Vroueskrywers vier 16 dae van aktivisme saam

  • 0

 

Die jaarlikse 16 dae van aktivisme teen geweld teen vroue en kinders-veldtog het dié week begin met vroueskrywers wat saam deelneem aan die veldtog. Hierdie veldtog daag Suid-Afrikaners uit om geweld teen weerloses in die gemeenskap te help staak.

Daar word elke 14 minute ’n verkragtingsaak in Suid-Afrika aangemeld. Elke uur en ’n kwart word ’n vrou of kind onsedelik aangerand, en elke twee uur word ’n saak van kinderverwaarlosing aangemeld.

Verskeie programme word tydens die veldtog aangebied wat Suid-Afrikaners aanmoedig om by die veldtog betrokke te raak.

Die sesde simposium vir Afrika-vroueskrywers wat deel vorm van die veldtog begin Donderdag in Johannesburg. Die fokus is om die waarheid in die hedendaagse tydsgees te skryf en dié vrees te oorkom.

Skrywers wat vanjaar aan die gratis simposium van Donderdag tot 6 Desember in die Joburg-teater in Braamfontein en in die Hillbrow-teater deelneem, sluit onder andere die medeskrywer van die omstrede boek Die seuns van Bird Island, Chris Steyn in asook skrywers soos Redi Thlabi, skrywer van die boek Khwezi oor Fezekile Ntsukela Kuzwayo wat oud-president Jacob Zuma van verkragting beskuldig het.

Die 16 dae van aktivisme-veldtog is ’n internasionale veldtog wat ontstaan het by die eerste Women’s Global Leadership Institute, wat tydens 1991 deur die Centre for Women’s Global Leadership geborg is. Alhoewel die wêreldwye veldtog slegs op geweld teenoor vroue fokus, het Suid-Afrika as gevolg van die hoë vlak van kindermishandeling, kinders onder die vaandel van dié veldtog bygevoeg.

Die wit strikkie word jaarliks as ’n simbool van persoonlike en organisatoriese verbintenis tot die uitwissing van geweld teen vroue en kinders benut. Dit simboliseer die verbintenis van die draers om nooit geweld teen die weerloses te pleeg of goed te keur nie, en om standpunt in te neem teen geweld waar hulle dit teëkom.

Die vroue wat aan die simposium vir Afrika-vroueskrywers in Johannesburg deelneem, sal onder andere praat oor rassisme en marginalisering en die nalatenskap van die verlede asook die mislukkings van vandag om geweld teen vroue en kinders hok te slaan.

Toegang vir al die besprekingsessies is gratis maar dit is noodsaaklik om te bespreek by afroartsurban@gmail.com of urbanart10@gmail.com.

“Die simposium fokus op vroue en hedendaagse kwessies,” sê die organiseerder van die simposium, Roshnie Moonsammy. Sy sê dit gaan basies oor skryf in die hedendaagse tydvak, in ag genome politieke en maatskaplike kwessies. “Daar is baie uitdagings wat skrywers in die gesig staar,” sê sy.

Die eerste gesprek is Donderdag om 18:30 en handel oor rassisme en marginalisering met die Suid-Afrikaanse skrywer Malaika Mahlatsi as die gespreksleier. Sy is die skrywer van onder meer Memoirs of a Born Free: Reflections on the Rainbow Nation.

Hoewel dit ’n vroueskrywersimposium is, word mans nie uitgesluit nie.

Besoek die facebookblad https://www.facebook.com/events/178109956476288/ vir meer inligting en die volledige program.

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top