Redaksionele nota: Hierdie ondersoek is aan die gang en nuwe inligting kom gereeld na vore. Die aantal lyke wat met die ondersoek verbind word, mag binnekort weer aangepas word.
*
Vroue in Ekurhuleni en omliggende gebiede leef in toenemende vrees nadat die liggaam van ’n sesde vrou gisteroggend (Dinsdag) langs ’n pad in KwaThema, Springs, gevind is en die polisie later dieselfde dag bevestig het dat ’n sewende liggaam nou ook by die ondersoek gevoeg is. Teen Woensdagogoggend is ’n agtste liggaam by die ondersoek betrek. Die ontdekkings in KwaThema, ongeveer 45 km van Kempton Park, het die vrees laat verdiep dat dit die werk van ’n reeksmoordenaar kan wees.
Die polisie ondersoek steeds of die sterftes die werk van ’n reeksmoordenaar is, of nie. Alhoewel die ooreenkomste tussen die sake kommerwekkend is, het die Suid-Afrikaanse Polisiediens (SAPD) tot dusver nie bevestig dat dit die werk van ’n enkele persoon is nie. Die vroue se liggame is halfnaak of naak, gekneus en in oop gebiede gevind. ’n Multidissiplinêre taakspan is op die been gebring om moontlike skakels te ondersoek, terwyl amptenare beklemtoon dat meer as een dader ook moontlik is.
Die waarnemende Gautengse provinsiale kommissaris, majoor-generaal Fred Kekana, het Dinsdagmiddag bevestig dat die liggaam van ’n vrou in haar laat twintigs wat op 7 September in ’n rivier in Clayville naby Tembisa Mall (Olifantsfontein) gevind is, as die sewende saak by die ondersoek gevoeg word. Sy was naak, maar het nog onderklere aangehad, en daar was geen sigbare wonde nie. “Dit is nie meer ses liggame nie; hierdie een sal ons insluit as die sewende liggaam, sodat ons niks uitsluit nie,” het Kekana gesê. Die agtste liggaam is kort daarna ook by die ondersoek gevoeg. Slegs twee van die agt liggame is tot dusver geïdentifiseer.
’n Woordvoerder van die polisie in Gauteng, kolonel Dimakatso Nevhuhulwi, het bevestig dat die toneel in KwaThema afgesper is. “Dit is ’n aktiewe toneel,” het sy gesê. Die liggaam wat daar gevind is, was na berig word naak en in die vroeë stadiums van ontbinding. ’n Voorlopige verslag dui op verwurging.
Die reeks moorde het op 15 Julie begin toe die liggaam van ’n 37-jarige vrou halfnaak en met kabelbande vasgebind naby die R21 gevind is. Haar vriend is twee dae later in hegtenis geneem en is steeds in aanhouding. Op 24 Augustus is die gedeeltelik geklede liggaam van ’n 32-jarige vrou ook naby die R21 gevind. Op 7 September is die liggaam in die rivier by Clayville ontdek (die sewende saak). Op 10 September is ’n onbekende vrou se ernstig ontbinde, naakte liggaam naby Rhodesfield ontdek. Op 12 September is die liggaam van die hardloper Elizabeth “Tsontso” Moselakgomo (38) agter die Protea Hotel in Rhodesfield gevind. Sy het op 9 of 10 September vir haar gewone middagdraffie uit haar huis in Rhodesfield vertrek en nooit teruggekeer nie.
Haar agtjarige dogter het alarm gemaak toe sy nie by die huis opdaag nie. Die familie het haar liggaam Maandag by die Germiston-staatslykshuis geïdentifiseer. Op 14 September is ’n vyfde liggaam, dié van ’n vrou in haar dertigs, gedeeltelik naak en gekneus, in ’n veld by Olifantsfontein deur ’n man op pad werk toe gevind. Die sesde is Dinsdag in KwaThema gevind.
Die polisie het Maandag bevestig dat minstens vier van die vroue seksueel aangerand is. Die meeste is gedeeltelik gekleed of naak, met kneusings, in oop gebiede soos in die veld, langs die pad of agter geboue gevind.
Die adjunk- nasionale kommissaris, luitenant-generaal Tebello Mosikili, het Maandagaand by die Kempton Park-polisiekantoor gesê die ooreenkomste is kommerwekkend. Nasionale polisiewoordvoerder brigadier Athlenda Mathe het gesê die polisie het nie ’n skakel tussen die sake uitgesluit nie, maar ook nie een bevestig nie. “Ons kan nie sit met ses liggame in die bestek van twee maande nie,” het sy bygevoeg – ’n syfer wat ten tyde van die plasing van hierdie berig reeds agt is. Die waarnemende minister van polisie, Firoz Cachalia, het aangedui dat speurders ook die moontlikheid van meer as een skuldige moet ondersoek.
President Cyril Ramaphosa het Dinsdag gesê hy het opdrag gegee dat die ondersoeke geprioritiseer word. “Geen klip sal onaangeraak gelaat word om dié wat verantwoordelik is, voor die gereg te bring nie,” het hy verklaar. “Hierdie voorvalle veroorsaak vrees en onsekerheid in ons gemeenskappe, veral onder vroue.” Hy het sy innige meegevoel betuig met die families en die publiek aangespoor om inligting te verskaf.
In Kempton Park, KwaThema en Tembisa sê inwoners hulle is bang. Vroue vermy dit om alleen te gaan draf of om in die aand te loop. Die Ekurhuleni Metro-polisie het ekstra patrollies ontplooi en die gesamentlike operasionele komitee geaktiveer.
Die polisie herhaal die oproep dat enigiemand met inligting luitenant-offisier Elvis Manyike by 082 465 7249 moet kontak. Intussen leef vroue in Ekurhuleni in ’n klimaat van vrees, terwyl die ondersoeke voortgaan om vas te stel of dit die werk van een reeksmoordenaar of meer as een moordenaar is.
- Lokprent deur Gerd Altmann van Pixabay
