Vrouedag in die skadu van geslagsgeweld verkragtings, aanrandings en moorde gevier

  • 0

Terwyl Suid-Afrika goeie vordering maak om geslagsgelykheid in die werkplek te bereik, het die land niks om op trots te wees wanneer dit kom by geweld teen vroue nie.

President Cyril Ramaphosa het Maandag op die vooraand van Vrouedag in sy weeklikse nuusbrief gesê die voorkoms van geslagsgebaseerde geweld bly een van die grootste struikelblokke vir die bereiking van volle en betekenisvolle geslagsgelykheid in Suid-Afrika.

Nasionale Vrouedag is ’n openbare vakansiedag wat jaarliks op 9 Augustus in Suid-Afrika gevier word. Die eerste viering het op 9 Augustus 1994 plaasgevind. Die dag gedenk die nasionale optog van vroue op hierdie dag in 1956 om beswaar te maak teen wetgewing wat swart mense verplig om ’n pas te dra. Die pas was ’n spesiale dokument wat die daaglikse beweging van swart mense gedurende die apartheidsera beperk het, met die doel om wit woongebiede te beveilig.

Vanjaar word Nasionale Vrouedag en Vrouemaand gevier met die tema “Vroue se sosio-ekonomiese regte en bemagtiging”.

Volgens die mees onlangse oorsig van vordering in die rigting van die Doelwitte vir Volhoubare Ontwikkeling is die land op ’n opwaartse tendens na die bereiking van geslagsgelykheid.

Vrouemaand het egter vanjaar glad nie goed begin nie. ’n Groep mans en vroue wat ’n musiekvideo by ’n ongebruikte myn naby Krugersdorp geskiet het, is vroeër die maand deur gewapende aanvallers aangeval en agt van die vroue is deur onwettige mynwerkers verkrag.

Hierdie verskriklike dade van brutaliteit teen vroue het skokgolwe regdeur die wêreld gestuur.

Ramaphosa sê in sy nuusbrief net soos die opmars van vroue in 1956 na die Uniegebou om teen die paswette te betoog ’n boodskap gestuur het dat gelyke regte vir vroue ’n belangrike doelwit van nasionale bevryding is, is die beëindiging van alle vorme van geweld teen vroue en kinders noodsaaklik vir die land se nasionale vooruitgang.

“Dit is nie ’n probleem van vroue nie, maar ’n probleem van mans. En dit is mans wat opgeroep word om deel te wees van die oplossing, beginnende by hul eie houdings en gedrag,” sê Ramaphosa.

Hy sê selfs al word daar kollektief saamgewerk om die samelewing van geslagsgebaseerde geweld te bevry, moet daarteen gewaak word om nie die vordering te verminder wat gemaak is in die bou van ’n nieseksistiese samelewing nie.

Hy sê daar is verskeie gebiede waar die verteenwoordiging van vroue aan die toeneem is. In die parlement is 46% van die lede van die Nasionale Vergadering vroue. Tans is 62% van die staatsdiens vroulik, en 44% van senior bestuursposte word deur vroue gevul.

Die huidige administrasie het ook die agenda vir die bevordering van vroueverteenwoordiging versnel deur die eerste vrou aan te stel as hoof van die Nasionale Vervolgingsgesag en die eerste vroulike direkteur-generaal in die Staatsveiligheidsagentskap en die presidensie.

Verlede week is die eerste vroulike adjunk- nasionale kommissaris van die Suid-Afrikaanse Polisiediens aangestel, en verlede maand is regter Mandisa Maya as Suid-Afrika se eerste vroulike adjunkhoofregter aangestel. Uit 256 regters op die regbank is 114 vroulik en byna die helfte van alle landdroste is vroulik.

Wat betref geslagsgeweld het Ramaphosa gesê verkragters het geen plek in die samelewing nie. Hy het ’n beroep op gemeenskappe gedoen om saam met die polisie te verseker dat hierdie misdadigers aangekeer en vervolg word. Hy sê gemeenskappe moenie toelaat dat misdadigers in hul midde skuil nie.

’n Groep vroue in die Wes-Kaap het Maandag op die vooraand van Vrouedag ʼn protes teen geslagsgebaseerde geweld en die stygende werkloosheidsyfer gehou.

Eyewitness News berig dat terwyl Suid-Afrika voorberei het om Dinsdag Vrouedag te vier, het die groep vroue ’n beroep op die regering gedoen om hulle teen geslagsgebaseerde geweld te beskerm, werk te verskaf en ’n einde te maak aan baie ander maatskaplike euwels.

Een van die deelnemers, Vanessa Nelson, gesê vroue het niks om te vier nie.

“Ons is nie regtig in staat om Vrouedag te vier nie, want ons is nie vry nie,” het Nelson aan die media gesê.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top