Die afgelope week se drastiese verhoging in die prys van brandstof gaan Suid-Afrikaners nog verder verarm. Binnelanders wat planne gemaak het vir ’n jaareinde-vakansie ver van die huis, sal dalk tweemaal moet dink of hulle dit kan bekostig.
Suid-Afrikaanse motoriste betaal van Woensdag af tussen R48,60 en R91,20 meer om hul motors met petrol vol te maak.
Groot voertuie met ’n 80 liter-tenk sal nou meer as R2 000 uit eienaars se sakke jaag om die tenk vol te maak wanneer dit leeg is.
Eienaars van kleiner voertuie met ’n 45 liter-tenk moet nou byna R50 meer per tenk opdok. Dit kos hulle reeds meer as R1 000 om ’n leë tenk vol te maak.
Die vakbond Cosatu sê die massiewe styging in die brandstofprys is nog ’n groot slag vir die reeds sukkelende werkersklas. Cosatu sê werkers en armes kan nie meer die ekonomiese druk verduur nie.
Die vakbondfederasie sê hulle verwag van die regering om beslissend op te tree om armoede te verlig.
Cosatu se Matthew Parks sê die regering druk die armstes van die armes uit.
[ON AIR] Cosatu says that the massive increase in the price of fuel today is yet another painful further blow to an already battered economy and struggling working class. Mathew Parks – @_cosatu Spokesperson on #SAfmSunrise with @Oliver_Speaking #sabcn pic.twitter.com/o1BgiBF23S
— SAfmRadio ???? (@SAfmRadio) October 4, 2023
“Ons besef dat daar nie veel is wat die regering kan doen aan die oorsaak van die styging in die brandstofpryse nie. Dit is basies die internasionale oliepryswisselvalligheid as gevolg van die oorlog in die Oekraïne of ander kontrakte in die Midde-Ooste wat keer op keer veroorsaak dat dit gebeur.
“Maar dit het ’n groot impak op mense. Ons het verlede maand ’n R2/liter-verhoging gehad, nou het ons nog een gehad hierdie maand, petrol is nou sowat R27 per liter. Ons het ook gesien dat die inflasie vroeër vanjaar met sowat 7,8% gestyg het. Voedselinflasie het gestyg en werkers is ook swaar getref deur die styging in elektrisiteitstariewe. So, dit maak dit regtig baie moeilik vir mense om te oorleef,” het Parks gesê.
Cosatu sê werkers verdrink in die skuld en sukkel om vir hul gesinne te sorg. Die loon hou nie tred met die vlak van prysverhogings nie.
Die prys van petrol het Woensdag vir alle grade met meer as R1 gestyg. Diesel het met tussen R1,93 en R1,96 per liter gestyg en paraffien met R1,51 per liter.
Die Outomobiel Assosiasie (AA) sê die verhogings gaan alle verbruikers hard tref en dit kom op ’n tyd dat die meeste Suid-Afrikaners uiterste finansiële druk voel. Die AA sê dit bly egter kommerwekkend dat die regering in die lig van hierdie verhogings stilbly oor sy planne, indien daar enige is, oor ’n pad vorentoe om meer doeltreffend brandstofprysverhogings te hanteer.
More fuel price pain a certainty in October - AA
Read more here: https://t.co/cij705qUOn
#AAPress #AASA #Fuel #price #petrol #southafrica #october”— AA South Africa (@AASouthAfrica) September 19, 2023
Die DA sê in ’n verklaring die brandstofprysverhoging is ver bo markverwagtinge en is nog ’n herinnering dat die ANC-regering nie dringende beleidstappe sal neem wat ook die prys van voedsel deur middel van laer brandstofpryse sal verlaag nie.
Die DA sê in hulle verklaring die minister van energie, Gwede Mantashe, en die minister van finansies, Enoch Godongwana, het gekies om ’n petisie - wat deur 130 000 Suid-Afrikaners onderteken is wat vra vir die rasionalisering van die brandstofprys - al meer as ’n jaar lank te ignoreer.
Hulle sê dit sou verbruikers beskerm teen die stygende lewenskoste en huishoudings sukkel om kos op hul tafels te sit, terwyl die regering eenvoudig nie omgee nie.
“Soon, the price of basic foods will be going up – bread, peanut butter, mielie meal, sugar, baby food – will be unaffordable for most people.” - @Siviwe_G#CutFoodCosts pic.twitter.com/ho8gupZSCK
— Democratic Alliance (@Our_DA) October 4, 2023
Dat geen aksie deur die departement van energie geneem word om die hervormingsproses te begin nie, openbaar volgens die DA ’n hardnekkige vasberadenheid deur Mantashe om staatsbeheer oor die brandstofwaardeketting te behou.
“Alhoewel daar duidelike bewyse is dat hoë brandstofpryse ons ekonomiese groeivooruitsigte skade berokken, verbruikers tot op die rand stoot en ’n hoë lewenskoste-omgewing vererger, het die ANC ’n onverskillige en arrogante houding ingeneem wat eenvoudig bevestig dat hulle nie omgee vir die welsyn van verbruikers nie,” sê die DA.