Vrae oor handtekeninge kan ’n skadu werp oor vry en regverdige verkiesing

  • 0

Met minder as ’n maand oor voor stemdag is daar ernstige vrae onder kiesers oor die manier waarop sommige partye en kandidate op die stembriefie beland het. Dit kan die geloofwaardigheid van ’n vry en regverdige verkiesing in die gedrang bring indien daar nie behoorlik op dié vrae geantwoord kan word nie.

Die Onafhanklike Verkiesingskommissie (OVK) het Maandag in ’n verklaring ’n beroep op die misdaadondersoekowerhede gedoen om die ondersoeke te bespoedig om vas te stel of dit waar is dat handtekeninge vervals is sodat partye die stembrief kon haal.

Minstens twee partye word daarvan beskuldig dat hulle handtekeninge vervals het om vir die verkiesing te kwalifiseer, insluitend Jacob Zuma se uMkhonto weSizwe Party en Mmusi Maimane se Build One South Africa.

Een van die onafhanklike kandidate, Louis Liebenberg, se naam is in twee van die vier provinsies waar hy sou staan, van die stembrief verwyder nadat daar ook klagtes was oor die geloofwaardigheid van die aantal handtekeninge wat ingesamel is om sy naam op die stembriewe te kry.

Die OVK vereis dat partye 15 000 handtekeninge moet indien, terwyl onafhanklike kandidate 1 000 handtekeninge moet indien in elke provinsie waar hulle wil staan.

Die OVK het voorheen erken dat hy nie die vermoë het om die handtekeninge wat deur partye en onafhanklike kandidate ingedien is, te verifieer nie. Op sy beste kan die verkiesingswaghond die identiteitsnommers wat ingedien is, kruiskontroleer om te bevestig dat die ondertekenaar lewend is en geregistreer is om te stem.

Die afgelope naweek het City Press en Rapport berig oor bewerings dat die MK-party duisende handtekeninge vervals het om vir die verkiesing te registreer.

Volgens die berigte het ’n voormalige senior MK-partybeampte, Lennox Ntsodo, ’n beëdigde verklaring by die Wes-Kaapse polisie ingedien waarin hy beweer dat die MK-party ’n wydverspreide veldtog begin het om handtekeninge te vervals om die OVK se drempel van 15 000 handtekeninge te haal.

Die OVK sê in hulle verklaring hulle het kennis geneem van medianavrae en -berigte wat beweer dat die MK-party bedrieglike handtekeninge ingedien het.

“Verder het ons kennis geneem dat ’n kriminele klag by die Suid-Afrikaanse Polisiediens gelê is.”

Te midde van die nuwe vrae oor die egtheid van sommige van die handtekeninge, het Sy Mamabolo, hoofverkiesingsbeampte van die OVK, gesê die onus rus op die kandidate wat die handtekeninge indien om die verkiesingsgedragskode te eerbiedig.

“Ons is bewus daarvan dat die land geen databasis van 62 miljoen van sy burgers het nie en daarom is daar geen basis waarteen ons dit kan verifieer nie. Daarom rus die verantwoordelikheid op die party-administrateurs om seker te maak dat die handtekeninge wat hulle indien, vry van enige bedrieglike aktiwiteite is.”

Volgens City Press en Rapport het Ntsodo beweer dat hy sowat 20 mense gewerf het om te help om ’n massa handtekeninge te vervals nadat die OVK die party se aanvanklike aansoek om registrasie in 2023 van die hand gewys het oor kommer dat handtekeninge bedrieglik was.

Die OVK sê ’n vinnige ondersoek is noodsaaklik vir die uitvoering van vrye en regverdige verkiesings.

Dit is in hierdie stadium onduidelik watter sanksies teen partye of onafhanklike kandidate ingestel sal word wat die nominasieproses verontagsaam het.

Die OVK het kiesers Maandag ook daaraan herinner dat die sperdatum vir aansoeke om spesiale stemme in vanjaar se nasionale en provinsiale verkiesings hierdie Vrydag, 3 Mei 2024, is. Alle aansoeke om spesiale stemme vir doeleindes van huisbesoeke en stemlokaalbesoeke het op 15 April 2024 geopen.

Huisbesoeke is bedoel vir kiesers wat nie na stemlokale kan reis nie, terwyl spesiale stemme by stemlokale bedoel is vir almal wat nie op verkiesingsdag by die stemlokaal kan wees nie. Spesiale stemming sal gehou word op die twee dae wat verkiesingsdag voorafgaan, op 27 en 28 Mei 2024, van 09:00 tot 17:00.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top