Waar is Zondo se verslag?

  • 0

Onsekerheid oor die redes waarom die finale verslag van die Zondo-kommissie van ondersoek na staatskaping Maandag vir die soveelste keer uitgestel is, het Suid-Afrikaners aan die gons.

Sosiale media het behoorlik op hol gegaan nadat die sperdatum waarop die verslag oorhandig moes word, die afgelope dae keer op keer uitgestel is sonder enige spesifieke verduideliking waarom.

Die vyfde, en laaste, gedeelte van die verslag sal nou Woensdag aan president Cyril Ramaphosa oorhandig word. Dit moes reeds verlede week oorhandig gewees het, maar is volgens die kommissie uitgestel weens “sekere uitdagings” wat hom verhinder het om die verslag gereed te hê.

Daar is toe gesê dit sou Sondag oorhandig word en toe weer Maandagaand om 18:00 tydens ’n seremonie by die Uniegebou in Pretoria. Die President se woordvoerder, Vincent Magwenya, het Maandag bekend gemaak dat dit wéér uitgestel word.

Dié deel van die verslag bevat glo die kommissie se bevindings oor instellings soos die Staatsveiligheidsagentskap, die SAUK, Prasa, en die Estina-melkplaasprojek by Vrede in die Vrystaat.

Floyd Shivambu van die EFF het op Twitter gesê dit is nou duidelik dat Ramaphosa se “poppe en faksie” die “sogenaamde staatskapingsverslag” kwaadwillig redigeer om die aandag van die “Phala Phala-misdade en boewery” te probeer aflei.

Shivambu sê dit sal boemerang, want daar is veel meer om te openbaar oor Ramaphosa se beweerde kriminele optrede.

Hoofregter Raymond Zondo se voortdurende versuim om die sperdatums wat deur die hof gelas is te haal, het tot grootskaalse bespiegelings en samesweringsteorieë aanleiding gegee op sosiale media.

Magwenya sê die President het Maandagoggend “die tydsberekening van die oorhandiging van die finale kommissieverslag” met Zondo bespreek.

Die verdere vertraging in die vrystelling van die finale verslag na afloop van ’n vergadering tussen Ramaphosa en Zondo Maandag om die tydsberekening van die oorhandiging te bespreek, is verkeerd en diep oneties, het die DA-leier, John Steenhuisen in ’n verklaring gesê.

Steenhuisen sê dit is ’n gevaarlike en onaanvaarbare inmenging in die geregtelike proses wat ’n lang skadu werp oor beide die onafhanklikheid van Suid-Afrika se regbank en die geloofwaardigheid van die Presidensie.

“In ’n tyd wanneer vertroue in die Presidensie op ’n allemintige laagtepunt is, word enige voorstel dat die president moontlik met die onafhanklike werk van die kommissie inmeng of die tydsberekening van die vrystelling van die verslag manipuleer, tereg met agterdog bejeën.”

Steenhuisen sê dit wil voorkom of Ramaphosa die vrystelling van die finale verslag om twee redes probeer uitstel: omdat dit hom direk by staatskaping betrek, en omdat die tydsberekening ongerieflik is gegewe die huidige kontroversie rondom die diefstal van vier miljoen Amerikaanse dollar van sy Phala Phala-plaas in 2020.

Hy het ’n beroep op beide president Ramaphosa en regter Zondo gedoen om die land in hul vertroue te neem en dringend verklarings uit te reik wat die aard van hul vergadering verduidelik, wie dit geïnisieer het en waarom dit toegelaat is om voort te gaan, gegewe die duidelike konflik met die beginsels van onafhanklikheid en geregtigheid.

Intussen bly die land in die duister.

Een van die samesweringsteorieë wat Maandag op sosiale media versprei is, is dat Zondo en Ramaphosa wil seker maak dat vyande van die ANC se huidige leierskap se betrokkenheid by staatskaping duideliker uitgespel word sodat Arthur Fraser, wat tans sy mes in het vir Ramaphosa, aan die pen kan ry.

Daar word vermoed dat Fraser as voormalige direkteur-generaal van die Staatsveiligheidsagentskap (SVA) pertinent in Zondo se laaste verslag genoem word. Een van die onderafdelings in die verslag handel oor die gebeure in die SVA toe Zuma nog president was.

Die SVA en die SAUK is die enigste semistaatsinstellings wat nie in die eerste vier aflewerings van die verslag gedek is nie.

Verskeie aantygings is teen Fraser gemaak, onder andere hoe hy na bewering sy personeel beveel het om ’n sak met R1,5 miljoen aan die destydse minister van wat Staatsveiligheid David Mahlobo, te gee.

  • 0
Verified by MonsterInsights
Top