Die RNE moet voor Vrydag ’n politieke oplossing vind vir die geskille rakende die Bela-wet om ’n politieke krisis te voorkom.
Dit is wanneer die drie maande verstryk wat president Cyril Ramaphosa aan belanghebbendes gegun het om tot ’n vergelyk te kom toe hy die Bela-wet onderteken het. Tydens die ondertekening van die wet het hy gesê hy het besluit om die implementering vir klousules 4 en 5 van die wetsontwerp met drie maande uit te stel.
Dit sou al die partye volgens hom tyd gee om oor hierdie kwessies te beraadslaag en voorstelle te maak oor hoe die verskillende sienings geakkommodeer kan word.
“Indien die partye nie oor ’n benadering kan ooreenkom nie, sal ons voortgaan met die implementering van hierdie dele van die Wetsontwerp,” het Ramaphosa destyds gesê.
Noudat die drie maande Vrydag ten einde loop, is daar steeds geen sprake van ’n ooreenkoms wat deur al die partye aanvaar word nie.
’n Ooreenkoms is wel by Nedlac tussen Solidariteit en die presidensie oor die implementering van die wet onderteken, maar die presidensie het kort na die ondertekening daarvan koue water op die ooreenkoms gegooi. Hulle beskou dit nie as bindend nie, aangesien Ramaphosa glo nie daarvan bewus was nie.
Die hele land se oë is nou op Ramaphosa gerig om te sien of hy opdrag gaan gee dat die omstrede klousules nou in werking gestel word en indien wel, hoe dit die RNE sal raak.
Die DA-leier, John Steenhuisen, het Sondag in ’n verklaring gedreig dat dit ’n einde aan die RNE sal beteken as daar toegee word aan eise om die minister van basiese onderwys, Siviwe Gwarube, af te dank.
🚨The DA rejects any attempt to fire Minister Gwarube or any DA Minister for doing their jobs! This comes amid misinformation surrounding the ongoing consultation process on the BELA Act. The DA is in government to drive change, guided by our Constitution.https://t.co/i0PmLkeTyy
— Democratic Alliance (@Our_DA) December 8, 2024
“Die DA verwerp enige poging van ’n faksie van die ANC om die President te beïnvloed om minister Siviwe Gwarube, of enige ander DA-minister, af te dank omdat hulle hul werk doen. Om dit te doen sal ’n einde aan die regering van nasionale eenheid beteken,” sê Steenhuisen.
Steenhuisen sê dit geskied te midde van verkeerde inligting oor die konsultasieproses wat plaasvind sedert Ramaphosa die Bela-wet byna drie maande gelede onderteken maar klousules 4 en 5 op ys geplaas het.
Hierdie konsultasies is aan die gang deur die geskiloplossingsmeganisme binne die RNE maar Steenhuisen sê hy ondersteun ook die Nedlac-ooreenkoms.
“As leier van die DA wil ek hierdie punt hard en duidelik stel. Ons ondersteun die proses wat die Minister gevolg het, aangesien sy besig was om haar wetlik verpligte verantwoordelikhede na te kom, en respekteer die uitslag van die onderhandelinge by Nedlac.”
Steenhuisen sê die Nedlac-proses is heeltemal afsonderlik van die konsultasieproses, en om die twee saam te voeg is misleidend, en feitelik verkeerd. “Dit was ’n verpligte proses, ingevolge die wet, om stakingsaksies wat uit die dispuut kon voortspruit, te voorkom. Die uitkoms van hierdie verbintenis was ’n skikking, onderteken deur die minister van basiese onderwys, die presidensie en die vakbond.”
Die feit dat die presidensie hom nou gedistansieer het van hierdie wetgewende proses waarvan die presidensie ’n medeondertekenaar was, is volgens Steenhuisen net so skandelik as wat dit verwarrend is.
“Ons het dit van die begin af duidelik gestel. Ons is in die regering om positiewe verandering teweeg te bring, insluitend inklusiewe ekonomiese groei, en werksgeleenthede, en ons word te alle tye gelei deur die oppergesag van die reg, en die Grondwet van Suid-Afrika. Enigiets tot die teendeel sal nie geduld word nie.”
Dirk Hermann van Solidariteit sê die ooreenkoms by Nedlac tussen Solidariteit en die regering is bindend. As die President hom aan die ooreenkoms wil onttrek, sal hy dit deur ’n hofproses ongeldig moet laat verklaar, het Herman in ’n verklaring gesê.
Volgens die ooreenkoms sal die President nie die betwiste Bela-artikels implementeer voordat daar norme en standaarde, regulasies en beleid opgestel is nie.
Hermann sê uit uit ’n regsoogpunt kan die President dus nie op Vrydag 13 Desember die betwiste artikels implementeer nie. “Doen hy dit, is ons in ’n sterk regsposisie en sal ons hof toe gaan.”
Solidariteit sê Ramaphosa sal die Grondwet oortree as hy die res van die wet Vrydag onderteken.
Ramaphosa sal Grondwet oortree as hy Vrydag teken… pic.twitter.com/Zu4n7tuoXi
— Solidariteit (@solidariteit) December 8, 2024
Hermann sê die RNE gaan probeer om voor Vrydag ’n politieke oplossing te vind, en hoewel Solidariteit in ’n sterk regsposisie is, is politieke oplossings die eerste prys.