en hoë natuurlike sure in gevalle waar wingerde doeltreffend bestuur is, wat alles dui op wyne van uitsonderlike gehalte.”
Suid-Afrika is die negende grootste wynprodusent ter wêreld en produseer ongeveer 4% van die wêreld se wyn. Die wynbedryf dra meer as R55 miljard tot die land se bruto binnelandse produk (BBP) by en het 269 069 mense regoor die waardeketting in diens, van wie 80 183 op plase en in kelders werk.
Wisselvallige beperkings op die uitvoer en plaaslike verkope van drank in Suid-Afrika van Maart 2020 tot Februarie 2021 as deel van die land se grendelregulasies het daartoe gelei dat die wynbedryf nagenoeg 650 miljoen liter wyn in voorraad gehad het teen die einde van 2020, waarvan ’n groot gedeelte nie op daardie stadium gekontrakteer was nie.
“Met so baie voorraad steeds in die tenke aan die begin van parstyd was produsente en kelders besorgd oor verwerkings- en stoorkapasiteit toe die nuwe oes ingebring moes word. Heelwat produsente het addisionele stoorspasie gehuur of ou tenke gerestoureer om plek te maak,” sê Rico Basson, Vinpro-bestuurshoof. “Die feit dat beperkings op verkope opgehef is, tesame met ’n later as normale oes, het egter tot ’n mate gehelp om die druk te verlig.” ’n Aantal wynkelders was ook in staat om kontrakte met druiwesapaanlegte te sluit, wat gehelp het om van die voorraad weg te werk.
- .