Gebeure in Suid-Afrika is nooit so eenvoudig (eendimensioneel, binêr, swart of wit) soos wat dit aanvanklik of op die oog af mag voorkom nie.
Of, tong-in-die-kies bygesê, voordat ’n kommissie van ondersoek daarna ingestel is en sodanige kommissie ’n bevinding daaroor gemaak het nie. Tot dán kan jy jou gereed maak vir ’n warboel van verskillende menings, spesifiek op sosiale media, oor die kwessie onder bespreking.
Dit is nou weer die geval met verlede Sondag se gebeure in Kaapstad toe ’n groot deel van die Nasionale Vergadering in puin gelê is – vermoedelik deur brandstigting. Na sommige se mening was dit ’n goeie ding wat hier gebeur het – die vernietiging van ’n simbool van kolonialisme en apartheid; na ander se mening was dit ’n kommerwekkende aanval op ’n simbool van Suid-Afrika se demokratiese bestel. En tussenin en buite om ’n velerlei ander kommentare.
Hoekom gebruik ek die woord vermoedelik aan die begin van die vorige paragraaf? Eerstens omdat ’n behoorlike ondersoek nog eers na die voorval gedoen moet word. Dit sou heel moontlik kon bevind dat die brand ’n ongeluk kon gewees het, dalk ’n brand wat deur ’n kortsluiting veroorsaak is. Wie weet? Of dit sou ook deel van ’n groter, meer sinistere plan teen die huidige regering kon wees, ’n poging om dit hulpeloos te laat voorkom – let wel, nie noodwendig vanuit teen-ANC-regeringskringe nie, maar meer waarskynlik deur magte vanuit die regerende party se eie kringe.
Dié teorie ontstaan uit die wete dat Cyril Ramaphosa, soos ek dit al elders gestel het, sekerlik die eerste president in demokratiese Suid-Afrika is wat met soveel teenstand van sy voorganger te make kry. (Selfs die aandagliefhebbende en vertoonmakerige Donald Trump laat sy opvolger, Joe Biden, in betreklike vrede.) Wat nie noodwendig ’n refleksie is op die leierskap van Ramaphosa nie, hoewel die frustrasie toeneem oor sy “langdradigheid”, sy aandrang daarop om oor min of meer alles eers oorleg te pleeg met belangepartye. Onwillekeurig laat dit hom eerder voorkom as iemand wat nie besluite kan neem nie, standpunt kan inneem nie en nie sy voet kan neersit nie, terwyl hy as die persoon verkies is om die land te lei.
Maar daar is darem steeds genoeg mense wat hom die voordeel van die twyfel gee, en peilings wys dat ongeag hoe sleg dit met sy party gaan, hy nogtans meer steun as enige ander politieke leier onder die meerderheid landsburgers geniet, ongeag watter party hulle steun. Wat in sy guns behoort te tel, is dat hy nie huiwer om die foute van sy party en regering te erken nie. Terselfdertyd – en dit verbaas steeds maar – huiwer hy ook nie om erkenning na verdienste te gee nie, soos nou toe hy sowel die Wes-Kaapse provinsiale regering as die Stad Kaapstad gekomplimenteer het vir hul spoedige reaksie op die parlementêre brand.
Die brand het Suid-Afrikaners aan die praat, tob én koppe stamp oor wat daartoe aanleiding gegee het. Wat daaragter sit. Wie daarvoor verantwoordelik is. Wie dié imposante gebou – wat oorspronklik in 1885 vir die ou Kaapse parlement gebou is en waarvan die uitbreiding in 1984 begin is, ’n jaar ná die Driekamerparlement-apartheidsverkiesing en ’n dekade voor die aanvang van die demokratiese parlement – tot ’n val sou wou bring. Ook oor óf dit nou eintlik saak maak en wát dit saak maak.
Indien die oorsaak van die brand dan nie ’n ongeluk was nie, is dit inderdaad die vermeende, doelbewuste brandstigting wat die staat nou voorhou in die klagstaat teen die 49-jarige Zandile Christmas Mafe van Khayelitsha. Plofstof, voer die staat aan, is wat hy gebruik het om die misdaad te pleeg. In sy besit is ook rekenaars en dokumente gevind, word verder aangevoer.
Nou wat sou Mafe, wat in die hof taamlik bedremmeld (verbouereerd? gedisoriënteerd?) voorgekom het, indien dit tóg hy was wat vir die daad verantwoordelik was, laat besluit het om na die Moederstad te reis om hierdie “aanval op die demokrasie”, soos dit deur sommige geag word, te loods? Kan dit wees dat hy ’n hawelose persoon is wat homself toevallig in die omgewing van ons nasionale wetgewende terrein bevind het? Of is hy soontoe gelok, deel gemaak van ’n bose plan deur sommige wat nog ontmasker moet word? Moeilik om te sê.
Ons weet intussen nou nog nie wie werklik aan die pen moet ry vir Julie verlede jaar se onluste en plundery nie. Slegs een of twee sogenaamde aanstigters van die geweld is sover aangekla. Hulle oortreding: dat hulle sosiale-media-boodskappe geplaas het wat ander sou kon aanhits om by die onluste en geweld betrokke te raak. Wat skort hier? Natuurlik die afwesigheid van enigeen wat vir klagte gelykstaande aan hoogverraad aangekla is, want wat anders is ’n insurreksie? Maar dit is die probleem as ’n regering met ’n gesplete tong praat en ministers (die een verantwoordelik vir die weermag, die ander ’n minister in die presidensie) mekaar blameer oor wie vooraf wat sou geweet het.
En hier is ’n interessante toevalligheid, naamlik dat die voormalige minister van verdediging, Nosiviwe Mapisa-Nqakula, in ’n kabinetsverandering ná die Julie-onluste as speaker van die Nasionale Vergadering “herontplooi” is. Dit is as ’n bespotting beskou van Ramaphosa se belofte van skoon, effektiewe regering met sy bewindsoorname by Zuma einde 2017 (as partyleier), vroeg in 2018 (as staatshoof) én met sy eie verkiesing as president in 2019. Nietemin, ná verlede naweek se gebeure was dit weer eens Mapisa-Nqakula wat haar in die spervuur bevind het: Net soos sy haarself voorheen verontskuldig het van enige blaam vir die weermag se hantering van die Julie 2021-gebeure, was sy ook hierdie keer vinnig uit die wegspringblokke toe vrae geopper is oor die wyse waarop die parlement beveilig word. “I will not take responsibility for anything that you are suggesting,” het sy ’n joernalis tereggewys, “which is that there may be charges fo treason for me as Speaker because Parliament was set alight.”
Toegegee, die beveiliging van die parlement is die primêre verantwoordelikheid van die polisiediens; hoe bekommerd moet ons dus wees wanneer ons deur die Minister van Openbare Werke, onder wie se portefeulje staatseiendom ressorteer, meegedeel word dat die kringtelevisies wel aangeskakel was, maar dat geen polisiewag dit gemonitor het nie?
Sou hulle wel betyds die “indringer” en die brand opgelet het, sou die tragedie (of minstens die omvang daarvan) moontlik voorkom kon gewees het. Nou wag ons vir die uitslag van ’n amptelike ondersoek na die brand en eweneens ook op wat die hofsaak teen die vermeende brandstigter aan die lig sal bring. In só ’n geval in Suid-Afrika hoop ’n mens dat dinge eenvoudiger was – in dié geval duidelik óf ’n ongeluk óf brandstigting. Of dalk nalatigheid.
Maar heel moontlik het die verklaring vir verlede Sondag se brand meer as een kant. Hoe ook al, in enige ander land sou dit as ’n nasionale ramp beskou gewees het wat dringend aandag verg, maar spesifiek ook waar die verantwoordelike politici en staatsamptenare aan wie die bestuur en beveiliging van ’n nasionale sleutelpunt toevertrou word, ten minste tydelik geskors sou gewees het. Dit sou ’n gebaar gewees het van die erns waarmee die Ramaphosa-regering die saak beskou – maar dan is dit ongelukkig so dat Ramaphosa nie ’n baanrekord van dringende optrede het nie. Ook hiervoor, soos met Zuma se ongeërgdheid oor staatskaping, sal ons ’n prys betaal.
Buro: MvH