Vytjie-fluitjieblaser sluit by ACDP aan

  • 0

Die voormalige ANC-parlementslid en fluitjieblaser Vytjie Mentor het ’n nuwe politieke tuiste gevind.

Die African Christian Democratic Party (ACDP) het Dinsdag aangekondig dat Mentor haar by die party gaan aansluit op die vooraand van die algemene verkiesing wat op 8 Mei gehou word.

Mentor is een van die persone wat die afgelope tyd voor die Zondo-kommissie getuig het oor staatskaping. Sy was een van die eerste Zuma-fluitjieblasers wat die ANC in die openbaar van staatskaping beskuldig het.

Sy het haar volgelinge op Facebook Dinsdagoggend gegroet met ’n foto van ’n oopgeslaande Bybel en ’n sny koek. Die Bybel was oopgeslaan by ’n hoofstuk in Samuel wat handel oor Saul wat later koning geword het.

Sy het verlede maand tydens die Woordfees vertel hoe moeilik dit was om ’n fluitjieblaser te word terwyl sy nog lid van die ANC was. Dit was nie ’n maklike pad om fluitjieblaser te word nie, het Vytjie vertel van die dag toe sy haar verklaring by die polisiestasie in Durbanville gaan aflê het. Dit het ’n kat in die Zuma-hoenderhok losgelaat maar ook brullende leeus wat haar wou vermorsel.

“Mens breek nie maklik jou bande met die ANC as dit die organisasie is waarin jy grootgeword het nie. Dit is immers die organisasie wat as voertuig gedien het vir ’n beter Suid-Afrika en die hele land se belange moes dien. Nie net die van ’n sekere groep of party nie.”

Dit was veral sedert 2007 dat sy besef het die voertuig wat almal na ’n beter bestemming moes neem, se wiele val af en is besig om koers te verloor, het sy vertel.

Op ’n vraag tydens die Woordfees of sy weer die fluitjie sou blaas as sy geweet het hoeveel moeilikheid dit haar sou besorg, het Mentor gesê hoewel sy moontlik die woede wat sy ontketen het onderskat het, sal sy dit weer doen en is nie spyt daaroor nie.

Haar besluit om nou by die ACDP aan te sluit het gemengde reaksie op sosiale media uitgelok. Sommige het dit as die grap van die jaar bestempel terwyl ander haar keuse geprys het.

“Die stap sal nie die party help groei nie, dis net nog ’n fout van die ACDP. Sy sluit haar by die pensioentrekkers aan,” het een van die kommentators op Twitter geskryf.

https://twitter.com/ZweliTukayi100/status/1110536757337051139

Dit is nog nie duidelik wat Mentor se rol in die ACDP gaan wees en of sy enige leiersposisie sal beklee nie.

As ANC-parlementslid was sy onder andere voorsitter van die portefeuljekomitee oor openbare werke waar sy in 2016 nuus gemaak het toe sy aangevoer het die Guptas het haar ’n pos as minister aangebied in oud-president Zuma se kabinet.

In haar boek No Holy Cows het sy die ANC bygekom oor sake wat wissel van staatskaping, die Marikana-skietery tot bewerings van seksuele teistering in die ANC.

Mentor wou nie Dinsdag met die media praat oor haar aansluiting by die  ACDP nie. Sy het op Facebook gesê sy is besig met aandklasse in Bybelstudie en het huiswerk om te doen. Sy het gesê sy sal nie voor Donderdag kans hê om met die media te praat nie.

Een van haar volgelinge op Facebook, Johny Mashatole, wou by haar weet of sy verplig is om ’n Bybelkursus te volg noudat sy haar by die ACDP aangesluit het. “Ek hoop die Bybel leer jou oor vergifnis en ons verwag van jou om Donderdag vir ons te sê jy het die ANC en die Guptas vergewe.”

Van haar volgelinge was teleurgesteld omdat sy nie liewer by die DA aangesluit het nie terwyl sommige haar sterkte toegewens het, maar niemand was uitermate opgewonde oor haar nuwe politieke tuiste nie.

Buro: NB
  • 0
Verified by MonsterInsights
Top