As jy moeg is vir die lewe in die stad, kan jy nou vir jou ’n hele dorp in die Vrystaat koop.
Verkykerskop is pens en pootjies in die mark teen sowat R5 miljoen. Die gelukkige koper sal onder meer ’n algemene handelaar, oorspronklike meule, vyfslaapkamer-gastehuis, ’n kerkie, koffiewinkel, drankwinkel en selfs haarsalon ryker wees.
Die dorp sal op 7 en 8 Junie op ’n openbare veiling verkoop word. ’n Advertensie wat op die dorpie se Facebookblad geplaas is, het reeds groot mediabelangstelling gelok.
Die Sunday Times en Netwerk24 se koerante, asook die radiostasie JakarandaFM het sedert die naweek daaroor berig.
Die dorpie mag dalk net 25 permanente inwoners hê, maar het al oor die jare derduisende besoekers van regoor die wêreld gelok.
En te oordeel aan die dorp se Facebookblad is die inwoners allesbehalwe rekenaarongeletterd. Soos op enige groot dorp se Facebookblad word daar allerhande nuus gedeel oor alles van verlore troeteldiere tot wenke vir Kersfeesgeskenke en motors en ander snuisterye wat te koop is.
Sedert die advertensie geplaas is, stroom die navrae behoorlik in. Een van die belangstellendes wou op Facebook weet of enigiemand die dorp kan koop en of dit net vir wit Afrikaners is. Die antwoord was dat almal welkom is om die dorp te koop, selfs al is jy so kleurvol soos ’n boksie Smarties.
Saam met die dorp sal daar ook verskeie interessante items onder die hamer kom. Meer as 700 antieke meubelstukke, ’n petrolpomp en antieke reklameborde is alles te koop.
Die dorpie is naby Harrismith geleë en behoort aan die egpaar Matt Hoffmann en Beth Hillary. Hulle werk albei die afgelope 25 jaar in die vermaaklikheidsbedryf. Sedert hulle die dorp 14 jaar gelede gekoop het, het hulle dit in ’n gesogte toeristetrekpleister omskep.
Netwerk24 berig dit is ook die enigste dorp in die land met ’n poskantoor wat sy eie kroeg het. “As jy slegte nuus in die pos kry, is jou dop sommer byderhand,” het Hoffmann aan Netwerk24 gesê.
Hy sê Verkykerskop is vir mense wat links draai en nie net reguit aanry Durban toe nie. Dit is glo ’n paradys in die kleine met ’n stukkie Vrystaatse geskiedenis waar mens soggens wakker word met ’n ystervark in die tuin.
Die dorp spog verder met ’n trou-venue, ’n teater waar musikante soos Valiant Swart, The Parlotones, Frank Opperman en Chris Chameleon al opgetree het.
Daar is selfs ’n webwerf met inligting oor die veiling en foto’s van items wat opgeveil gaan word waar belangstellendes kan gaan loer: https://verkykerskop.co.za/auction-home.
Hoffmann het aan Netwerk24 gesê ’n buitelandse besoeker het op ’n keer gesê ’n besoek aan die dorp is soos om ’n surrealistiese rolprentstel aan te doen.
Die rede vir die verkoop is volgens hom dat dit tyd geword het vir die egpaar om af te skaal en teen ’n stadiger tempo te leef omdat dit ’n groot verantwoordelikheid is om so ’n plek te bestuur.
Buro: MvH