Die Suid-Afrikaanse Nasionale Weermag (SANW) ontken ten sterkste berigte dat twee Suid-Afrikaanse soldate wat as deel van die Suider-Afrikaanse Ontwikkelingsgemeenskapsending in die Demokratiese Republiek die Kongo (SAMIDRC) ontplooi is, hulle aan die M23-rebelle oorgegee het.
Opposisiepartye eis egter dringende verduidelikings oor die situasie in die DRK en die omstandighede waarin die Suid-Afrikaanse soldate hulle daar bevind.
Dit volg na ’n mediaberig op National Security News wat op sosialemediaplatforms geplaas is wat lui dat verskeie Suid-Afrikaanse soldate hulle tydens hulle ontplooiing in die DRK oorgegee het.
South African soldiers surrender to M23 rebel group in the Democratic Republic of the Congo and are taken as prisoners. https://t.co/vfMjICCHL2 pic.twitter.com/xoO92eMFF8
— NationalSecurityNews (@NSNWorldwide) April 2, 2024
Die DA het aan die voorsitters van die gesamentlike staande komitee oor verdediging geskryf en versoek dat hulle die komitee dringend moet byeenroep om die kommerwekkende verslae te oorweeg oor die operasionele krisis wat in die SANW-ontplooiing in die DRK ontvou.
ActionSA wil ook duidelikheid by die minister van verdediging en militêre veterane, Thandi Modise, hê oor die ontplooiing van Suid-Afrikaanse soldate in die DRK wat deel is van die Suider-Afrikaanse sending.
Die SANW het Woensdag in ’n verklaring gesê hulle wil dit kategories stel dat daar van alle SANW-lede rekenskap gegee kan word wat in die DRK ontplooi is.
The SA National Defence Force Media Statement || Wednesday, 03 April 2024 || The National Defence Force dismisses the unfounded claims of the surrender of the two South African Soldiers to the M23 rebels.#SANDF #DCCMesiaLiason#JointOperationsDivision pic.twitter.com/mMVWpoRu7y
— SA National Defence Force (@SANDF_ZA) April 3, 2024
Luidens ’n verklaring wat Woensdag vrygestel is, was daar verkeerde inligting in verskeie mediaberigte, insluitend dié van National Security News. Dieselfde publikasie het beweer dat die SANW-soldate nou as gyselaars deur M23 aangehou word.
Die SANW sê die soldate is deel van SAMIDRC wat ontplooi is om die regering van Afrika se tweede grootste land te ondersteun en by te staan om vrede, veiligheid en stabiliteit te herstel.
“Ons beskou sulke pogings deur gesiglose mense om die weermag te diskrediteer in die ernstigste lig, en sal nie staan en toekyk dat die weermag se goeie naam aangetas word nie.
“Die SANW, as die gesag vir die ontplooide lede, sal te alle tye die Suid-Afrikaanse publiek inlig oor die situasie en veiligheid van sy lede in die DRK,” het die SANW gesê.
Die DA se skaduminister van verdediging en militêre veterane, Kobus Marais, sê egter in ’n verklaring die SANW se bevelvoerders moet deur die parlement se gesamentlike staande komitee oor verdediging ingeroep word om te verduidelik waarom die ontplooiing gemagtig is, terwyl dit duidelik is dat die SANW se logistieke afdeling nie die kapasiteit het om operasionele infrastruktuur, soos ablusiefasiliteite, mediese ondersteuning en voedselvoorbereidingstoerusting, te ontplooi nie.
Hy wil ook hê die komitee moet dit oorweeg of die voortgesette ontplooiing van die SANW in die DRK SANW-lede in gevaar stel en of ’n aanbeveling aan die parlement gemaak moet word om die President se ontplooiingskennisgewing terug te trek.
ActionSA sê in hulle verklaring die SANW-ontplooiing in die DRK laat ’n paar kritieke vrae ontstaan wat ernstige kommer wek.
ActionSA is van mening dat die President en die Minister van Verdediging die soldate in ’n uiters wisselvallige gebied ontplooi het sonder die nodige middele om van hul missie ’n sukses te maak.
Volgens City Press bevind honderde Suid-Afrikaanse soldate hulle in swak omstandighede in die DRK. Die koerant berig dat meer as 600 troepe sonder veldkombuise moet klaarkom, aangesien dié nog nie afgelewer is nie. Etes word glo tans op ’n paar gasbranders in die buitelug voorberei. Geen dokters of verpleegsters is saam met die troepe ontplooi nie en hulle moet op die noodhulpstelle staatmaak.
Daar is volgens mediaberigte ook geen badkamers of toiletgeriewe vir die 600 soldate nie, benewens ses puttoilette, waarvan twee vir die 40 vroue in die kontingent gereserveer is.
The more than 600 South African soldiers who were recently deployed in the Southern African Development Community Mission in the Democratic Republic of Congo – the SAMIDRC – have to do without field kitchens, which have not yet been delivered. https://t.co/97Sn83ti8U
— News24 ???????? (@News24) March 31, 2024
In ’n onderhoud met Radio Islam International het die verdedigingskenner Helmoed Heitman gesê een van die grootste probleme is dat die SANW tans nie vliegtuie het om toerusting na die ontplooide troepe te vervoer nie. Die DRK-regering het glo nie sy belofte om te help nagekom nie, terwyl Angola, wat wel lugvervoerkapasiteit het, nie bydra nie.
Kommer oor SANW-troepe wat nie voldoende gevegs- en logistieke ondersteuning het nie, het reeds vroeër ontstaan ná ’n mortieraanval op 14 Februarie deur M23-rebelle waartydens twee Suid-Afrikaanse soldate gedood en drie beseer is.