Suid-Afrika se standpunt oor die oorlog in Oekraïne en die regering se huiwering om Rusland te kritiseer omdat Rusland Oekraïne binnegeval het, kan dalk verband hou met ’n moontlike multimiljardrandkontrak tussen Rusland en Suid-Afrika oor die verskaffing van gas.
Na aanleiding van ’n ondersoek deur die AmaBhungane Sentrum vir Ondersoekende Joernalistiek word in die Daily Maverick beweer dat Gazprombank, wat deur Rusland se staatsbeheerde gasverskaffer besit word, so ’n kontrak oorweeg.
Daar is die afgelope weke druk in die media en op sosiale platforms gegis waarom Suid-Afrika so voetjie-voetjie met die Russe speel terwyl die grootste deel van de wêreld Rusland se oorlog in Oekraïne veroordeel.
AmaBhungane is ’n onafhanklike niewinsgewende organisasie wat gereeld ondersoeke publiseer wat te make het met onreëlmatighede of sake van openbare belang.
Volgens die sentrum se jongste ondersoek het AmaBhungane bevestig dat Socar, die staatsbeheerde oliemaatskappy van Azerbeidjan, en Gazprombank, wat deur Rusland se staatsbeheerde aardgasverskaffer Gazprom besit word, ’n bod oorweeg om gas aan Suid-Afrika te verskaf
Shell, wat na verwagting ’n voorloper vir die gastender sou wees, het volgens die Daily Maverick bevestig dat hy nie sal bie nie.
Die koerant sê indien die bod toegeken word, kan dit vrae laat ontstaan of Suid-Afrika se standpunt oor Oekraïne beïnvloed word deur sy dors na gas.
Te midde van ’n oorlog in die Oekraïne en stygende brandstofpryse wil Suid-Afrika dringend toegang tot groot hoeveelhede aardgas verseker.
Die Sentrale Energiefonds (SEF) het verlede maand ’n tender vrygestel, op soek na ’n maatskappy wat kan onderhandel om vloeibare aardgas te bekom vir verskeie gas-tot-krag-projekte wat vir die Coega spesiale ekonomiese sone in die Oos-Kaap beplan word.
Op papier lyk die gaskontrak volgens die koerant soos ’n goudmyn. Maar die volumes aardgas is nie gewaarborg nie – deel van die werk sal wees om kopers te vind vir die vloeibare aardgas wat hy invoer – en nadere ondersoek van die tenderdokumente onthul glo dat nie een van die potensiële klante wat in Coega geïdentifiseer is, gereed is om aardgas te begin koop nie.
Verskeie opposisiepartye en kommentators beskuldig die regering daarvan dat hulle op ’n diplomatieke ramp met veral Westerse lande afstuur weens hulle huiwering om ’n sterk standpunt in te neem oor Rusland se inval in Oekraïne.
Die veteraanjoernalis en politieke kommentator Max du Preez het op Twitter gesê wanneer die oorlog in Oekraïne verby is, sal Suid-Afrika ontbloot word as een van die min vriende van ’n moontlike oorlogsmisdadiger, waarskynlik ’n beskuldigde voor die Internasionale Strafhof. “Die Weste se arrogansie en dubbelsinnigheid is nie wettige redes vir die slagting van burgerlikes nie,” sê Du Preez.
When the war in Ukraine is over, South Africa will stand exposed as one of the very few friends of a war criminal, likely an accused before the International Criminal Court. The West's arrogance & duplicity are not legitimate reasons for the slaughtering of civilians
— Max du Preez (@MaxduPreez) March 21, 2022
Die Anglikaanse aartsbiskop van Kaapstad, Thabo Makgoba, het verlede week ’n beroep op die Suid-Afrikaanse regering gedoen om “hard en duidelik” Rusland se inval in Oekraïne en sy bombardering van gesondheidsentrums en toevlugsoorde te veroordeel.
Makgoba het gesê dat hy soos baie burgers in die land benoud was oor die regering se stilte oor die grusame bombardering van gesondheidsfasiliteite en burgerlikes in Oekraïne.
Hy het gesê mense in Afrika kla oor die ontsettende onverskilligheid van baie Europeërs teenoor die lyding van Afrikane wanneer daar konflik op ons vasteland is.
“Is ons besig om die Europeërs na te boots in hul gebrek aan deernis, hul gebrek aan verontwaardiging oor die lyding waaraan vroue en kinders onderwerp word? Wil ons onsself tot hul vlak verminder?
“Waar is ons ubuntu, of ons menslikheid?” het Makgoba gevra.