Meer as die helfte van alle nuwe wonings in Kaapstad gaan binne die volgende 20 jaar informele strukture wees.
Die VF Plus sê in ’n verklaring daar sal hard besin moet word oor die aangeleentheid om te voorkom dat Kaapstad in ’n groot plakkerskamp ontaard.
Die bevinding dat 53% van alle nuwe wonings in Kaapstad binne die volgende 20 jaar informele strukture gaan wees, word vervat in ’n verslag van die metro se afdeling vir water en sanitasie.
Die verslag meld voorts dat Kaapstad se erkende informele nedersettings tussen Maart 2016 en Junie 2020 met 60 000 strukture gegroei het.
Hierdie scenario is volgens die VF Plus uiters onrusbarend. Die party sê hulle het die stad se portefeuljekomitee vir water en sanitasie versoek om dringend ’n verstedelikingsplan op te stel om die invloei van mense na die stad te verreken.
“Daar kan nie hiermee gewag word totdat die stad oorstroom word met mense sonder verblyf nie. Daar moet nou reeds ernstig oor toekomstige behoeftes besin word.”
Hierdie voorspelde groei van ekonomies onaktiewe mense beteken volgens die VF Plus dat gratis basiese dienste deurlopend en onbepaald aan al dié huishoudings verskaf sal moet word.
“Hierdie koste sal uiteraard van die stad se betalende inwoners verhaal moet word wat in die toekoms swaar gaan dra aan die las van die voorsiene groei.”
Die vraag na huidige behuising oortref reeds toenemend die aanbod en die migrasie na Kaapstad gaan ’n geweldige las op die stad se bestaande infrastruktuur plaas.
Die teikens van die nasionale regering is om vir elke vyf informele huishoudings een toilet en een gemeenskaplike kraan vir elke 25 huishoudings daar te stel.
Vir die kwartaal tot Maart 2023 het Kaapstad 507 gemeenskaplike krane en 4 070 toilette aan nuwe informele nedersettings verskaf.
Die volhoubaarheid hiervan sal in die toekoms gedra moet word deur ’n krimpende belastingbasis van bestaande inwoners wat reeds finansieel swaar trek.
Teen hierdie agtergrond is die behuisingsagterstand in Kaapstad reeds meer as 400 000, en daar is min hoop vir mense wat in sommige gevalle al langer as 20 jaar op huise wag.
Om die saak te vererger het die Wes-Kaapse Departement van Menslike Nedersettings bevestig dat behuisingsubsidies vir diegene wat minder as R3 500 per maand verdien, reeds vir 2023 uitgeput is.
Alhoewel daar nie ’n tekort aan kontantvloei in die stadsbegroting is nie, is daar volgens die VF Plus wel ’n duidelike tekort aan beplanning wat dringend nodig is vir die behuisingsvraagstuk.
Die party sê dit is belangrik dat die belange van bestaande inwoners deurentyd die swaarste moet weeg in die hele proses.
Oor die afgelope vyf jaar het die Wes-Kaapse Departement van Menslike Nedersettings meer en groter ondersteuning aan informele nedersettings begin bied.
Die program aanvaar dat informele nedersettings in die land se stede permanent is en dat die staat nie die finansiering het om hul groei te keer om en genoeg huise te bou nie.
Die Wes-Kaapse regering het vroeër in ’n verklaring gesê dat informele nedersettings ten spyte van "vorige veroordelings" ’n "permanente kenmerk van die provinsiale landskap is en nie binne ’n kort tydjie uitgeroei kan word nie".
Die visie is om die lewenskwaliteit van informele nedersettingsbewoners te verbeter deur toegang tot openbare infrastruktuur, finansies, grond, verblyfreg, ekonomiese geleenthede en inkrementele behuisingsgeleenthede deur middel van ’n vernuwende, mensgesentreerde en vennootskapsgebaseerde benadering moontlik te maak.
Vinnige verstedeliking en natuurlike bevolkingsgroei het die regering se ambisies om informele nedersettings in die land uit te roei verydel. In die Wes-Kaap dra migrasie uit ander provinsies en lande ook by tot die voortdurende verskuiwings en veranderinge in die vraag na openbare dienste en skuiling.