Suid-Afrikaners behoort teen die einde van die week groter duidelikheid te hê wat president Cyril Ramaphosa en sy regering se planne is om die land uit die energiekrisis en die ekonomiese moeras te lei waarin beurtkrag dit gedompel het.
Die land se elektrisiteitskrisis sal heel boaan die agenda wees wanneer Ramaphosa Donderdag sy staatsrede in die parlement lewer.
Die staatsrede is ’n geleentheid waaraan die drie arms van die staat – die regbank, die nasionale wetgewer en die uitvoerende gesag – deelneem as ’n demonstrasie van die land se grondwetlike bedeling en kultuur, en om te verseker dat al drie arms op nasionale prioriteite gefokus is.
#SONA2023 President @CyrilRamaphosa has called a Joint Sitting of the National Assembly and the National Council of Provinces at 19h00 on Thursday, 9 February 2023 to deliver the State of the Nation Address.#SONA2023 ???????? #LeaveNoOneBehind pic.twitter.com/TN1XKZdpKK
— Presidency | South Africa ???????? (@PresidencyZA) February 1, 2023
Dit bied ’n geleentheid aan die president om sy doelwitte vir die komende jaar uit te spel en sake van nasionale belang aan te spreek. Daarin sit hy die regering se planne uiteen om dienste aan die mense van Suid-Afrika te verskaf.
On Thursday 9 February at 7pm during #SONA2023 President Cyril Ramaphosa will outline government’s plans to provide services to the people of South Africa pic.twitter.com/QZ7H85M6fN
— Parliament of RSA (@ParliamentofRSA) February 6, 2023
Dit sal die eerste keer wees dat Ramaphosa sy stempel as leier van die regering op sake kan plaas nadat hy verlede jaar in Desember as ANC-president herkies is tydens die ANC se nasionale konferensie by Nasrec.
Die beëdiging van vier nuwe ANC-parlementslede dié week baan ook die weg vir die President om sy kabinet te skommel en die ANC-adjunkpresident Paul Mashatile as sy tweede in bevel aan te stel na die bedanking van David Mabuza as adjunkpresident van die land.
Maropene Ramokgopa, tweede adjunk-sekretaris-generaal van die ANC, is een van die vier senior lede van die party wat Maandag as parlementslid ingehuldig is.
Die langverwagte kabinetskommeling sal na verwagting ook dié week deur Ramaphosa aangekondig word. Dit sal aan die land ’n idee gee tot watter mate hy werklik die leisels in die hand het om ontslae te raak van die Zuma-ondersteuners in sy geledere en of hy die politieke wil en ruggraat het om dit te doen.
Een van die vrae op baie mense se lippe is of omstrede ministers soos Nkosazana Dlamini-Zuma en Lindiwe Sisulu, wat albei openlik teen hom gekant was in die aanloop tot sy herverkiesing as ANC-president, weer in die kabinet opgeneem gaan word.
Daar is reeds bespiegel dat Dlamini-Zuma weer eens getaak gaan word om die beoogde ramptoestand oor kragvoorsiening te lei, ten spyte van haar ongewildheid in daardie hoedanigheid tydens die Covid-ramptoestand.
Die DA het Maandag in ’n verklaring gesê die party sal nie die ramptoestand ondersteun as dieselfde onbevoegde ministers weer in beheer geplaas word nie.
The DA vehemently rejects the suggestion made by the ANC's NEC for Minister Nkososana Dlamini-Zuma to lead the State of Disaster that may be declared on loadshedding.https://t.co/a6Ps55Y5hK
— Democratic Alliance (@Our_DA) February 5, 2023
Die party se skaduminister van minerale bronne en energie, Kevin Mileham, sê die DA verwerp ten sterkste die voorstel van die ANC se NUK dat Nkosazana Dlamini-Zuma die voorgestelde elektrisiteitsramptoestand lei.
“Sou president Cyril Ramaphosa tot hierdie verregaande besluit toestem, sal die DA die nodige stappe doen om dit teen te staan en daarteen te veg.”
Mileham sê tydens die Covid-ramptoestand het Dlamini-Zuma haar magte misbruik. “Ons sal nie instem tot enige verregaande plan om Suid-Afrikaners weer te straf oor ’n elektrisiteitskrisis wat deur die ANC veroorsaak is nie.”
Intussen het die EFF te kenne gegee dat hulle die staatsrede Donderdag weer soos in die verlede sal ontwrig as Ramaphosa die land toespreek.
EFF-leier Julius Malema het Sondag weer tydens ’n byeenkoms van sy party in die Vrystaat gesê Ramaphosa sal nie die parlement Donderdag vreedsaam toespreek nie.
♦️ICYMI♦️
CIC @Julius_S_Malema addressing the EFF Free State Provincial Plenum
-We who are not captured by the White Monopoly Capital, we are striking now, on the 9th of February 2023, Cyril Ramaphosa will not address that Parliament peacefully.#EFFTurns10 pic.twitter.com/Eicy8jA2Eu
— Economic Freedom Fighters (@EFFSouthAfrica) February 6, 2023
“Ons gaan hom wys waarvan ons gemaak is daar in die parlement; ons sal nooit deur ’n grondwetlike misdadiger aangespreek word nie; ons sal daar wees en ons gaan hom trompop aanvat en dit is ons verhouding met hom van nou af,” sê Malema.
Volgende week, op 14–15 Februarie, sal politieke partye die President se toespraak in die Nasionale Vergadering debatteer en Donderdag 16 Februarie sal die President op die debat antwoord.