Vrye Weekblad herrys uit die dood

  • 0

Max du Preez
Foto: Naomi Bruwer

Die progressiewe Afrikaanse stem in die media Vrye Weekblad herleef binnekort as ’n aanlyn koerant op die internet met die veteraanjoernalis Max du Preez weer in die warm redakteurstoel. Hy was destyds ook die stigtersredakteur van die koerant.

“Toe Vrye Weekblad 25 jaar gelede sy deure moes sluit, het ons ietwat oneerbiedig verklaar: ons fade nie, ons fokkof,” sê Du Preez in sy verklaring oor die koerant se herlewing. “Wel, Vrye Weekblad is terug. Met mening. Aanlyn dié keer. Geen boom word opgeoffer sodat jy op hoogte kan bly nie.”

Volgens Du Preez is die tyd vir Vrye Weekblad II reg en die behoefte daaraan is duidelik. “En geen minister kan ons gebied om drieduisend keer die normale registrasiefooi as ’n koerant te betaal soos wat Kobie Coetsee in 1988 gedoen het nie.”

Vrye Weekblad II het die finansiële steun van Tiso Blackstar Group, uitgewers van onder meer Business Day, Financial Mail, Sunday Times en Sowetan. Volgens Du Preez is hulle baie gemaklik met hulle vennote.

Saam met Du Preez in die kernspan is die gewese adjunk-redakteur van Vrye Weekblad, Jacques Pauw, deesdae nog meer beroemd na sy boek The President’s Keepers, en Anneliese Burgess, wat in Vrye Weekblad se dae by Die Suid-Afrikaan was.

Die eerste uitgawe sal na verwagting in April op die web verskyn. Die eerste ses uitgawes sal gratis gelees kan word waarna intekenaars ’n fooi sal moet betaal om die koerant te lees.

Die bekroonde joernalis Jeremy Gordin is egter skepties oor die herlewing van Vrye Weekblad. Hy meen Du Preez en sy span gaan hulle in ’n ongemaklike posisie bevind.  Gordin het in Politicsweb geskryf 25 jaar is ’n lang tyd en baie het sedertdien verander.

Hy sê die meeste Afrikaanse lesers is nie gemaklik met progressiewe koerante nie. Hy wil weet hoeveel van hulle sal bereid wees om te betaal om Max du Preez se politieke menings te lees. Hy sê hy sal verbaas wees as Du Preez daarin slaag om vyf persent van die Afrikaanse lesers met sy koerant te trek. Sy volledige opinie kan hier gelees word op Politicsweb https://www.politicsweb.co.za/opinion/is-vrye-weekblad-ii-going-to-fly

Volgens Du Preez is Vrye Weekblad se missie vandag fundamenteel dieselfde as in 1988: “Soek die feite; wys geen genade vir diegene in magsposisies nie; sny deur die mis en rook en geraas en kom by die waarheid uit. Ons taak is om ’n ingeligte openbare mening te help skep en so ons demokrasie te dien.

“Ons het onsself destyds ’n progressiewe stem genoem. Ons is dit steeds. Onder progressief verstaan ons verdraagsaamheid, oopheid vir nuwe idees en oortuigings, nie-rassigheid (ons definisie daarvan verskil dalk van dié van die regerende party en regse drukgroepe), lojaliteit teenoor die grondwet, ’n verbintenis tot menswaardigheid en tot reg en geregtigheid, ’n erkenning van die nalatenskap van ons bittere verlede en ’n onderneming om ’n meer regverdige en voorspoedige Suid-Afrika te help bou.”

Hy sê ook Vrye Weekblad II is geensins ’n Afrikaner-publikasie nie. “Dit is ’n Suid-Afrikaanse webkoerant in Afrikaans. Vir almal wat Afrikaanssprekend is of Afrikaans verstaan.”

Soos apartheid en rassisme destyds Vrye Weekblad se teiken was, só gaan dié verskynsels volgens Du Preez Vrye Weekblad II se teiken wees. “Ons gaan weer teen etniese mobilisering, wit en swart, baklei.”

Hoekom juis nou Vrye Weekblad laat herleef? Du Preez sê hulle is lankal erg gefrustreerd met die bestaande Afrikaanse media. “Ons is ’n Afrikaanse mediahuis, klink dit vir my is die houding, so ons het ’n gevange lesers/kykerskorps en kan dus maar middelmatig wees. En ons is so skytbang vir die lawaaieriges regs van ons dat ons liewer by hulle gaan witvoetjie soek. Geen energie nie, geen avontuurlustigheid nie, geen vonk van kreatiwiteit nie. Misdaad en celebrities is die hoofmaal.”

Hy sê kieskeurige, denkende Afrikaanse lesers verdien beter. Hulle hoef hul nie na Engelse publikasies te wend nie. “Vrye Weekblad is terug. Ons wil weekliks nuus, menings, ontledings en essays van wêreldgehalte publiseer.”

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top